Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ierland se fassinerende Burren-streek

Ierland se fassinerende Burren-streek

Ierland se fassinerende Burren-streek

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN IERLAND

NIE almal het dit fassinerend gevind nie. Volgens party was dit niks meer as ’n dorre, rotsagtige wildernis nie. “Daar is nie genoeg water om ’n man in te verdrink nie, nie genoeg hout om iemand aan op te hang nie en nie genoeg grond om hom in te begrawe nie”, het die Engelse luitenant-generaal Edmund Ludlow gesê, ’n ruk nadat hy dit in 1651 besoek het.

Die meeste besoekers vind dit egter bekorend. Natuurkenners, plantkundiges, argeoloë, geskiedkundiges en duisende ander wat gereeld hierheen kom, het verskeie redes waarom hulle dit as “’n fassinerende en besonderse gebied” beskou. Waar is hierdie plek? Waarom vind soveel verskillende mense dit aanloklik?

“’n Plek van rotse”

Dit is reg op die rand van Europa—aan die weskus van Ierland, tussen die wêreldberoemde Moher-kranse in die suide en Galway-baai in die noorde. Dit word die Burren-streek genoem. Die naam kom van die Ierse woord boireann, en dit beteken “’n plek van rotse”.

Rotse oorheers die landskap. “Enorme grys kalksteenvloere waarop daar plek-plek yslike rotse is wat deur die een of ander fratsgebeurtenis in die geologiese geskiedenis ontbloot is, strek [op baie plekke] so ver as wat die oog kan sien”, sê een reisgids. Die hele Burren-streek is in werklikheid ’n groot kalksteenafsetting wat sowat 1 300 vierkante kilometer beslaan. Op die oog af lyk dit of daar geen grond in groot dele van hierdie “misterieuse en somber maanlandskap” is nie.

Soos “’n groot warmteakkumulator”

As gevolg van die werking van die wind en reën het die plat kalksteenvloere of -plate ongelooflike fatsoene en vorme aangeneem, wat die Burren-streek ’n dramatiese, spesiale skoonheid van sy eie gee. Maar die mense wat hulle duisende jare gelede hier gevestig het, is nie deur die unieke skoonheid van die Burren-streek gelok nie. Hulle het meer belanggestel in die Burren-streek se ongelooflike vermoë om dwarsdeur die jaar weiding vir hulle vee te voorsien.

Die uitgestrekte kalksteenafsetting—wat op plekke meer as 900 meter diep is—dien “as ’n groot warmteakkumulator wat in die somer hitte absorbeer en dit in die winter stadig vrystel”. Saam met die matigende invloed van die oseaantemperatuur het dit vir daardie vroeë nedersetters baie aantreklike omstandighede vir boerdery geskep.

Vroeë bouers in die Burren-streek

Vergange geslagte, soos daardie vroeë boere, het hulle merk oral op die Burren-landskap gelaat. Daar is tientalle megalitiese grafte. Een van die bekendstes is die Poulnabrone-dolmen, wat lank voor die tyd van Christus gebou is. Wat ons vandag sien, is natuurlik slegs die kaal geraamte van die oorspronklike graf—net die reusagtige plat kalksteenklippe wat die antieke bouers gebruik het om hierdie gedenkgraf vir hulle “spesiale afgestorwenes” te bou. Toe dit oorspronklik gebou is, sê die kenners, is die graf met ’n groot hoop klippe en grond bedek.

Lank voordat die Kelte in Ierland aangekom het, het die inwoners van die Burren-streek bewyse van hulle teenwoordigheid agtergelaat in die vorm van steengrafte wat weens hulle besonderse wigvorm as wiggrafte bekend gestaan het. In 1934, in ’n plek wat Gleninsheen genoem word, het ’n jong man iets ontdek wat vir hom na ’n “eienaardige voorwerp gelyk” het. Dit was in werklikheid ’n besonder mooi goue halsband—wat nou as “een van die pragstukke van die Ierse goudsmede uit die Latere Bronstydperk beskou word”.

Die geskiedenis van hierdie antieke mense is in groot geheimsinnigheid gehul. Wie was hulle presies? Wat het hulle geglo? Wat was die doel van hulle geboue, soos dié op die onbeskutte kruin van die sogenoemde Turlough-heuwel? Was hierdie raaiselagtige terrein ’n antieke heuwelfort of is dit opsygesit as ’n heilige plek vir spesiale godsdiensrituele? Niemand weet werklik nie.

Latere gemeenskappe het tallose ringvormige forte, antieke versterkte opstalle, van klip of van klei gebou. Daarna is baie kerke, kloosters en kastele opgerig.

