Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Diere—’n Gawe van God

Diere—’n Gawe van God

Diere—’n Gawe van God

WAS jy al ooit by ’n dieretuin of ’n sirkus? Het jy gewens dat jy een van die pragtige diere kon vashou of streel—miskien ’n koninklike leeu of ’n groot Siberiese tier? Jy was dalk beïndruk toe jy sien hoe ’n dieretemmer of ’n bewaarder dit doen. ’n Bybelskrywer het byna 2 000 jaar gelede met reg gesê: “Elke soort wilde dier sowel as voël en kruipende dier en seedier word getem en is al getem deur die mensdom.”—Jakobus 3:7.

Alle soorte diere reageer op liefdevolle sorg en aandag. Dit kan ’n ware genot wees om die interaksie te sien tussen hulle en die mense wat hulle getem het. Die Romeinse skrywer Plinius, wat omtrent dieselfde tyd as die Bybelskrywer Jakobus geskryf het, het gesê dat olifante, leeus, tiers, arende, krokodille, slange en selfs visse getem is.

Diere is eintlik al lank voor daardie tyd getem om as troeteldiere aangehou te word. Lank voordat Jakobus en Plinius geskryf het, het die Egiptenare wilde diere getem en as troeteldiere aangehou. Vandag kan baie diere wat jy in ’n dieretuin sien, op party plekke ook in huise gesien word.

Vroeë verhouding met mense

Die Bybel, die oudste geskrewe verslag van die mensegeskiedenis, sê dat die eerste mens, Adam, die diere name gegee het. “Wat die mens hom, elke lewende siel, ook al genoem het,” sê die Bybel, “dit was sy naam. So het die mens dan name gegee aan al die mak diere en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld” (Genesis 2:19, 20). Adam moes ongetwyfeld die diere deeglik bestudeer het sodat hy hulle gepaste name kon gee. Maar hy het geen beskerming nodig gehad nie—nie eens teen die wilde diere nie. Hulle het in vrede met hom geleef, en hoe genotvol moes hulle geselskap tog vir hom gewees het!

God het Adam sowel as sy vrou, Eva, die taak opgelê om vir die diere te sorg. Volgens God se voorneme wat in die Bybel geopenbaar is, moes “die visse van die see en die voëls van die hemel en die mak diere en die hele aarde en al die kruipende diere wat op die aarde kruip, aan [die mens] onderworpe wees”.—Genesis 1:26.

’n Blywende hegte verhouding

Wanneer mense behoorlike gesag oor diere uitoefen, kan dit ’n hartverblydende uitwerking hê. ’n Geliefde dier kan as ’n kosbare metgesel beskou word, selfs as deel van die gesin. Die feit dat dit duisende jare gelede die geval was, kan gesien word uit die verslag in die Bybel oor ’n arm man se “een ooilam, ’n kleintjie”. Die profeet Natan het koning Dawid van die lam vertel en aangaande die arm man gesê: “[Die lam] het van sy stukkie voedsel geëet en uit sy beker gedrink en in sy boesem gelê, en dit was vir hom soos ’n dogter.”2 Samuel 12:1-3.

Vandag kan baie mense begryp hoe ’n dier ’n geliefde metgesel, soos ’n lid van die gesin, kan word. Beskou byvoorbeeld ’n gesin wat naby Harare, die hoofstad van Zimbabwe, woon. Die ouers het vir elkeen van hulle kinders ’n hond as metgesel gekoop. Toe een van die seuns, wat destyds omtrent agt was, met sy hond gaan stap het, het ’n groot mamba skielik uit ’n boom voor hom op die grond geval. Die mamba het hom aangeval, maar die hond het blitsvinnig gereageer en die kind se lewe gered. Kan jy jou voorstel hoeveel die gesin daardie hond waardeer het?

Dowes het ook groot waardering vir honde wat opgelei is om hulle te help. Een vrou sê: “Twinkie hoor die deurklokkie en kom tik dan teen my been en lei my na die voordeur. En wanneer sy die alarm van my oond se tydskakelaar hoor, hardloop sy na my toe, en dan volg ek haar. As die rook- of brandalarm sou afgaan, is Twinkie opgelei om my aandag te trek en dan plat te gaan lê om te wys dat daar moontlik gevaar is.”

