Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Amate—Mexiko se papirus

Amate—Mexiko se papirus

Amate—Mexiko se papirus

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO

DIE mense van Mexiko het ’n ryk en fassinerende geskiedenis. Een van die kosbare kulturele skatte wat behoue gebly het uit hulle geskiedenis, is “getuienisse”—piktografiese manuskripte, oftewel kodekse. Deur middel van hierdie kodekse kan ’n mens ’n studie maak van baie kennisvelde—geskiedenis, wetenskap, godsdiens en chronologie—asook van die daaglikse lewe van ontwikkelde beskawings in Mesoamerika, insluitende die Asteke en die Maja. Tlacuilos, of skrywers, wat verbasend knap in hulle werk was, het hulle geskiedenis op verskillende materiale vasgelê.

Hoewel party kodekse van stroke materiaal, hertvel of garingboompapier gemaak is, is amate die meeste gebruik. Die naam amate kom van die Nahuatl-woord amatl, wat papier beteken. Amate is verkry van die bas van ’n ficus, of vyeboom, van die Moraceae-familie. Volgens die Enciclopedia de México “is dit moeilik om al die ficus-soorte uitmekaar te ken tensy ’n deeglike ondersoek van die bas, blare, blomme en vrugte gemaak word”. Die ficus kan witamate, wit woudamate of donkerbruinamate wees.

Hoe dit gemaak word

Met die Spaanse verowering in die 16de eeu is pogings aangewend om die vervaardiging van amate te beëindig. Waarom? Volgens die veroweraars was daar ’n noue verband tussen amate en voor-Spaanse godsdiensritusse, wat deur die Katolieke Kerk veroordeel is. In sy werk Historia de las Indias de Nueva España e Islas de la Tierra Firme (Geskiedenis van Nieu-Spaanse Indië en die Terra Firma-eilande) het die Spaanse monnik Diego Durán daarop gewys dat die inboorlinge “hoogs gedetailleerde geskiedenisverslae van hulle voorvaders saamgestel het. Dit sou baie lig op hulle geskiedenis gewerp het as onkundige ywer dit nie vernietig het nie. Want daar was party onkundiges wat dit verbrand het omdat hulle gedink het dat dit afgode is, terwyl dit eintlik waardevolle geskiedenisverslae was.”

Maar pogings om die tradisie van amate-papiermakery uit te wis, was onsuksesvol, en dit het gelukkig tot vandag toe behoue gebly. In die noordelike Sierraberge van die staat Puebla word papier nog in plekke soos San Pablito, in Pahuatlán, gemaak. Die tydskrif Arqueología Mexicana (Mexikaanse Argeologie) haal inligting aan wat deur koning Filips II se koninklike geneesheer, Francisco Hernández, opgeteken is en sê dat “papiermakers net die dik takke van die bome afgesny en die lote gelos het. Daarna is die takke oornag in nabygeleë riviere of strome gelos om sag te word. Die volgende dag is die bas van die tak afgetrek en die buitenste bas is van die binneste bas geskei, en net die laasgenoemde is gehou.” Nadat die bas skoongemaak is, is die stukke vesel op ’n plat oppervlak uitgesprei en dan met ’n kliphamer geslaan.

Vandag word die vesels in groot ketels gekook waarin as en kalk gegooi word om dit sag te maak en terselfdertyd van sekere stowwe ontslae te raak. Die kookproses kan tot ses uur duur. Dan word die vesels uitgespoel en in water gelos. Die amate-maker plaas die stroke vesel een vir een in ’n ruitpatroon op ’n plat houtoppervlak neer. Later gebruik hulle ’n kliphamer om die vesels met reëlmatige houe te slaan totdat dit inmekaargevleg is en ’n vel papier vorm. Laastens word die rande van die papier na binne gevou om die kante te versterk, en daarna word die papier in die son uitgedroog.

Amate kom in verskillende kleure. Bruin is die tradisionele kleur, maar dit kom ook in wit of ivoor, in gespikkelde bruin en wit, asook in kleure soos geel, blou, ligrooi en groen.

Moderne gebruike

Pragtige Mexikaanse handewerk word met amate gemaak. Hoewel van die prente wat op hierdie papier geskilder word, ’n godsdienstige betekenis het, is ander voorstellings van verskillende gestileerde diere asook van feeste en tonele wat die gelukkige lewe van die Mexikaanse mense uitbeeld. Benewens pragtige veelkleurige prente word daar ook kaartjies, boekmerke en ander handewerk van amate gemaak. Hierdie kunswerke fassineer die plaaslike mense sowel as buitelanders, wat dit as versierings koop. Maar hierdie kunswerke kan nou selfs buite Mexiko gekoop word, aangesien dit na verskeie wêrelddele uitgevoer word. Replikas is van die antieke kodekse gemaak. Hierdie kunswerke was sekerlik baie interessant vir die Spanjaarde toe hulle dit vir die eerste keer gesien het! Trouens, Diego Durán, die Dominikaanse monnik wat vroeër genoem is, het gesê dat die inboorlinge “alles in boeke en op lang stukke papier neergeskryf en geteken het, insluitende berekeninge van die jare, maande en dae waarop dit plaasgevind het. Hulle wette en ordonnansies, hulle sensuslyste, ens., is ordelik en logies in hierdie tekeninge uiteengesit.”

Hoe wonderlik is dit tog dat die tradisie van amate-makery saam met die prag van die Mexikaanse erfenis tot in ons tyd behoue gebly het. Net soos die tlacuilos, of skrywers, van die ou tyd, geniet eenvoudige handwerkers van vandag die wonder van amate, wat heel gepas die papirus van Mexiko genoem kan word.

[Prent op bladsy 26]

Die vesels word geslaan