Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Regte kanniedood

’n Regte kanniedood

’n Regte kanniedood

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NAMIBIË

HIER in die Namib-woestyn in die suidweste van Afrika is die lug helder en fris. Dit is ’n wolklose dag. Namate die son hoër klim, word dit al hoe warmer. Hierdie is ’n wêreld van sandduine en verwaaide gruisvlaktes. Ons kyk vol verwondering rond. Wat is daardie hoop groen blare in die verte? Ons stap nader en sien dat ons afgekom het op een van die eienaardigste plante ter wêreld—die Welwitschia mirabilis. Die tweede deel van hierdie wetenskaplike naam is die Latynse woord vir “wonderlik”.

In die natuur word welwitschias net in die woestynstreke van Angola en Namibië aangetref. Dit verskil soveel van enige ander plant dat wetenskaplikes dit klassifiseer as ’n unieke familie en geslag wat uit net een soort bestaan. “Nie een van die nagenoeg 375 000 plantsoorte wat aan die mens bekend is, het soveel plantkundige belangstelling gewek soos die Welwitschia nie; en die klassifisering van geen ander plant het so ’n groot uitdaging aan die mens gebied nie”, skryf Chris Bornman in sy boek Welwitschia—Paradox of a Parched Paradise.

Welwitschias lyk dalk soos ’n klomp blare om ’n boomstomp, maar die plant het in werklikheid net twee blare. Dit word deur die woestynwind in repe geskeur. In Afrikaans word dit ook ’n tweeblaarkanniedood genoem. En hoe gepas is daardie naam tog! Hier styg die dagtemperatuur soms tot 40 grade Celsius, en die nagte kan bitter koud wees met geen bome wat die sterk winde breek nie. Hoewel die meeste plante heeltemal van hulle wortels afhanklik is om water uit die grond op te neem, is dit nie die geval met die welwitschia nie. Die Namib se gemiddelde reënval is minder as 25 millimeter per jaar, en soms is daar jare lank geen reën nie! In hierdie toestande hou die welwitschia aan groei en bly sy blare groen. Wetenskaplikes wonder al lank hoe dit moontlik is. Die antwoord is blykbaar dat die welwitschiablare die oggendmis opneem wat deur gereelde kuswinde in die woestyn ingewaai word.

Die welwitschia verloor nie sy blare en kry dan nuwes nie. Die oorspronklike paar hou aan groei solank die plant lewe. Toe een blaar oopgerol is, was dit oor die 8,8 meter lank! Dink net wat sou gebeur het as die punte van ’n welwitschiablaar nie doodgegaan en afgebreek het nie! “Tydens ’n lewensduur van 1500 jaar”, verduidelik die wetenskaptydskrif Veld & Flora, “sou die Welwitschia se blaar tot 225 meter lank kon word.” Maar kan die plant werklik so lank lewe? “Welwitschiaplante groei stadig en lewe dikwels 1 000 tot 2 000 jaar”, bevestig The World Book Multimedia Encyclopedia.

Die oorlewingsvermoë van die welwitschia is beslis verbasend. Hoe verklaar ’n mens die feit dat hierdie unieke plant so lank in sulke strawwe woestyntoestande lewe? Basies moet ons die alwyse Ontwerper, die Skepper, Jehovah God, die een wat “plante tot nut van die mens” maak, bedank.—Psalm 104:14.