Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Telefoonseks—Is dit regtig so verkeerd?

Telefoonseks—Is dit regtig so verkeerd?

Jongmense vra . . . 

Telefoonseks—Is dit regtig so verkeerd?

“TELEFOONSEKS”, sê een bekende Amerikaanse tydskrif, “het die plek van die liefdesbrief ingeneem as die gewildste vorm van romantiese kommunikasie tussen paartjies wat nie bymekaar is nie.”

Wat is telefoonseks? Dit is wanneer ’n mens oor die telefoon aan eksplisiete, erotiese gesprekke deelneem. a Diegene wat by sulke gesprekke betrokke raak, masturbeer dikwels om hulle seksuele opwekking te verlig. Hetsy diegene wat aan hierdie onwelvoeglike praatjies deelneem, paartjies is wat mekaar die hof maak of vreemdelinge is, telefoonseks is onrusbarend gewild. Trouens, party bevorder dit openlik.

“Dit is die veiligste seks wat daar is”, sê een vrou. Blykbaar stem baie met haar saam. Byvoorbeeld, in Oktober 2000 het ’n groep Russiese gesondheidsdeskundiges, in reaksie op ’n toename in MIV-infeksies, advertensies in koerante geplaas om telefoonseks te bevorder.

Ander mense bevorder telefoonseks egter eenvoudig met die doel om geld te maak. Telefoonseksdienste—waar mense betaal om na onwelvoeglikhede te luister—het in die Verenigde State alleen ’n bedryf met ’n omset van miljarde rande geword.

Maar waarom het hierdie gebruik so gewild geword? Die boek The Fantasy Factory stel dit so: “Intieme fisiese en emosionele kontak is gevaarlik. Daar is die fisiese gevare van seksueel oordraagbare siektes, die gevaar om jou persoonlike/professionele beeld skade te berokken, die vrees om deur ander veroordeel te word en die nagevolge van ‘abnormale’ begeertes. Telefoonseks verminder die risiko.”

Telefoonseks behels weliswaar nie fisiese kontak met ’n ander persoon nie. Maar beteken dit dat daar niks mee verkeerd is nie of dat daar geen gevare of risiko’s aan verbonde is nie?

Is telefoonseks onskadelik?

Seksuele begeertes is besonder sterk wanneer ’n mens jonk is. Die Bybel noem hierdie tydperk wanneer seksuele begeertes op hulle sterkste is “die bloei van die jeug” (1 Korintiërs 7:36). Gedurende hierdie kritieke tyd in die lewe moet ’n jong Christen leer om “in heiliging en eer sy eie vat in besit te kry” (1 Tessalonisense 4:4). Met ander woorde, jy moet leer om jou seksuele begeertes te beheers. Dit is noodsaaklik as jy ’n heilsame, gebalanseerde beskouing van seks wil hê.

Telefoonseks leer ’n mens egter om jou aan jou seksuele drange oor te gee, nie om dit te beheers nie. Boonop bevorder dit ’n vernederende, verwronge beskouing van die teenoorgestelde geslag. Die Bybel leer dat seksuele intimiteit net binne die huweliksreëling geniet mag word (Hebreërs 13:4). Maar telefoonseks moedig jongmense aan om seksuele genot buite die huwelik te ondervind. Die Bybel leer dat dit ware geluk bring as jy gee—nie ontvang nie (Handelinge 20:35). Maar telefoonseks leer ’n mens om ander vir jou eie selfsugtige bevrediging te gebruik. Die Bybel leer getroude paartjies om ware intimiteit te ontwikkel deur wedersydse liefde en vertroue aan te kweek (Efesiërs 5:22, 33). Telefoonseks bevorder egter kille onverskilligheid en naamloosheid.

’n Skadelike verslawing

Antieke Korinte was bekend as ’n stad waarin onsedelikheid aan die orde van die dag was. Die apostel Paulus het dus met goeie rede aan die Christene daar geskryf: “Ek is bang dat, soos die slang Eva deur sy listigheid verlei het, julle verstande op die een of ander wyse verderf sal word, weg van die opregtheid en die kuisheid wat die Christus toekom” (2 Korintiërs 11:3). Telefoonseks is een van die strikke wat Satan die Duiwel vandag gebruik om jongmense te verderf.

Vir party jongmense het dit ’n onbeheerbare verslawing geword om telefoonsekslyne te skakel. Die voorbeeld van een jong man wat ons Jim sal noem, lig toe hoe “verslaaf” party kan raak. Jim het die nommer van ’n telefoonsekslyn op ’n reklamebord gesien. Hy het die nommer gememoriseer en dit later uit nuuskierigheid geskakel. Hy het die nommer al hoe meer gebel. Voor hy sy oë kon uitvee, het hy ’n telefoonrekening van R4 300 gehad!

Om seksuele begeertes te stimuleer terwyl jy nog ongetroud is, is in stryd met die raad in God se Woord. Dit moedig ons aan: “Maak dan dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif.”—Kolossense 3:5.

