Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die grootste ballonvaartgeleentheid ter wêreld!

Die grootste ballonvaartgeleentheid ter wêreld!

Die grootste ballonvaartgeleentheid ter wêreld!

ALBUQUERQUE, Nieu-Mexiko, VSA, ondervind elke jaar in Oktober ’n buitengewone verkeersprobleem wat nege dae lank duur. Bestuurders ry stadiger of hou stil om na groot vlote helderkleurige ballonne te kyk wat oral in die wolklose herfslug sweef. Dit is die jaarlikse Kodak- Internasionale Ballonfees in Albuquerque, en meer as 800 000 besoekers kom om dit te aanskou.

Dit is maklik om te verstaan waarom die verkeer amper tot stilstand kom. Stel jou die skouspel voor! Honderde ballonne—gewoonlik tussen 15 en 25 meter hoog—styg saam in die fris oggendlug op en sweef daarna op ligte winde oor die Rio Grande-rivier en die stad Albuquerque. Die skilderagtige 3 000 meter hoë Sandia-berge op die agtergrond maak die panorama selfs meer asemrowend.

Sedert die fees in 1972 in ’n parkeerterrein met net 13 ballonne begin het, het dit met rasse skrede gegroei. Teen 1978 het dit, met 273 inskrywings, reeds die wêreld se grootste ballonvaartgeleentheid geword. In 2003 is meer as 720 ballonne ingeskryf. Ballonspanne het van baie Amerikaanse state en van 20 ander lande gekom. Mediaverteenwoordigers van baie organisasies en tallose ander fotograwe het bygedra tot die fees se reputasie as “die wêreld se mees gefotografeerde geleentheid”. In 2000 het meer as 1 000 ballonne ter viering van die nuwe millennium aan die fees deelgeneem—ongeveer 20 persent van al die geregistreerde ballonne in die wêreld.

Hoe die ballonne werk

Die meeste van die ballonne by die fees styg op met behulp van warm lug wat verhit word deur propaanbranders by die opening van die ballon. Die ballon word van sintetiese materiaal gemaak wat met poli-uretaan bedek is om lekkasies te verminder. ’n Mandjie, of gondel, wat die vlieënier en passasiers dra, is aan elke ballon vasgeheg. ’n Ballon word in twee stadiums met lug gevul. Eerstens blaas ’n groot waaier koel lug daarin terwyl dit op die grond uitgesprei lê. Daarna blaas ’n propaanbrander warm lug in die gedeeltelik opgeblaasde ballon. Die warm lug laat die ballon regop kom, maar dit bly stewig op die grond geanker totdat die vlieënier reg is om op te styg. Sodra die ballon van die grond af is, kan die vlieënier dit laat styg deur die branders aan te sit en meer warm lug by te voeg. Wanneer hy die ballon wil laat daal, laat hy eenvoudig die lug afkoel, of hy kan ’n klep bo-aan die ballon oopmaak sodat warm lug kan ontsnap.

By die fees dra warmlugballonne normaalweg net genoeg propaan om ’n paar uur in die lug te bly, gewoonlik op ’n hoogte van minder as 600 meter. Daarom moet die ballonvaarders—insluitende ’n span wat hulle grondlangs volg—op die uitkyk wees na ’n veilige landingsplek. Die vlieënier en die span soek na ’n oop stuk grond sonder elektriese kabels en weg van besige strate.

Party van die ballonne by die fees word met helium of waterstof gevul. Anders as die warmlugballonne, kan hierdie gasgevulde ballonne dae lank in die lug bly. Gasballonvaarders ding mee om te sien wie die verste kan vlieg en reis op hoogtes van 3 000 tot 4 500 meter.

Ballonne kan nie eintlik gestuur word nie, maar is aan die genade van die wind oorgelewer. ’n Ervare vlieënier kan egter sy koers beheer deur te styg of te daal om by lugstrome uit te kom wat in die gewenste rigting beweeg. In hierdie opsig is Albuquerque ideaal vir ballonvaart. Die omliggende berge en riviervallei vorm die Albuquerque-boks—’n kombinasie van windpatrone wat veroorsaak dat lae winde ballonne in een rigting stoot en hoë winde hulle in die teenoorgestelde rigting terugbring.

’n Opwindende geleentheid

Meer as 2 000 vrywilligers werk saam om die fees suksesvol en veilig te laat verloop. Die beampte wat hierdie ingewikkelde geleentheid koördineer, word die ballonmeester genoem. Sy werk is om met die opstyg van honderde ballonne te help en is soortgelyk aan dié van ’n beampte wat lugverkeer by ’n besige lughawe beheer. Stel jou net die toneel voor! Wanneer die ballonne opstyg, veroorsaak die kaleidoskoop van kleure en verbeeldingryke vorme groot opgewondenheid onder die volwasse toeskouers asook die kinders wat met groot oë staar. Kyk! Daar is ’n ballon in die vorm van ’n padda, nog een in die vorm van ’n beer en ’n ander een wat soos ’n haas lyk! Daar gaan ’n babadinosaurus, ’n reusagtige koei, twee vlieënde varke, ’n goudvis met die naam Soesji, ’n duiwel-in-’n-dosie (jack-in-the-box), ’n yslike koeldrankblik, ’n cowboy se stewel, ’n tros rooi brandrissies en nog baie meer.

Met die menigte kleure en ontwerpe teen die agtergrond van die helder blou lug kan ’n fotograaf werklik meegevoer word! En in die aand is daar nog ’n wonderlike gesig—die donker hemelruim is besaai met honderde ballonne en elkeen se brander gloei soos ’n kers in ’n papierlantern.

Nie baie van ons sal waarskynlik die ballonfees kan bywoon of die opwinding van ’n ballonrit kan ervaar nie. Maar terwyl jy na hierdie foto’s kyk, kan jy ten minste op ’n verbeeldingsvlug gaan—hoog in die herfslug oor Albuquerque.

[Prente op bladsy 18]

1. Elke ballon het ’n span op die grond nodig, wat gewoonlik uit vier tot agt mense bestaan

2. ’n Propaanbrander blaas warm lug in vir die opstygslag

3. In die aand gee die ballonne ’n warm gloed af

4. ’n Verskeidenheid ballon-ontwerpe

[Erkenning]

Foto’s 1 en 2: Raymond Watt/Albuquerque International Balloon Fiesta