Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Reënwoude Ek het julle reeks “Reënwoude—Wie sal dit red?” (22 Junie 2003) met groot belangstelling gelees. Ek is nie verbaas dat julle die aandag op die Suid-Amerikaanse reënwoud gevestig het nie. Aangesien die reënwoude in Afrika en Asië in ’n baie erger toestand is, kan die mens ten minste sy gesindheid teenoor die reënwoude in Suid-Amerika verander. Ek sien gretig uit na die tyd wanneer God sal ingryp en ’n einde aan die vernietiging van woude op ons aarde sal maak sodat sy skeppingswerke tot hulle oorspronklike glorie herstel sal word.

G. R., Switserland

Baie dankie vir hierdie reeks. Ek doen nou al ’n geruime tyd navorsing oor onderwerpe wat met die omgewing verband hou, en gevolglik het my koop- en herwinningsgewoontes verander. Ek word hartseer as ek dink aan die plantegroei wat vernietig word en die diere wat weens die mens se hebsug verdryf of doodgemaak word. Die wete dat die Skepper bewus is van wat aangaan en binnekort veranderinge sal aanbring, gee my vertroosting en hoop. Dankie dat julle sulke pragtige artikels publiseer.

V. T., Kanada

Ek is lief vir die natuur, en ek is al jare lank besorg oor die lot van die reënwoude. Ek is bly om te sien dat Jehovah se Getuies vir God se skepping omgee. En dit is vir my ’n verligting om te weet dat die reënwoude eendag veilig sal wees.

T. H., Verenigde State

Tragedie Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek ’n tragedie verwerk?” (22 Junie 2003). Nadat ek hierdie artikel gelees het, het ek gevoel dat Jehovah my gehelp het met ’n probleem waarmee ek al jare lank sukkel. As ’n Christen verstaan ek dat hierdie ‘laaste dae moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Maar elke keer as ek ’n skrikwekkende nuusberig op die televisie gesien het, het dit my hart ontstel. Ek het regtig mismoedig geraak—tot die mate dat ek geen energie meer gehad het nie en soms by die huis gebly het pleks van in die bediening uit te gaan. Ek het my bekommer oor dinge wat dalk in die toekoms sal gebeur of nie sal gebeur nie. Maar hierdie artikel het my laat onthou hoe belangrik dit is om in ons geestelike roetine te volhard en ons hart voor Jehovah uit te stort en ten volle op hom te vertrou. Ek bedank julle uit die diepte van my hart vir julle publikasies.

E. K., Japan

My oupa is in Januarie 2003 in die hospitaal oorlede. Dit was die eerste keer dat ek ’n familielid sien sterf het. Hierdie artikel het die antwoorde op my vrae gehad. Veral die tussenhofie “Waarom slegte dinge gebeur” het my hart geraak. Dit het my help verstaan dat hierdie dinge weens ’n onvoorsiene gebeurtenis met my familie gebeur het. Dit het nie beteken dat Jehovah ons verlaat het nie. Nadat ek die artikel gelees het, het die vrees wat swaar op my hart gedruk het, verdwyn.

M. O., Japan

Geestelike dors Die artikel “Hoe my geestelike dors geles is” (22 Junie 2003) het my tot trane beweeg. Ek het in ’n Katolieke huis grootgeword en was agt jaar lank in ’n Katolieke skool. Hoewel ons nooit by die skool of by die mis uit die Bybel gelees het nie, het ek altyd ’n waardering vir die Bybel gehad en het ek my Bybel elke aand gelees. Soos Lucia Moussanett het ek ’n begeerte gehad om die dinge te doen wat ek in die Bybel geleer het, maar ek het nie geweet hoe nie. Toe ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het dit my geestelik bevredig. Baie dankie vir sulke roerende verhale!

K. F., Verenigde State