Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Kleiner produkte

“In ’n era van supergroottes en sportnutsvoertuie word party produkte eintlik kleiner”, berig die tydskrif Time. “Vervaardigers verminder stilweg die inhoud van hulle verpakte produkte—van jogurt en roomys tot wasgoedseep en babadoeke—en dikwels bring hulle nie die pryse dienooreenkomstig af nie.” Dit is nie ’n nuwe taktiek nie, maar as gevolg van die verslegtende ekonomie sowel as verbruikers wat versigtiger en meer spaarsaam is, verklein baie vervaardigers hulle produkte nou selfs drastieser om hulle winsgrens te behou. Die meeste kopers kom nie agter dat die gewig of mate met ’n paar gram of meter verander het nie, en gevolglik bestee klante meer aan minder. “Verbruikers besef glad nie dat hulle elke keer die netto gewig of netto hoeveelheid moet nagaan as hulle iets koop nie”, sê Edgar Dworsky, stigter van ’n verbruikerswebwerf. “Dit is die beste soort verbruikersbedrog—wanneer hulle nie weet dat hulle gekul is nie.”

Seep red lewens

Volgens Val Curtis, ’n lektor aan die Londense Kollege van Higiëne en Tropiese Geneeskunde, kan ’n miljoen lewens elke jaar gered word as mense eenvoudig hulle hande was, want dit sal help om te voorkom dat hulle diarreale siektes kry. By die Derde Wêreldforum oor Water, wat in Kioto, Japan, gehou is, het Curtis die patogene in menseafval as “die grootste openbare gesondheidsgevaar” beskryf, berig The Daily Yomiuri. “In party gemeenskappe”, berig die koerant, “is dit gebruiklik vir vroue om hulle kleuters te was nadat hulle die toilet gebruik het en dan kos voor te berei sonder om hulle eie hande te was.” As jy jou hande met seep en water was, kan dit die verspreiding van dodelike virusse en bakterieë verhoed. En volgens Curtis sal dit in ontwikkelende lande drie keer meer koste-effektief wees as mense hulle hande met seep was as wat dit sou wees om die gehalte van die water te verbeter om die gevaar van diarreale siektes te verminder.

Die Alpynse weg

Die Alpynse weg, ’n reeks voetslaanpaaie, is onlangs in 2002 in Europa ingewy. “Die Alpynse weg gee voetslaners die geleentheid om 5 000 kilometer (3 100 myl) van die asemrowendste plattelandse gebiede in Europa te geniet, terwyl hulle met tradisionele paadjies langs loop”, sê The Independent van Londen. Die wandelpad, wat agt Alpynse lande verbind, begin op seevlak in Triëst, langs Italië se noordoostelike kus, en eindig weer op seevlak, in Monte Carlo, Monaco. Dit kronkel geleidelik tussen die berge op tot ’n maksimum hoogte van 3 000 meter en loop om die hoogste pieke. Die goed gekose paadjies is “naby die beroemdste plekke van natuurlike en kulturele belang”, beweer die Franse toeristeorganisasie La Grande Traversée des Alpes. Daar word verwag dat min voetslaners die hele wandelpad sal voltooi. Volgens die koerant “kan jy die gesin bring; ’n paar kilometer loop en dan huis toe gaan. Maar die Alpynse weg bied nuwe moontlikhede aan diegene wat op soek is na gesonde, vreedsame, ontvlugtingsvakansies nie ver van die huis af nie.” Voetslaners kan by enige van die 300 hotelle, herberge of rusoorde in die berge oornag.

Oseaanspesies aan die verdwyn

Volgens die mariene bioloë dr. Ransom Myers van die Dalhousie-universiteit in Halifax en dr. Boris Worm van die Instituut vir Mariene Wetenskap in Kiel, Duitsland, is die wêreld se oseane nie meer ’n onverkende gebied met groot bevolkings ongevangde visse nie. Hulle sê dat oseaanspesies een vir een uitsterf, ’n verskynsel wat aangehelp word deur die vooruitgang in satelliet- en sonartegnologie, wat deur vissersvlote gebruik word om vis op te spoor. Soos daar in The Globe and Mail van Toronto berig word, “is elke spesie van groot vis in die natuur oor die laaste 50 jaar so sistematies gevang dat 90 persent van elke spesie verdwyn het”. Dr. Myers is van mening dat die verlies van hierdie vis, sowel as die mees gesogte eetvisse, soos tuna, kabeljou, heilbot, marlyn en swaardvis, ’n verreikende uitwerking op die ekosisteem van die wêreld se oseane sal hê. Dr. Worm voeg by: “Ons peuter met die lewensondersteuningstelsel van die planeet en dit is nie ’n goeie ding nie.”

Malaria versterk sy greep op Afrika

Malaria eis “elke dag die lewe van 3 000 kinders in Afrika”, sê die Franse koerant Le Figaro. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is daar jaarliks meer as 300 miljoen akute gevalle van malariabesmetting in Afrika, wat tot die dood van ten minste eenmiljoen mense lei. In die jaar 2000 het Burundi onder een van die ergste malaria-epidemies tot nog toe deurgeloop. Binne sewe maande is die helfte van die land se bevolking—sowat 3,5 miljoen mense—besmet. Die probleem is dat parasiete wat teen geneesmiddels bestand is, die kinienbehandelings ondoeltreffend gemaak het. Baie Afrikalande, wat die hoë koste daarvan vrees, weier om kinien te vervang met nuwer antimalariamiddels wat van Artemisia annua, ’n Chinese plant, verkry word. Gevolglik “versterk malaria net sy greep op Afrika”, het een WGO-amptenaar gesê.

Latyn word aan die lewe gehou

Hoewel baie mense Latyn as ’n dooie taal beskou, probeer die Vatikaan om dit lewend en modern te hou. Waarom? Want hoewel Italiaans die taal is wat deur die Vatikaan gebruik word, is Latyn hulle amptelike taal en word dit nog steeds in omsendbriewe en ander dokumente gebruik. Die gebruik van Latyn het in die 1970’s ernstig afgeneem nadat daar aangekondig is dat die mis in plaaslike tale gevier kon word. Dit was toe dat pous Paulus VI die Stigting vir Latyn in die lewe geroep het om die taal lewend te hou. Een van die stappe wat geneem is, is om ’n Latyns-Italiaanse woordeboek in twee aparte dele te druk, waarvan al die voorraad verkoop is. Nou is daar ’n nuwe gekombineerde uitgawe gedruk, wat R825 sal kos. Dit bevat omtrent 15 000 gemoderniseerde Latynse terme, soos “escariorum lavator” (skottelgoedwasser). ’n Nuwe deel “word binne twee of drie jaar verwag”, sê The New York Times. In die meeste gevalle sal woorde “uit die rekenaar- en inligtingsveld” bygevoeg word.

Onverstaanbare verduidelikings

“Pasiënte vergeet tot 80 persent van wat die dokter vir hulle sê wanneer hulle in die hospitaal is, en amper die helfte van wat hulle onthou, is verkeerd”, berig die wetenskapsnuusbrief wissenschaft.de oor ’n studie wat in verskeie lande gedoen is. Volgens Roy Kessels, ’n navorser aan die Universiteit van Utrecht in Nederland, is die hoofredes vir vergeetagtigheid hoë ouderdom, vooropgesette menings, spanning en ’n gebrek aan visuele verduidelikings. Om pasiënte te help om noodsaaklike inligting te onthou, word dokters aangeraai om duidelik te praat en nie dubbelsinnig te wees nie, om die belangrikste inligting eerste te noem en om visuele hulpmiddele, soos X-strale, te gebruik.