Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kernoorlog—Wie is die bedreigings?

Kernoorlog—Wie is die bedreigings?

Kernoorlog—Wie is die bedreigings?

“Die moontlikheid van kernuitwissing is ’n werklikheid. Dit bestaan vandag, . . . ondanks die feit dat die Koue Oorlog meer as ’n dekade gelede geëindig het.”—Voormalige Amerikaanse minister van verdediging, Robert S. McNamara, en James G. Blight, professor van internasionale betrekkinge by die Watson-instituut vir Internasionale Studies.

IN 1991, toe die Koue Oorlog geëindig het, is die minuutwyser van die bekende oordeelsdaghorlosie teruggestel na 17 minute voor “middernag”. Die oordeelsdaghorlosie word op die voorblad van die tydskrif Bulletin of the Atomic Scientists uitgebeeld en is ’n simbool van hoe naby die wêreld glo aan ’n kernoorlog (middernag) is. Destyds is die minuutwyser verder van middernag gestel as wat dit nog ooit sedert die instelling van die horlosie in 1947 was. Maar sedertdien is die minuutwyser weer aangeskuif. In Februarie 2002 is die minuutwyser byvoorbeeld op sewe minute voor middernag geplaas, wat die derde keer is dat dit sedert die einde van die Koue Oorlog aangeskuif is.

Waarom het die uitgewers van daardie wetenskaptydskrif gevoel dat dit nodig is om die horlosie aan te skuif? Waarom dink hulle dat kernoorlog nog steeds ’n bedreiging is? En wie bedreig die vrede?

Die waarheid omtrent “ontwapening”

“Meer as 31 000 kernwapens word nog in stand gehou”, verduidelik die Bulletin of the Atomic Scientists. Dit sê verder: “Vyf-en-negentig persent van hierdie wapens is in die Verenigde State en Rusland, en meer as 16 000 is operasioneel ontplooi.” Party wonder dalk oor die skynbare teenstrydigheid in die aantal bestaande kernplofkoppe. Het hierdie kernsupermoondhede nie reeds verklaar dat hulle hulle plofkoppe tot 6 000 elk verminder het nie?

Dit bring ons by die waarheid omtrent “ontwapening”. ’n Verslag deur die Carnegie-skenking vir Internasionale Vrede verduidelik: “Die syfer van 6 000 toelaatbare plofkoppe word uitgewerk volgens spesifieke boekhoureëls waarop daar in die START-verdrag [Samesprekings oor die Vermindering van Strategiese Kernwapens] ooreengekom is. Albei nasies sal nog steeds duisende bykomende taktiese en reserwewapens hê.” (Ons kursiveer.) Volgens die Bulletin of the Atomic Scientists “sal baie, miskien selfs die meeste, van die Amerikaanse plofkoppe wat uit die aktiewe voorraadstapel gehaal is, geberg word (saam met ongeveer 5 000 plofkoppe wat reeds in reserwe is) en nie afgetakel word nie”.

Benewens die duisende operasionele strategiese kernwapens wat nog in reserwe gehou word—wat direk van een vasteland na ’n ander gelanseer kan word—is daar duisende ander kernplofkoppe sowel as ander taktiese kernwapens wat ontwerp is om teikens oor korter afstande aan te val. Die twee kernsupermoondhede het ongetwyfeld nog meer as genoeg kernwapens in hulle arsenale om die hele wêreldbevolking etlike kere te vernietig! Die instandhouding van soveel gevaarlike wapens hou nog ’n gevaar in—dat kernmissiele per ongeluk gelanseer sal word.

Toevallige kernoorlog

Volgens Robert S. McNamara en James G. Blight, wat vroeër aangehaal is, “word Amerikaanse kernwapens volgens ’n ‘vuur op waarskuwing’-strategie beheer”. Wat beteken dit? “Ons plofkoppe is gereed om gelanseer te word terwyl Russiese plofkoppe in die lug is”, verduidelik hulle en voeg by: “Volgens die beleid mag daar nie meer as 15 minute verbygaan van die tyd af dat die eerste waarskuwing van ’n Russiese aanval ontvang is en die lansering van ons missiele nie.” Volgens ’n voormalige Amerikaanse offisier wie se verantwoordelikheid dit was om strategiese kernmissiele te lanseer, “is feitlik alle landmissiele gereed om binne twee minute gelanseer te word”.

