Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Word jou persoonlikheid deur jou bloedgroep bepaal?

Word jou persoonlikheid deur jou bloedgroep bepaal?

Die Bybel se beskouing

Word jou persoonlikheid deur jou bloedgroep bepaal?

DIT is ’n gewilde gebruik in party lande om te probeer vasstel watter soort persoonlikheid iemand het op grond van sy of haar bloedgroep. In Japan is dit byvoorbeeld redelik algemeen vir iemand om ’n gesprek te begin deur te vra: “Wat is jou bloedgroep?” Voorstanders van hierdie idee beweer dat mense met groep A-bloed kalm, verantwoordelik en agterdogtig is; diegene met groep B-bloed openhartig en humeurig is, asook maklik om die bos gelei kan word; ens. Daar word ook beweer dat dit vir ’n persoon van een bloedgroep dalk moeilik—of maklik—sal wees om met iemand van ’n ander bloedgroep oor die weg te kom.

As gevolg van hierdie opvatting beskou party die bloedgroep waaraan ’n persoon behoort as ’n belangrike faktor wanneer hulle leerlinge op skool groepeer, bestuurders by maatskappye kies of selfs wanneer hulle ’n huweliksmaat kies. Is daar enige bewys dat ons bloedgroep werklik ons persoonlikheid bepaal? Is daar enige Bybelleringe wat lig werp op hierdie saak?

Wat word bedoel met bloedgroep?

The World Book Multimedia Encyclopedia verduidelik: “Die membrane van rooibloedselle bevat proteïene wat antigene genoem word. Meer as 300 rooibloedsel-antigene is al geïdentifiseer.” Terwyl party mense sekere antigene het, het ander dit nie, en party antigene kan nie saam voorkom nie. Gevolglik, soos die ensiklopedie byvoeg, “het wetenskaplikes mensebloed in verskeie groepe geklassifiseer op grond van die aanwesigheid of afwesigheid van sekere antigene”.

Die bloedgroepstelsel wat die algemeenste aanvaar word, is die ABO-stelsel, waarvolgens mensebloed in vier groepe ingedeel word—A, B, AB en O. Daarbenewens word die Rh-stelsel ook algemeen gebruik. Daar is eintlik sowat 20 bekende bloedgroepstelsels. Dit is dus duidelik dat bloed baie kompleks is. Die Encyclopædia Britannica sê: “Die groot verskeidenheid rooibloedsel-antigene maak dit hoogs onwaarskynlik dat enigiemand buiten identiese tweelinge dieselfde bloedgroepsamestelling sal hê.”

Dit impliseer dat almal in werklikheid hulle eie unieke “bloedgroep” het. Daarom lyk dit asof die bewering ongegrond is dat mense wat aan sekere bloedgroepe behoort, karaktertrekke in gemeen het. ’n Hele aantal faktore bepaal klaarblyklik ons persoonlikheid.

Wat bepaal ons persoonlikheid?

“’n Mens se persoonlikheid is daardie gedragseienskappe, ingebore sowel as aangeleer, wat elke individu onderskei”, verduidelik die Encyclopædia Britannica. Ja, benewens wat ons oorgeërf het, is daar ook ander faktore—soos gesinsmilieu, opvoeding, assosiasie en goeie sowel as slegte ondervindinge—wat ons persoonlikheidsontwikkeling beïnvloed. Dit is dus nie net ons genetiese samestelling wat ons persoonlikheid bepaal nie. Selfs identiese tweelinge, wat dieselfde genetiese samestelling het, het dikwels verskillende persoonlikhede.

Nog ’n belangrike faktor is dat ’n mens se persoonlikheid kan verander of verander kan word. Die apostel Paulus het die aandag gevestig op die krag wat Christelike leringe het om mense te verander. Hy het geskryf: “Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af, en beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur juiste kennis vernuwe word na die beeld van die Een wat dit geskep het” (Kolossense 3:9, 10). Christene besef dat hulle sondaars is en oorgeërfde sondige neigings het. Voor hulle God se goedkeuring kon geniet, moes hulle hulle persoonlikheid verander.

Waardeur word sulke veranderinge moontlik gemaak? Dit is die krag van God se woord, of boodskap. Aangaande die sterk invloed van God se woord, wat nou in die Bybel gevind word, het Paulus geskryf: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” (Hebreërs 4:12). Wanneer iemand hom onderwerp aan die invloed van God se gees en volgens die Bybel se sedelike standaarde probeer lewe, kan sy persoonlikheid geleidelik verander. Die Christelike persoonlikheid wat so gevorm word, sluit in “die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid”.—Kolossense 3:12.

Christelike redelikheid

Daar is weliswaar geen Bybelbeginsel wat die studie van bloedgroepe verbied nie. Maar enige verband wat dit dalk met mensegedrag het, is iets heel anders. Soos met alles in die lewe moet ons toelaat dat God se Woord ons voetstappe rig (Psalm 119:105). Redelikheid is ook noodsaaklik.—Filippense 4:5.

Dit sal beslis onredelik wees om jou bloedgroep as ’n verskoning te gebruik om nie persoonlikheidsgebreke reg te stel nie. Ongeag wat ’n Christen se genetiese samestelling is, hy moet aanhou om sy persoonlikheid te vorm sodat hy Jehovah en Jesus se eienskappe so na as moontlik kan weerspieël.—Efesiërs 5:1.

Daarbenewens streef Christene daarna om ander te beskou soos Jehovah hulle beskou. ‘God is nie partydig nie’ (Handelinge 10:34, 35). Jehovah aanvaar met graagte alle soorte mense. Daarom sal dit onredelik en onchristelik wees om sekere mense bloot weens hulle bloedgroep te verstoot of te vermy. Dit geld ook as ’n mens net met diegene assosieer wat met jou bloedgroep “verenigbaar” is. Die Bybel maan: “As julle aanhou om sommige voor te trek, bedryf julle ’n sonde.”—Jakobus 2:9.

Namate die wetenskap en tegnologie vooruitgang maak, is daar baie nuwe bevindings en teorieë oor die menseliggaam. Dit is net natuurlik om deur hierdie idees gefassineer te word. Maar Christene moet toelaat dat die Bybel—nie menslike teorieë nie—hulle denke rig. Op alle lewensterreine moet Christene ‘seker maak van alles’ en ‘vashou aan wat goed is’.—1 Tessalonisense 5:21.