Die gevare tydens hofmakery

Wat van jong volwassenes wat mekaar ernstig die hof maak? Dit is net natuurlik vir mense wat verlief is om vir mekaar te wil sê hoe hulle oor mekaar voel. In Bybeltye het een godvresende jong vrou van haar verloofde gesê: “Ek is my beminde s’n, en na my hunker hy” (Hooglied 7:10). Dit is reg en gepas dat ’n verloofde paartjie sekere intieme sake bespreek namate die huweliksdag nader kom. Maar is telefoonseks ’n veilige manier om aan romantiese gevoelens uiting te gee?

Nee. Dit is uiters belangrik dat selfs verloofde paartjies die apostel Paulus se raad volg: “Laat hoerery en elke soort onreinheid of hebsug nie eens onder julle genoem word nie, net soos dit heilige mense betaam; ook nie skandelike gedrag of dwase praatjies of onwelvoeglike skertsery nie, dinge wat nie betaamlik is nie, maar eerder danksegging. Want julle weet dit, en julle besef dit self, dat geen hoereerder of onreine of gierigaard—wat beteken om ’n afgodedienaar te wees—enige erfenis in die koninkryk van die Christus en van God het nie.”—Efesiërs 5:3-5; Kolossense 3:8.

Intieme gesprekke wat doelbewus onsedelike gedagtes opwek of wat tot masturbasie lei, is beslis onrein in Jehovah se oë. En dit kan tot selfs ernstiger skendings van goddelike beginsels lei. Een paartjie het byvoorbeeld ver van mekaar af gewoon terwyl hulle mekaar die hof gemaak het. In die begin het hulle mekaar deur hulle gereelde telefoongesprekke leer ken. Maar kort voor lank het hulle oor onsedelike dinge begin praat. Hulle gesprekke het al hoe eksplisieter geword. Dit is dus nie verbasend nie dat hulle hulle gou aan onrein gedrag skuldig gemaak het toe hulle omstandighede hulle uiteindelik toegelaat het om bymekaar te wees.

Almal van ons wat God wil behaag, wil sekerlik alles in ons vermoë doen om nie in die strik van telefoonseks te trap nie. Hoe kan ons daarin slaag om dit te vermy?

‘Kasty jou liggaam’

Telefoonseks kan verslawend raak. Ons moet ‘ons liggaam kasty en dit as ’n slaaf lei’ as ons Jehovah se goedkeuring wil verkry (1 Korintiërs 9:27). As jy jou tans aan telefoonseks skuldig maak, moet jy hulp kry. Dit sal ’n goeie begin wees as jy jou Christenouers vertel. Ja, hulle sal heel moontlik ontsteld wees. Maar hulle is moontlik ook in die beste posisie om jou gedrag te help monitor sodat jy dit nie weer doen nie. Die ouer manne in die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies sal ook gewillig en in staat wees om jou te help.

As jy iemand die hof maak, moet jy vasbeslote wees om kuis te bly, selfs wanneer jy oor die telefoon praat. Leticia, ’n verloofde Christenvrou, sê: “Ek en my verloofde het Bybelse artikels oor hoe om kuis te bly, saam deurgelees. Ons is dankbaar vir die manier waarop dit ons gehelp het om ’n skoon gewete te behou.” Jy moet die moed hê om die onderwerp te verander as julle oor suggestiewe dinge begin praat. Gesels met mekaar oor die noodsaaklikheid daarvan om julle gesprekke skoon te hou.

In party lande is daar laat in die aand advertensies vir telefoonseks op die televisie. Miskien sal dit die beste vir jou wees om eenvoudig nie laat in die aand TV te kyk nie. Aangesien masturbasie ook onsedelike gedagtes sal opwek, pleks van dit dood te maak, is dit noodsaaklik dat jy hierdie onrein gewoonte vermy. b Jy kan onrein gedagtes uit jou verstand kry deur aan heilsame dinge te dink (Filippense 4:8). Omring jou met vriende wat heilsame spraak gebruik en lees God se Woord en Christelike publikasies elke dag om jou voorneme te versterk. Só sal jy geen ruimte laat vir onsedelike fantasieë om in jou denke in te sypel en dit te verderf nie. Bid bowenal tot God vir hulp. Die apostel Petrus het geskryf: ‘Werp al julle sorge op hom, want hy sorg vir julle.’—1 Petrus 5:6, 7.

“Daar is baie groot druk op jongmense om by ongeoorloofde seks betrokke te raak”, sê ’n jong Christenmeisie van Brasilië. Maar Jehovah weet voor watter uitdagings jy te staan kom. Wees verseker dat hy jou al die hulp sal gee wat jy nodig het om rein in sy oë te bly.—Efesiërs 6:14-18.

[Voetnote]

a ’n Soortgelyke euwel, wat soms kuberseks genoem word, is erotiese gesprekke in Internetkletskamers.

b Sien gerus die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, bladsye 198-211, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir wenke om masturbasie te oorkom.

[Prente op bladsy 20, 21]

Telefoonseks sowel as kuberseks word al hoe gewilder

[Prente op bladsy 20, 21]

Paartjies wat mekaar die hof maak, moet teen onrein gesprekke waak

[Prent op bladsy 22]

Jy kan jou voorneme versterk om kuis te bly deur God se Woord en Christelike publikasies te lees