Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Toets van geloof

’n Toets van geloof

’n Toets van geloof

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GROOT-BRITTANJE

RICHMOND is ’n skilderagtige dorp in Noord-Yorkshire, Engeland. Sy kasteel, wat net ná die Normandiese verowering in 1066 gebou is, bied ’n indrukwekkende uitsig oor die vallei van die Swalerivier wat na die Yorkshire Dales- Nasionale Park lei.

Die dokumentêre televisieprogram The Richmond Sixteen het ’n belangrike deel van die kasteel se moderne geskiedenis bekend gemaak—die lot van 16 gewetensbeswaardes wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog daar gevange gehou is. Wat het met hulle gebeur?

Diensplig

Ná Brittanje se oorlogsverklaring in 1914 is ongeveer 2,5 miljoen mans deur patriotisme aangedryf om by die weermag aan te sluit. Maar aangesien al hoe meer soldate in die oorlog gesneuwel het en daar besef is dat die oorlog nie so gou sou ophou soos die politici belowe het nie, het “werwing minder ’n saak van oorreding en meer ’n saak van dwang geword”, sê Alan Lloyd, ’n oorlogsgeskiedkundige. In Maart 1916 is ongetroude mans vir die eerste keer in die Britse geskiedenis vir militêre diens opgeroep.

Tweeduisend tribunale is saamgestel om die appèlle aan te hoor, maar baie min van diegene wat op grond van hulle gewete beswaar gemaak het, is heeltemal vrygestel. Die meeste gewetensbeswaardes is beveel om by nie-vegtende eenhede aan te sluit, wat tot stand gebring is om die oorlogspoging te ondersteun. Diegene wat geweier het om daarby aan te sluit, is nog steeds as dienspligtiges beskou en is voor ’n krygsraad gedaag. Hulle is wreed behandel en dikwels in haglike, beknopte toestande opgesluit.

Die Richmond-sestien

Onder die Richmond-sestien was daar vyf Internasionale Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Herbert Senior, wat in 1905 op 15-jarige ouderdom ’n Bybelstudent geword het, het ongeveer 50 jaar later geskryf: “Ons is in selle gesit wat meer soos kerkers was. Dit is waarskynlik jare lank nie gebruik nie, want die vullis het [vyf tot sewe sentimeter] diep op die vloer gelê.” Graffiti en skrif, nou verbleik en plek-plek onleesbaar, wat gevangenes op hulle wit selmure geteken en geskryf het, is onlangs bekend gemaak. Dit sluit name, boodskappe en tekeninge van geliefdes in, sowel as geloofsverklarings.

Een gevangene het bloot geskryf: “Ek sal liewer sterf ter wille van ’n beginsel as omdat ek geen beginsels het nie.” Baie van die boodskappe sluit verwysings na Jesus Christus en sy leringe in, en daar is ook netjies getekende weergawes van die kruis-en-kroon-kenteken wat destyds deur die Internasionale Bybelstudente-vereniging (IBSA) gebruik is. Herbert Senior sê dat hy die “Chart of the Ages” uit die Bybelstudiehulp The Divine Plan of the Ages op sy selmuur geteken het, maar dit is nog nie gevind nie. Dit het moontlik verlore gegaan soos ander skrif op mure in die hoofselblok of elders. ’n Ander inskripsie sê: ‘Clarence Hall, Leeds, I.B.S.A. 29 Mei 1916. Na Frankryk gestuur.’

Na Frankryk—En terug!

Oorlogslagoffers in Frankryk en België het teen ’n onrusbarende tempo toegeneem. Die minister van oorlog Horatio Herbert Kitchener en die Britse generaal Douglas Haig het nog soldate uiters dringend nodig gehad, insluitende getroude mans, wat teen Mei 1916 ook vir diensplig opgeroep is. Om hulle posisie te versterk, het die amptenare besluit om gewetensbeswaardes só te straf dat dit ander sou afskrik. Met vuurwapens op hulle gerig, is die Richmond-sestien dus geboei, onwettig op ’n trein gelaai en in die geheim met ’n omweg na Frankryk geneem. Op die strand van Boulogne, sê die tydskrif Heritage, “is die manne met doringdraad aan pale vasgemaak, amper asof hulle gekruisig word”, en gedwing om te kyk hoe ’n vuurpeloton ’n Britse droster teregstel. Daar is vir hulle gesê dat dit ook hulle voorland sou wees as hulle nie bevele gehoorsaam nie.

In middel-Junie 1916 is die gevangenes voor 3 000 soldate ingebring om te hoor hoe die doodsvonnis oor hulle uitgespreek word, maar teen dié tyd het Kitchener al gesterf en die Britse eerste minister het ingegryp. ’n Poskaart met ’n kodeboodskap waarin die militêre opdrag herroep is, het die owerheid in Londen bereik. Generaal Haig is beveel om al die doodsvonnisse na tien jaar dwangarbeid te verander.

Nadat hulle na Brittanje teruggekeer het, is sommige van die 16 na ’n Skotse granietgroef geneem om onder haglike toestande “werk van nasionale belang” te doen, sê ’n amptelike verslag. Ander, wat Herbert Senior ingesluit het, is na siviele tronke teruggestuur en nie na militêre tronke nie.

Die erfenis

Aangesien die selmure maklik verbrokkel, sluit die omvangryke tentoonstelling by Richmond-kasteel, wat nou onder die sorg van English Heritage is, ’n kontakskerm in met rekenaarbeelde wat besoekers in staat stel om die selle en hulle graffiti van naby te sien sonder om dit te beskadig. Groepe skoliere word gehelp om te begryp waarom gewetensbeswaardes bereid was om straf, inhegtenisneming en moontlike teregstelling weens hulle vaste oortuigings te verduur.

Die Richmond-sestien het daarin geslaag om “die geskil oor gewetensbeswaar onder die publiek se aandag te bring sodat baie mense dit begin aanvaar en respekteer het”. Dit het daartoe gelei dat die owerheid groter begrip getoon het vir diegene wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog as gewetensbeswaardes geregistreer het.

In die jaar 2002 is ’n pragtige tuin op die kasteelgronde gedeeltelik ter nagedagtenis van die Richmond-sestien toegewy as ’n huldeblyk aan hulle sedelike oortuigings.

[Prente op bladsy 12, 13]

Van links na regs: Die 12de-eeuse toring van die Richmond-kasteel, met die aanhoudingsgebou waarin die tronkselle is

Herbert Senior, een van die Richmond-sestien

Een van die selle waar die Richmond-sestien aangehou is

Randpatroon op agtergrond: Dele van inskripsies wat oor die jare heen op die tronkmuur gemaak is