Met hierdie haarsnellergereedheid bestaan die gevaar dat ’n missiel per ongeluk gelanseer kan word as gevolg van ’n vals alarm. “In meer as een geval”, verduidelik ’n artikel in U.S.News & World Report, “is werklike lanseerbevele per ongeluk gegee tydens Amerikaanse opleidingsoefeninge vir die gebruik van kernwapens.” Daar was ook al soortgelyke vals alarms in Rusland. Toe ’n Noorweegse navorsingsvuurpyl ’n vals alarm in 1995 veroorsaak het, het die Russiese president met die proses begin om die lanseerkodes van kernmissiele te aktiveer.

Hierdie ‘gereed om te vuur’-strategie plaas geweldige druk op diegene wat die besluite moet neem. Gelukkig het bevelvoerders in die verlede besef dat die waarskuwings vals was, en tot dusver is ’n kernoorlog voorkom. ’n Navorser het in verband met ’n voorval in 1979 verduidelik: “Ons vroeë waarskuwingsatelliete, waarmee ons kon sien dat daar geen Sowjet-missiele in die lug is nie, het gekeer dat Amerikaanse missiele [gelanseer word].” Maar met verloop van tyd raak hierdie vroeë waarskuwingsatelliete onklaar. Navorsers en ontleders is bekommerd dat “die meeste van Rusland se vroeë waarskuwingsatelliete nie meer funksioneer nie of uit hulle wentelbaan gedwaal het”. Soos ’n afgetrede Amerikaanse vise-admiraal dus ’n paar jaar gelede gesê het, “is die moontlikheid vandag net so groot as gedurende enige ander tyd in die verlede dat ’n voorkomende aanval of ’n missielaanval as gevolg van ’n misverstand, misplaaste gesag of ’n ongeluk geloods sal word”.

Nuwe lede van die kernklub

Hoewel die groot kernarsenale aan die twee kernsupermoondhede behoort, is daar ander kernmagte soos China, Frankryk en Groot-Brittanje. Indië en Pakistan het onlangs by hierdie erkende kernmagte, wat die kernklub genoem word, aangesluit. Behalwe hierdie lande is daar verskeie ander, insluitende Israel, wat dikwels beskryf word as lande wat kernwapens wil aanskaf—of moontlik reeds aangeskaf het.

’n Politieke konflik waarby enige van die kernklublede betrokke is, onder andere die nuwe lede, kan tot ’n kernoorlog lei. “Die krisis tussen Indië en Pakistan . . . is die naaste wat twee lande aan ’n kernoorlog gekom het sedert die Kubaanse missielkrisis”, verduidelik die Bulletin of the Atomic Scientists. Omdat die situasie vroeg in 2002 meer kritiek geword het, het die gevaar van ’n kernaanval vir baie mense ’n werklikheid geword.

Daarbenewens het die ontwikkeling van ander wapens vir massavernietiging verdere moontlikhede geskep vir die gebruik van die kernbom. The New York Times het in ’n bespreking van ’n geheime Pentagon-verslag gesê dat “die moontlike gebruik van kernwapens vir die uitwissing van vyandelike voorraadstapels van biologiese en chemiese wapens sowel as ander wapens vir massavernietiging”, dalk deel geword het van die Amerikaanse kernbeleid.

Die terreuraanval op 11 September 2001 in die Verenigde State het die wêreld van nog ’n kernbedreiging bewus gemaak. Baie mense is van mening dat terroristeorganisasies kernwapens probeer ontwikkel—of dalk reeds besit. Hoe is dit moontlik?

Terroriste en “vuilbomme”

Is dit moontlik om ’n kernbom van materiaal te maak wat op die swartmark verkoop word? Volgens die tydskrif Time is die antwoord ja. Die tydskrif het berig gelewer oor ’n span wie se verantwoordelikheid dit is om kernterrorisme te voorkom. Tot dusver het die span “meer as twaalf [tuisvervaardigde bomme] gemaak” deur gebruik te maak van “tegnologie wat in die meeste elektroniese winkels gevind kan word en die soort kernbrandstof wat op die swartmark verkoop word”.

Kernontwapening en die aftakeling van kernwapens het die moontlikheid van kerndiefstal vergroot. “As duisende Russiese kernwapens uit streng bewaakte missiele, bomwerpers en duikbote gehaal en in plekke geberg word wat nie so goed bewaak word nie, sal dit aanloklike teikens vir ambisieuse terroriste wees”, sê die tydskrif Time. As afgetakelde kernwapenonderdele in die hande van ’n klein groep mense beland en hulle dit weer aanmekaarsit, kan so ’n groep binnekort deel van die kernklub wees!

