Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Vriendelike kinders is gewilder

“Ontwerpersjeans en die nuutste toestelle is nie ’n waarborg dat jy gewild gaan wees nie. In ’n portuurgroep tel ’n kind se vriendelikheid baie meer as sy sosiale status”, sê die Duitse tydskrif Psychologie Heute. Judith Schrenk en Christine Gürtler, sielkundiges by die Max Planck-instituut vir Menslike Ontwikkeling in Berlyn, het ’n opname onder 234 kinders in graad drie en graad vyf by tien laerskole gedoen. Hulle het gevind dat kinders wat beter met ander oor die weg wou kom en vriendelik en spontaan is, meer invloedryk is. Kinders wat ander geslaan of gespot het, het minder invloed oor hulle portuurs. “Selfs dié wat aantreklik is of baie sakgeld kry, het skoolmaats nie baie beïndruk nie”, sê die verslag.

Kragtige pietersielie

Pietersielie, wat dikwels net as garnering gebruik word, is ’n ryk bron van vitamiene en minerale, sê Australië se Sunday Telegraph. “’n Koppie pietersielie bevat meer betakaroteen (Vitamien A) as ’n groot geelwortel, het amper twee keer meer Vitamien C as ’n lemoen en bevat meer kalsium as ’n koppie melk. Dit het gram vir gram ook meer yster as lewer en is ’n vername bron van vitamiene B1 en B2.” As ’n geneesmiddel “is pietersielie ’n baie doeltreffende diuretikum, wat beteken dat dit die liggaam help om van oortollige vloeistowwe ontslae te raak”, sê die koerant. Dit kan ook help met sekere kwale van die lewer, milt, maag en urinestelsel. Wanneer dit vars geëet word, “is dit een van die beste asemverfrissers wat daar is, en nog boonop die goedkoopste”. Die artikel waarsku egter dat ‘die estrogeniese komponente daarvan in sommige toestande, soos swangerskap, ’n gevaar kan inhou’.

Besigheidskaartjies—Is hulle dae getel?

“Met die vlaag ontvoerings in Brasilië is dit vir topbestuurders veiliger om nie kaartjies by hulle te dra wat hulle ampstitel en status bekend maak nie”, sê sekuriteitskonsultant Carl Paladini, volgens die Brasiliaanse saketydskrif Exame. Sulke persoonlike inligting gee misdadigers ’n aanduiding van hoeveel ’n persoon werd is. Vagner D’Angelo, ’n direkteur by Kroll, ’n groot sekuriteitsmaatskappy, sê selfs dat “die inhoud van jou beurs jou lewe kan verwoes”. Hy raai sakemense in hoërisikolande aan om alle verwysings na hulle titel en status van hulle kaartjies te verwyder en om “nie meer luukse papier [en] gebosseleerde detail” op hulle kaartjies te gebruik nie. Omdat hulle bang is dat misdadigers binnekort ook van hierdie taktiek te hore sal kom, het party topbestuurders heeltemal opgehou om besigheidskaartjies te gebruik.

Vigs-epidemie in die Karibiese Eilande

Naas Afrika het die Karibiese Eilande die hoogste MIV-besmettingsyfer ter wêreld, berig die internasionale uitgawe van The Miami Herald. “Volgens sommige skattings is 2,4 persent van die Karibiese Eilande se bevolking met [MIV] besmet”, en in party stedelike gebiede is tot 12 persent besmet. “Die volle omvang van die epidemie word deur vrees, ontkenning, beperkte behandeling en ’n gebrek aan hulpbronne vir openbare gesondheidsdienste verberg”, sê die Herald. “In 2001 alleen het sowat 40 000 volwassenes en kinders in die Karibiese Eilande glo aan die siekte gesterf.” Patricio Marquez, ’n gesondheidspesialis vir die Karibiese Eilande en Latyns-Amerika by die Wêreldbank, sê dat die vigsbedreiging “die produktiefste lede van die bevolking in die produktiefste ouderdomsgroep raak . . . Die risiko bestaan dat ’n hele geslag uitgewis kan word.” Haïti is die ergste getref, met ’n besmettingsyfer van meer as 6 persent. “Gesondheidsdeskundiges en politieke leiers waarsku teen die potensiaal vir verwoesting in ’n streek met klein . . . lande wat op ’n klein arbeidsmag en beperkte hulpbronne sowel as toerisme staatmaak”, sê die koerant.

Indrukwekkend onder UV-lig

Baie wetenskaplikes glo al lank dat die helder kleure van party voëls hulle help om ’n maat te lok. Bioloë by Queen’s-universiteit in Kingston, Ontario, Kanada, het gevind dat die vere van een voëlsoort ultravioletlig weerkaats. “Met ’n spektrometer, ’n waarnemingstoestel wat soos ’n pen lyk,” sê die tydskrif Canadian Geographic, “het die navorsers die onsigbare waarheid oor die vaal vere van die swartkopmees ontdek.” Die spektrometer het getoon dat “die mannetjies baie indrukwekkender lyk as die wyfies, met helderder witte en groter kontraste tussen die kleure. Die kroon en bors van die seksueel suksesvolste mannetjies weerkaats meer ultraviolet—’n kleur wat mense nie kan sien nie.” Hierdie bevinding ondersteun bestaande bewyse dat voëls “kleur beter kan sien en beter gesigskerpte as mense het”, sê Canadian Geographic.

Die sonnestelsel se rekorduitbarsting

Jupiter se maan Io het “die hewigste vulkaniese uitbarsting [gehad] wat tot nog toe in die sonnestelsel opgeteken is”, berig Science News. “Die ontsaglike getykragte wat deur Jupiter se swaartekrag uitgeoefen word, vervorm Io voortdurend en laat dit warm word, wat dit vulkanies aktief maak. Daar is moontlik elke jaar ’n stuk of 12 enorme uitbarstings op die maan.” Volgens die artikel “lyk dit asof materiaal van die rekorduitbarsting oor ’n gebied van 1 900 vierkante kilometer versprei is, ’n oppervlak wat sowat duisend keer groter is as die gebied waaroor Italië se berg Etna, een van die Aarde se aktiefste vulkane, puin gestort het”. Wetenskaplikes het die uitbarsting waargeneem met die Keck II, ’n sterk teleskoop op Hawaii se Mauna Kea, wat self ’n uitgewerkte vulkaan is. Keck II kon die uitbarsting waarneem danksy sy aanpasbare spieëls wat “vinnig genoeg beweeg om te vergoed vir die verdowwing wat deur turbulensie in die Aarde se atmosfeer veroorsaak word”, sê Science News.

Die uitwerking van ’n kind se dood op ouers

“Om van ’n gebroke hart te sterf, is moontlik meer as net ’n spreekwoord”, sê The Times van Londen. Navorsers by Denemarke se Universiteit van Århus “het die lewe van 21- 062 ouers in Denemarke gevolg wat ’n kind onder die ouderdom van 18 weens siekte, ’n ongeluk, moord of selfmoord verloor het”. Hulle het hierdie ouers vergelyk met 300 000 ander ouers wat nie ’n kind aan die dood afgestaan het nie. “In die eerste drie jaar ná ’n kind se dood was die kans dat ’n moeder weens onnatuurlike oorsake sou sterf—gewoonlik weens ’n ongeluk of selfmoord—amper vier keer groter, terwyl ’n vader se risiko met 57 persent toegeneem het.” Die navorsers sê dat groter spanning moontlik die hoofrede vir die hoër sterftesyfer is.