’n Buiteluguitstalling van houthuise
’n Buiteluguitstalling van houthuise
Deur Ontwaak!-medewerker in Slowakye
IN SOMMIGE lande word die geskiedenis en prag van huise uit die verlede sorgvuldig in opelugmuseums bewaar. Hierdie museums is buitelugversamelings van tradisionele geboue wat op een plek bymekaargebring is om die hedendaagse geslag met die lewenswyse en kunssmaak van hulle voorouers vertroud te maak.
Kom ons besoek ’n uitstekende voorbeeld van ’n opelugmuseum, wat in die hartjie van Europa in die Orava-streek van Noord-Slowakye geleë is.
Die Orava-museumdorp
Die Orava-opelugmuseum in Zuberec is ’n lewensgrootte, driedimensionele beeld van hierdie streek se geskiedenis. Die museum is in 1967 gestig en bestaan onder andere uit 74 huise wat van nabygeleë dorpies en plase asook van afgeleë, verlate nedersettings kom. Al hierdie geboue is in stukke na die terrein gebring en weer sorgvuldig aanmekaargesit.
Hier kan ons 11 volledige groepe huise besigtig wat verteenwoordigend is van die huise van die vooraanstaande sowel as die gewone mense van Orava—burgemeesters, edelmanne, boere, plaaswerkers en ambagsmanne. Aangesien die meeste inwoners van Orava eeue lank landbouers asook bees- en skaapboere was, is plaasgeboue goed verteenwoordig. Dit sluit hooisolders, ’n dorsvloer, melkskure en ’n herdershuisie en skaapkraal in, sowel as graanskure en bergplekke wat van hout gemaak is. Ons vind ook ’n byekorf, tradisionele handgemaakte gereedskap, ’n kloktoring en ’n houtkerk met ’n nagemaakte begraafplaas en al!
Wanneer ons in die huise inloer, sien ons dat ’n tipiese Orava-huis uit vier vertrekke bestaan het—’n voorkamer, ’n ingangsportaal, ’n kombuis en ’n agterkamertjie. Daar was moontlik ook ’n lae kelder wat met plat klippe uitgelê is. Die huise is van gesnede hout gemaak en die deel om die vensters en deure is dikwels wit geverf. Die dakke en die kunstig ontwerpte gewels is met spane of planke bedek. Die woonkamer het partykeer ’n kleivloer gehad, maar selfs dan was die mure soms afgewit of met glad afgewerkte natuurlike houtpanele bedek. Kos is oor ’n oop vuur in die kombuis gaargemaak, en die rook het deur ’n skoorsteen ontsnap. Die hitte van die kombuis het tot in die woonkamer versprei.
Hulle het saam gewerk en saam gespeel
Die ontwerp van hierdie houtgeboue lewer tasbare bewys van die sterk band wat tussen opeenvolgende geslagte en in die gemeenskap bestaan het. Huise en dorpies is georganiseer om samewerking te vergemaklik. Trouens, dit sou so te sê onmoontlik gewees het om die moeilike toestande in hierdie bergagtige streek te oorleef as daar nie noue samewerking tussen mense was nie. Gesinne en bure het saam gewerk om beeste, skape en ganse na weivelde aan te jaag, en die hele dorpie het saamgespan om die oeste in te samel en hulle plaasprodukte mark toe te neem. Die gemeenskap het ook die weivelde en die grondpaaie in stand gehou.
Ten spyte van die harde werk was die lewe in die dorpies oor die algemeen aangenaam, veral gedurende oestyd. Goeie melkproduksie en die geboorte van kalfies en lammetjies het groot vreugde tot gevolg gehad. By sulke geleenthede het die heuwels weergalm van sang en volksliedjies—wat in harmonie gesing en deur ’n fluit, mondfluitjie of trekklavier begelei is. In die winter het meisies en getroude vroue bymekaargekom om gansvere vir kussings en veredekens
te pluk. Die mans het stories vertel terwyl hulle gewerk het, en aan die einde van die dag het almal bymekaargekom om te dans. In party plekke in hierdie streek is daar vandag nog sulke tradisies.’n Kykie op die verlede
Die bedrewe ambagsmanne wat hierdie pragtige ou houtgeboue opgerig het, het hulle ontwerpe op boubeginsels en vloerplanne gegrond wat van geslag tot geslag oorgelewer is. In die ontwerpe is daar doeltreffend gebruik gemaak van plaaslike boumateriaal. Daarbenewens lewer die manier waarop die geboue in hulle omgewing inpas, duidelike bewys van praktiese wysheid en kunssinnigheid. Die bouers het hulle beslis met hart en siel op hulle werk toegelê.
Die wêreldberoemde argitek Ludwig Mies van der Rohe het gesê: “Elke hou van die byl is vol betekenis en elke kerf van die beitel vol gevoel. . . . Die kundigheid van hele geslagte lê hier opgesluit. Hoe goed het die bouers tog hulle materiaal geken en watter intense gevoelens word tog deur hierdie geboue oorgedra! Hoe wonderlik en pragtig is hulle tog! Amper soos die eggo van liedere uit vervloë tye!”
Wanneer ons stilstaan om die argitektuur in hierdie opelugmuseum te bewonder, probeer ons ons ook voorstel hoe die mense wat in hierdie geboue gewoon het, hulle daaglikse take verrig het. Ons hoop dat ons ’n bietjie van die kalmte van hierdie rustiger lewe saam met ons na ons gejaagde moderne wêreld kan neem.
[Kaart op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Zuberec
[Prente op bladsy 15]
(1) Houthuise; (2) binnekant; (3) inwoners speel musiek en dans in hulle tradisionele uitrustings