Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kernoorlog—Is dit nog ’n bedreiging?

Kernoorlog—Is dit nog ’n bedreiging?

Kernoorlog—Is dit nog ’n bedreiging?

Deur Ontwaak!-medewerker in Japan

“Elke denkende mens vrees ’n kernoorlog, en elke tegnologiese staat berei hom daarop voor. Almal weet dit is malligheid, en elke nasie het ’n verskoning.”—Carl Sagan, sterrekundige.

OP 6 AUGUSTUS 1945 het ’n Amerikaanse oorlogsvliegtuig ’n atoombom op Hirosjima, Japan, gegooi en in ’n oogwink ’n geweldige tol geëis wat menselewens en eiendom betref. Dit was die eerste atoombom wat in oorlogvoering gebruik is. Die ontploffing het 13 vierkante kilometer van die stad, waarin 343 000 mense gewoon het, heeltemal in puin gelê. Meer as twee derdes van die geboue in die stad is vernietig en ten minste 70 000 is dood en 69 000 is beseer. Drie dae later is ’n atoombom ook op Nagasaki gegooi, en 39 000 het gesterf en 25 000 is beseer. Ongeveer die helfte van die geboue in die stad is vernietig of beskadig. Nog nooit tevore in die mensegeskiedenis is so ’n kragtige wapen gebruik nie. Die wêreld het verander. Dit het die kerneeu betree. Binne ’n paar jaar het die Verenigde State, die voormalige Sowjetunie, Groot-Brittanje, Frankryk en China die waterstofbom ontwikkel, wat baie groter vernietiging kan aanrig.

Die Koue Oorlog—die mededinging tussen Kommunistiese en nie-Kommunistiese nasies—was die dryfkrag agter die ontwikkeling van beter kernwapens en afleweringstelsels. Vrees het die wêreld beetgepak toe IKBM’e (interkontinentale ballistiese missiele) ontwikkel is wat ’n kernaanval binne minute eerder as ure kan uitvoer op teikens in lande meer as 5 600 kilometer daarvandaan. Duikbote is met genoeg kernmissiele toegerus om 192 afsonderlike teikens te vernietig. Daar is vroeër geskat dat die kernarsenaal tot 50 000 plofkoppe ingesluit het! Tydens die Koue Oorlog het die mensdom op die randjie gestaan van wat sommige mense ’n kern-Armageddon genoem het—’n oorlog met geen oorwinnaars nie.

Die einde van die Koue Oorlog

Gedurende die 1970’s is die spanning van die Koue Oorlog verlig “soos gesien kan word in SALT I en II [Samesprekings oor die Beperking van Strategiese Kernwapens]”, verduidelik The Encyclopædia Britannica, “waarin die twee supermoondhede beperkings gestel het op hulle antiballistiese missiele en op hulle strategiese missiele wat kernwapens kan aflewer”. Toe het die Koue Oorlog in die laat 1980’s ontdooi en uiteindelik tot ’n einde gekom.

“Die einde van die Koue Oorlog het die hoop laat ontstaan dat die erfenis van ’n kernbewapeningswedloop en -konfrontasie tussen die Verenigde State en Rusland besig was om te eindig”, sê ’n verslag deur die Carnegie-skenking vir Internasionale Vrede. As gevolg van kernontwapeningspogings is honderde kernarsenale in onlangse jare afgetakel. In 1991 het die Sowjetunie en die Verenigde State die Verdrag vir die Vermindering en Beperking van Strategiese Aanvalswapens onderteken, wat hierdie twee kernsupermoondhede verplig het om nie net hulle ontplooide strategiese plofkoppe te beperk nie, maar dit ook vir die eerste keer in die geskiedenis tot 6 000 elk te verminder. Teen die einde van 2001 het albei partye verklaar dat hulle die bepalings van die verdrag nagekom het en hulle strategiese kernplofkoppe verminder het. Daarbenewens is die Moskou-verdrag in 2002 onderteken, wat die partye verplig om oor die daaropvolgende tien jaar hulle plofkoppe verder te verminder sodat daar tussen 1 700 en 2 200 sal oorbly.

Maar ondanks sulke verwikkelinge “is dit nie die tyd om oorgerus te raak wat die bedreiging van kernoorlog betref nie”, het Kofi Annan, die sekretaris-generaal van die VN, gesê. Hy het bygevoeg: “’n Kernoorlog bly nog aan die begin van die 21ste eeu ’n wesenlike en baie skrikwekkende moontlikheid.” Ongelukkig is ’n kernramp—baie erger as dié in Hirosjima en Nagasaki—nog steeds ’n bedreiging in ons dag. Wie is die bedreiging? Nog belangriker, kan dit voorkom word?