Die tydskrif Peace beweer dat dit nie eers nodig is om ’n bom te vervaardig om by die kernklub aan te sluit nie. Al wat nodig is, is genoeg kloofbare uraan of plutonium. Die tydskrif sê: “Terroriste wat moderne wapengraad-uraan het, sal ’n goeie kans hê om ’n ontploffing te veroorsaak deur bloot die een helfte daarvan op die ander helfte te gooi.” Hoeveel verrykte kernmateriaal is nodig? Volgens daardie tydskrif “sou drie kilogram genoeg wees”. Dit is amper net soveel wapengraadkernmateriaal as wat in 1994 in die Tsjeggiese Republiek van smokkelaars gekonfiskeer is!

Kernafval is nog iets wat as ’n soort kernwapen gebruik kan word. “Wat die kenners werklik bekommer, is die dodelike kombinasie van radioaktiewe afval en konvensionele plofstowwe”, sê The American Spectator. Hierdie soort wapens, radioaktiewe verstrooiingstoestelle, staan bekend as “vuilbomme”. Hoe gevaarlik is hulle? Met “vuilbomme” word “konvensionele, vinnig ontploffende bomme gebruik om hoogs radioaktiewe materiaal te verstrooi met die doel om mense eerder te vergiftig as om hulle met ’n ontploffing en hitte dood te maak”, verduidelik IHT Asahi Sjimboen. Dit sê verder: “Die uitwerking wat dit op mense het, kan wissel van stralingsiekte tot ’n pynlike, stadige dood.” Hoewel party sê dat die gebruik van maklik verkrygbare kernafval nie te veel skade sal aanrig nie, bekommer dit baie mense dat verrykte kernmateriaal op die swartmark beskikbaar is. Volgens ’n onlangse wêreldwye opname meen meer as 60 persent van alle respondente dat daar in die volgende tien jaar gevalle van kernterrorisme sal wees.

Die kernbedreiging is ongetwyfeld nog steeds ’n werklikheid vir die wêreld. In Brittanje het die Guardian Weekly van 16-22 Januarie 2003 gesê: “Die moontlikheid dat die VSA kernwapens sal gebruik, is groter as gedurende enige ander tyd sedert die donkerste dae van die koue oorlog. . . . Die VSA is geleidelik besig om die drumpel vir kernoorlog te verlaag.” Dit is dus redelik om te vra: Kan ’n kernoorlog voorkom word? Is daar enige hoop dat die wêreld ooit vry van die kernbedreiging sal wees? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.

[Venster op bladsy 6]

’n Tweede kerneeu?

Die rubriekskrywer Bill Keller (nou die hoofredakteur van The New York Times) het die mening uitgespreek dat die nasies die tweede kerneeu betree het. Die eerste een het in Januarie 1994 geëindig, toe die Oekraïne ingestem het om wapens prys te gee wat dit van die voormalige Sowjetunie geërf het. Waarom praat hy van ’n tweede kerneeu?

Keller skryf: “Die tweede kerneeu is in 1998 met ’n gedreun in die Rajastan-woestyn aangekondig, toe Indië se pas verkose Hindoe- nasionalistiese regering vyf toetsontploffings uitgevoer het. Twee weke later het Pakistan dieselfde gedoen.” Wat het hierdie toetse verskillend gemaak van dié gedurende die vorige kerneeu? “Hierdie kernwapens is ontwikkel met ’n spesifieke streek in gedagte.”

Kan die wêreld dus enigsins veiliger voel noudat die kernklub nog twee aktiewe lede bygekry het? Keller gaan voort: “Elke keer as nog ’n land kernwapens kry, vergroot die risiko dat ’n oorlog gevoer sal word waarby ’n kernstaat betrokke is.”—“Die denkbare”, The New York Times Magazine, 4 Mei 2003, bladsy 50.

Die situasie word verder gekompliseer deur die nuus dat Noord-Korea moontlik “genoeg plutonium het om ses nuwe kernbomme te vervaardig. . . . Daar is elke dag ’n groter gevaar dat Noord-Korea daarin sal slaag om nuwe kernwapens te vervaardig, en moontlik selfs een daarvan sal toets om hulle sukses te bewys.”—The New York Times, 18 Julie 2003.

[Prent op bladsy 7]

Verouderde vroeë waarskuwing-satelliete raak onklaar

[Erkenning]

NASA photo

[Prent op bladsy 7]

’n Regerings-amptenaar met ’n lewensgrootte model van ’n “reistas”-kernbom

[Erkenning]

AP Photo/Dennis Cook

[Foto-erkenning op bladsy 5]

Aarde: NASA photo