Die ondergrondse wêreld van die Burren-streek

Selfs onder die grond is die Burren-streek ’n fassinerende plek. Water het tot diep in die poreuse kalksteenafsettings gesypel en “een van Ierland se merkwaardigste ondergrondse wêrelde” geskep. Grotte het oral in die kalksteen gevorm. Baie van hierdie grotte is nog steeds aktief; dit wil sê, daar vloei nog strome, riviere en watervalle deur hulle. In een van die grotte, wat Poll an Ionain genoem word, is daar glo een van Europa se langste vryhangende stalaktiete—meer as nege meter lank!

Aangesien baie grotte gevaarlik is, beperk versigtige besoekers hulle verkenning tot die betreklik veilige Burren-vertoongrot, die Aillwee-grot, die enigste een wat vir die gewone publiek oop is. Hier kan jy tekens van ’n dier sien wat meer as ’n duisend jaar gelede in Ierland uitgesterf het—die bruinbeer. Dit lyk of die bere hulle winterslaap in hierdie grot deurgebring het, waar die temperatuur dwarsdeur die jaar 10 grade Celsius is. Diep binne-in die kalksteenberg kan jy die eienaardige vorme van die stalaktiete, stalagmiete en ander buitengewone rotsformasies bewonder. Jy kan jou ook die krag van die water probeer voorstel wat die ongelooflike grotte en spelonke oorspronklik uitgehol het.

’n “Botaniese metropolis”

Dit is die besonderse plantlewe wat die Burren-streek werklik anders maak. Hierdie landskap “is een van Europa se veelsoortigste en verbasendste habitats”, sê een skrywer. Dit sluit kusgebiede en berghange, graslande en boswêreld in. Daar is honderde heeltemal ingeslote valleie, wat duisende jare gelede gevorm is toe party van die Burren-grotstelsels ingestort het. Vreemde mere wat turloughs genoem word, word gedurende die somermaande in graslande omskep wanneer die grondwatervlak daal. Klipmure—waarvan party duisende jare oud is—is oral op die kalksteenvloere te sien en omsluit elke beskikbare lappie groen gras.

Iets anders wat verder tot die veelsydigheid van hierdie verbasende habitat bydra, is die krake en skeure in die kalksteenvloere, wat as grikes bekend staan. Hierdie splete kan tot twee meter diep wees. In party skeure het geïsoleerde eilande grond versamel en dit voorsien ’n verskeidenheid plante van beskutte en uiteenlopende habitats.

Oral in die Burren-streek, sê die plantkundige Cilian Roden, “groei daar seldsame en pragtige plante in getalle wat gewoonlik met madeliefies of dissels geassosieer word”. Hoewel meer as 600 verskillende spesies hier voorkom, is dit nie net die verskeidenheid of oorvloed van plante wat die Burren-streek anders maak nie. Wat dit uniek maak, is die buitengewone kombinasie van plante. Die feit dat “Arktiese, Alpynse en Mediterreense flora, plante wat van kalk hou en wat nie daarvan hou nie, in hierdie klein hoekie van westelike Ierland floreer en saam groei” is al honderde jare lank ’n raaisel vir plantkundiges.

Die pragtige blou voorjaarsgentiane, wat as ’n Alpynse plant beskou word, groei selfs op seespieël in die Burren-streek. Net ’n paar sentimeter van mekaar af groei Arktiese plante, soos die silwerkruid, en subtropiese plante, soos die venushaarvaring. Meer as 20 soorte orgideë floreer oral in die Burren-streek. Hier is ook volop wilde tiemie, bossuring, bloed-ooievaarsbek, gewone rolklawer, Engelse gras en nog baie meer. Die Burren-streek verdien inderdaad sy beskrywing as ’n “botaniese metropolis”.

Ja, daar is baie rotse. Maar die Burren-streek is beslis nie ’n dorre wildernis nie. Dit weerspieël die prag en verskeidenheid van die skepping. Dit stimuleer die verstand, prikkel die sintuie, gryp die verbeelding aan en beur die besoeker op. Kom gerus na Ierland en besoek die fassinerende Burren-streek!

[Kaart op bladsy 22]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NOORD-IERLAND

IERLAND

Die Burren-streek

[Prent op bladsy 23]

Panoramiese uitsig oor die Burren-streek

[Prent op bladsy 23]

Die Moher-kranse toring 200 meter bo die Atlantiese Oseaan uit

[Prent op bladsy 23]

Inlas: Selfs onder die grond is die Burren-streek ’n fassinerende plek

[Erkenning]

Courtesy of Aillwee Caves

[Foto-erkenning op bladsy 22]

Courtesy www.burrenbeo.com

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Blomme: Courtesy www.burrenbeo.com