Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die hardwerkende Carnica-by

Die hardwerkende Carnica-by

Die hardwerkende Carnica-by

Deur Ontwaak!-medewerker in Slowenië

BYE is bekend daarvoor dat hulle hardwerkend is. Een soort blink egter uit in hierdie opsig—die Carnica-by. a Hierdie heuningby is vernoem na die streek Carniola, in die hedendaagse Wes-Slowenië. Die by het aanvanklik net in die Balkanskiereiland en noord tot by die Karpate voorgekom. Maar omdat die Carnica-by vandag so gewild is onder byeboere, het sy roem—en die bye self—oor die hele aarde versprei.

Wat het die Carnica-by so gewild gemaak? Behalwe dat hy volop hoëgehalteheuning vervaardig en uiters gehard teen siekte en koue weer is, is die Carnica-by ook glad nie aggressief nie. Hoewel hulle ’n neiging het om swerms te vorm—’n eienskap wat grootskaalse byeboerdery moeiliker kan maak—is hierdie neiging deur teeltkeuse verminder. Maar hoe het Carnica-bye daarvoor bekend geword dat hulle hardwerkender as ander bye is? Om maar een ding te noem, hulle verlaat die korf vroeër soggens as ander bye. Hulle het dus tyd om meer nektar huis toe te bring om heuning van te maak, en hulle kan verder vlieg om die nektar te gaan haal.

“’n Nasie van byeboere”

Byeboerdery het ’n lang en kleurryke geskiedenis in Slowenië. Janez Gregori, ’n Sloweense bioloog, beskryf selfs sy landgenote as “’n nasie van byeboere”. Trouens, die Slowene het reeds in die agtste eeu G.J. as bedrewe byeboere bekend gestaan. Van toe af tot die 1800’s is hulle byekorwe van hol boomstompe gemaak. Hierdie korwe is in party Sloweense gebiede korita, of trôe, genoem. Maar in omstreeks die 15de eeu, toe die saagmeul uitgevind is, het hulle die ou trôe begin vervang deur korwe wat van planke gemaak is. Dit is grappenderwys truge, of doodskiste, genoem omdat dit langwerpig was.

Die groot aanvraag na heuning en byewas het byeboerdery so belangrik vir die ekonomie gemaak dat dit die aandag van die land se heersers getrek het, wat sekere begunstigde mense die uitsluitlike reg gegee het om met bye te boer. Hierdie belangstelling van hooggeplaastes is te begrype, aangesien byewas nodig was om kerse te maak, veral vir gebruik in kerke en kloosters, en aangesien heuning destyds die enigste beskikbare versoeter was. Nadat daar in die 1500’s begin is om bokwiet as ’n landbougewas te verbou en die bye dus ’n nuwe voedselbron gedurende die herfs gehad het, het heuningproduksie selfs hoër gestyg. Kort voor lank het Carniola groot hoeveelhede heuning en byewas uitgevoer. Die 17de-eeuse Carnioliese geleerde Valvasor het gesê dat Carniola teen die middel van die sewentiende eeu elke jaar “derduisende kwintale” heuning na die Salzburg-gebied in Oostenryk alleen uitgevoer het. b

Die Carnica-by se roem versprei

Deur die jare heen het Carniola talle belangrike bydraes tot byeboerdery as ’n wetenskap en kuns gelewer. Keiserin Maria Theresia het Anton Janša, wat in Bo-Carniola gebore is, reeds in 1770 aangestel as die eerste onderrigter in byeboerdery by die byeboerderyskool wat kort tevore in Wene, Oostenryk, gestig is. Teen die laat 1800’s het byenavorsers besef dat Carniola se geharde bye in die behoeftes van byeboere in baie gebiede kan voorsien. Gedurende hierdie tydperk het die Carnica-by ook sy naam gekry en oor die hele wêreld begin versprei. Trouens, teen die begin van die 20ste eeu het Carniola “hele spoorwaens vol byekorwe” uitgevoer, en in elkeen was daar ’n familie Carnica-bye.

Gedurende dieselfde tydperk het die tradisionele houtplankbyekorf die naam kranjič, of “Carnioliese byekorf”, gekry. Die unieke manier waarop daar vroeër op die kranjič geskilder is, maak dit veral interessant. (Sien die venster “Byekorfskilderkuns”, op bladsy 24.) Vandag sien meer as 7 000 byeboere in Slowenië na oor die 160 000 byekorwe om. In die dorp Radovljica is daar selfs ’n spesiale byeboerderymuseum wat aan die geskiedenis van byeboerdery in Slowenië gewy is.