Die verhouding tussen blindes en hulle gidshonde is besonder merkwaardig. Die gidshondafrigter Michael Tucker, skrywer van The Eyes That Lead, meen dat ’n gidshond ’n hele nuwe wêreld vir blindes toeganklik kan maak en hulle “vryheid, onafhanklikheid, beweeglikheid en geselskap” kan gee. Dit is dikwels ’n ware genot om te sien watter hegte vriendskap tussen hierdie honde en hulle eienaars bestaan!

Dit is ook die geval met mense wat op ander maniere gestremd is en ’n hond as metgesel het. ’n Vrou wat aan ’n rolstoel gekluister is, se hond is geleer om haar telefoon op te tel en om posseëls te lek! ’n Ander hond reageer op 120 bevele en kan selfs blikkies en pakkies van supermarkrakke afhaal. Die gestremde eienaar gebruik ’n laserliggie om te wys watter artikels hy gekies het, en sy hond bring dit dan vir hom.

Bejaardes vind ook by troeteldiere baat. ’n Veearts sê dat troeteldiere, insluitende honde, “’n doel en sin aan die lewe kan gee op ’n tyd wanneer bejaardes dikwels van die gemeenskap vervreemd is”. The Toronto Star het berig: “Geselskapsdiere word verbind met verlaagde spanning, minder doktersbesoeke en selfs ’n beter oorlewingsyfer ná ’n hartaanval.”

The New Encyclopædia Britannica maak hierdie interessante opmerking: “Troeteldiere bied ’n mens die geleentheid om kinders die noue verband tussen voorreg en verantwoordelikheid te leer, asook iets oor seks. Paring word gou opgemerk, gevolg deur dinge soos draagtye en die verskeidenheid probleme wat by die geboorte en versorging van die kleintjies betrokke is.”

Gehegtheid aan troeteldiere

Die merkwaardige getrouheid van diere lei in werklikheid daartoe dat sommige mense liewer is vir hulle troeteldiere as vir familielede. In egskeidingsake maak toesig oor ’n troeteldier soms deel uit van die ooreenkoms in eiendomsgeskille. En mense het al ontsaglike rykdom in hulle testament aan hulle troeteldiere bemaak.

Dit is geen wonder dat die troeteldierbedryf vandag so winsgewend is nie! Daar is boeke en tydskrifte wat raad gee oor elke saak wat met troeteldiere verband hou. Omdat sakeondernemings besef dat party troeteldiereienaars gewillig is om buitensporige luukshede vir hulle troeteldiere te koop, bied hulle alles aan wat die troeteldiereienaars wil hê.

Daar is byvoorbeeld hoogs gespesialiseerde dokters wat allerlei troeteldierkwale behandel. Daar is troeteldierpsigiaters wat ’n antidepressant vir ’n troeteldier sal voorskryf. Verder is daar ook troeteldierprokureurs en -versekeringsagente sowel as troeteldiersalonne en -afrigtingsentrums. Begrafnisdienste word vir troeteldiere gehou. En daar word aangebied om troeteldiere te kloon—maar natuurlik net as jy bereid is om te betaal!

Dit is duidelik dat liefde vir troeteldiere iets algemeens is. In haar boek The Animal Attraction maak dr. Jonica Newby die gevolgtrekking: “Wanneer ’n hond na ons toe aangehardloop kom, sy stert swaai en ons lek asof ons tuiskoms die beste ding is wat nog die hele dag met hom gebeur het, kan ons dit seker ‘liefde’ noem.” Dit is dus verstaanbaar waarom baie troeteldiereienaars beweeg word om daardie “liefde” te beantwoord.

Maar pogings om troeteldiere te vermenslik, kan ook ’n nadelige kant hê. ’n Troeteldier kan immers nie in ’n mens se behoeftes voorsien soos ander mense kan nie. Wat meer is, die verstedeliking van troeteldiere—dit wil sê hulle aanpassing by stedelike omgewings—veroorsaak probleme vir sommige troeteldiere en hulle eienaars. Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

[Prent op bladsy 3]

Wilde diere word al lank getem

[Erkenning]

A detail from The Great King of the Parthians Hunts With His Tame Panthers by Giovanni Stradanno: © Stapleton Collection/CORBIS

[Prent op bladsy 4]

Israelitiese herders het lammers met tere sorg behandel

[Prente op bladsy 5]

Troeteldiere kan gestremdes en bejaardes help