’n Algemene simbool

Slowene beskou die by al lank as ’n simbool van hardwerkendheid en praktiese wysheid. Die eerste wetenskapvereniging in die hedendaagse Slowenië, wat in 1693 gestig is, is die Vereniging van die Hardwerkendes genoem, en dit het ’n by op sy wapen gehad. Die lede het hulleself selfs die apes genoem, wat in Latyn “bye” beteken. Aangesien die by vir Slowene ook ’n simbool van spaarsaamheid is, is dit selfs al in die finansiële wêreld gebruik. Die afbeelding van ’n by kan op die voorblad van bankboekies en agterop party Sloweense muntstukke gesien word.

Slowene kan hulle met die by vereenselwig omdat hulle self daarvoor bekend is dat hulle ’n hardwerkende volk is. Daar is ’n Sloweense spreekwoord wat sê: “Kyk na die bye en volg hulle voorbeeld.” Wanneer jy dus weer hardwerkende bye sien of heuning—die soet vrug van hulle arbeid—proe, sal dit jou moontlik aan die hardwerkende Carnica-bye laat dink.

[Voetnote]

a Die Carnica-by het bande fyn, vaal hare om sy agterlyf.

b ’n Kwintaal is gelyk aan 100 kilogram.

[Venster/Prente op bladsy 24]

Byekorfskilderkuns

In ’n tipiese Sloweense byery is die byekorwe in groepe bymekaar soos laaie in ’n groot reghoekige kas, met die kort kante wat vorentoe wys. Die kuns om olieverfskilderye op die voorkante van die byekorwe te maak, het van die vroeë 1700’s af tot die 1900’s gebloei. Hoewel ongeveer 3 000 voorbeelde van hierdie unieke kunsvorm behoue gebly het, is dit net ’n klein persentasie van al die byekorwe wat gemaak en deur die jare heen versier is.

Die ontwerpe op die voorkante is hoofsaaklik godsdienstig van aard en beeld “heiliges” en Bybelverhale uit. Maar die skilderstukke sluit ook afbeeldings in van diere en van mense wat werk, sowel as verskeie denkbeeldige en grappige tonele. Sommige skilderstukke handel oor gesinsverhoudings. Party beeld byvoorbeeld twee demone uit wat ’n slypwiel gebruik om ’n lasterlike vrou se tong skerp te maak, terwyl ander ’n vrou uitbeeld wat haar man van ’n kroeg af huis toe sleep.

Die byekorfskilderkuns is al geprys as “die pêrels van die Sloweense kultuurerfenis”, as “’n primitiewe ensiklopedie van volkswysheid” en as “moontlik die enigste kunsvorm wat waarlik Sloweens is”. Maar die skilderstukke was ook bedoel om ’n nuttige funksie te verrig. Aangesien daar baie korwe op dieselfde plek was, kon ’n by die noodlottige fout maak om in die verkeerde byekorf in te gaan en dan as ’n onwelkome indringer doodgemaak word. Die byeboere het gemeen dat die kleurryke ontwerpe op die voorkant van die korwe, wat almal verskillend was, die bye sou help om weer hulle eie korf te vind.

[Prente]

“Adam en Eva”

“Josef wat na Egipte verkoop is”

“Jesus kom in Jerusalem aan”

’n Tipiese Sloweense byery met tradisionele geskilderde panele

[Erkenning]

Alle byeryfoto’s: Z dovoljenjem upravitelja rojstne hiše pisatelja Josipa Jurčiča

[Kaart op bladsy 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

OOSTENRYK

ITALIË

SLOWENIË

Carniola

KROASIË

ADRIATIESE SEE

[Erkenning]

Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 22]

Sloweense muntstuk met die afbeelding van Carniola se beroemde by

[Prent op bladsy 23]

Die Carnica-by is bekend daarvoor dat dit glad nie aggressief is nie

[Prent op bladsy 23]

Larwes

[Prent op bladsy 23]

Die koninginby tussen jong werkerbye

[Erkenning]

Foto: Janez Gregori