Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Pole se uitsonderlike kusduine

Pole se uitsonderlike kusduine

Pole se uitsonderlike kusduine

Deur Ontwaak!-medewerker in Pole

FOTO’S beeld Pole se platteland gewoonlik uit as ’n donkergroen landskap met waterryke plase, landerye en woude. Maar het jy geweet dat Pole ook ’n uitsonderlike landskap met golwende wit duine het wat selfs van die buitenste ruimte af sigbaar is? Hierdie gebied wat soos ’n woestyn lyk en tot ’n 18 kilometer lange strook van die Baltiese kus beperk is, is een van die gewildste kenmerke van die Słowiński- Nasionale Park.

Daar, sê ’n amptelike bron, “lê die see, mere, riviere, duine, woude, turfmoerasse en graslande reg langs mekaar, en vorm dit ’n afwisselende mosaïek van habitats. . . . Dit is die enigste plek waar duine tot teenaan mere en woude strek.” Trouens, die trekduine—wat die wit duine of wit heuwels genoem word—en vlak mere van die park kom nêrens anders in die hele Europa voor nie.

Hierdie enorme hope wit en geel sand vorm die grootste duingebied in Europa—ongeveer 500 hektaar—waarvan die sand nie deur plantegroei gebind word nie. Dit is gepas dat die Słowiński- Nasionale Park se amptelike simbool ’n wit meeu bo ’n geel duin en blou water is.

Die sogenoemde grys duine kom algemener in die park voor, maar is nie so indrukwekkend nie. Dit is ouer as die wit duine en is met gras en bome begroei wat nie net grond vorm nie, maar ook die sand bind deur dit vas te hou en te beskerm teen direkte blootstelling aan die elemente. Een grys duin het selfs die onderskeiding dat dit die hoogste duin in die park is. Dit is ongeveer 55 meter hoog en word die Czołpino-duin genoem.

Wanneer besoekers die duine sien—veral die uitgestrektheid van die wit trekduine—vra baie uiteraard: “Waar het al die sand vandaan gekom? En waarom het soveel daarvan langs hierdie betreklik klein deel van die Baltiese kus opgehoop?”

Die ontstaan van die duine

Hoewel navorsers geen definitiewe antwoorde op die voorafgaande vrae het nie, toon die getuienis dat die mens ’n rol daarin gespeel het. Wetenskaplikes het dit afgelei deur die stuifmeel te bestudeer wat in die verskillende grondlae, die sogenoemde “fossielgrond”, in die park behoue gebly het. Hulle navorsing het aan die lig gebring dat die gebied waar die duine tans is, voorheen dig bebos was, hoofsaaklik met eikebome. Wat het dus tot die ingrypende verandering van die landskap gelei?

Daar word gemeen dat groot kuswoudgebiede voor ons Gewone Jaartelling vernietig is deur rampspoedige brande wat veroorsaak is deur die bedrywighede van die stamme wat in die streek gewoon het. “Die sand, wat voorheen deur die woude gebind is, het vir die eerste keer beweeg”, sê die boek Słowiński National Park. Volgens die stuifmeelverslag het die woude egter weer gevestig geraak, eers met beukebome en later met dennebome.

Maar gedurende die Middeleeue is die duine, om die een of ander onverklaarbare rede, versteur en het dit weer begin beweeg. In die 16de eeu het dit selfs gedreig om die ou dorp Łeba te verswelg. Die mense het daarop gereageer deur ’n ander dorp, weg van die gevaargebied, te bou, maar hulle pogings het sake net vererger. Die boek Słowiński National Park sê: “Tydens die oprigting van die dorp en hawe is ’n ontsaglike aantal bome afgekap, maar niemand het blykbaar aan die nagevolge gedink nie.” Volgens die bogenoemde bron het die houtkappery “die duine laat beweeg teen ’n tempo wat nog nooit tevore gesien is nie”. Die trekduine het teen ’n spoed van drie tot tien meter per jaar beweeg en dorpies, landerye, graslande en selfs woudgebiede verswelg.

Waar het die sand vandaan gekom?

Mense het moontlik ’n rol gespeel in die plaaslike verandering van die landskap, maar hulle het nie die sand ingebring nie. Waar het dit dan vandaan gekom? En duur die proses nog voort? Die antwoorde sal moontlik aandui wat die toekoms vir die park inhou.

Navorsers meen dat van die sand dalk van binnelandse afsettings af gekom het en dat dit deur riviere na die see gedra is. ’n Ander bron kan die kus self wees, waar golfwerking kranse voortdurend wegvreet—’n proses wat abrasie genoem word. Langs een deel van die Baltiese kus kom die golwe byvoorbeeld teen ’n hoek van 45 grade na die kus toe aan, wat die krans stadig wegvreet en die sand wegvoer. Dit het tot gevolg dat sand op die seebodem ophoop.

Op maniere wat nog nie heeltemal verstaan word nie, werk seestrome en golwe saam om van hierdie sand van die seebodem af tot baie naby die kus van die nasionale park te vervoer, waar dit groot sandbanke vorm wat ewewydig met die kuslyn loop. Golwe en aanlandige strome skuif dan die sand stelselmatig na die strand toe, waar die son en wind oorneem deur dit uit te droog en landwaarts te waai. Daar vorm dit etlike ewewydige riwwe wat voortdurend groter word namate sand van een rif na die ander toe waai, en uiteindelik vorm dit die wit duine.

Mere by die “woestyn”

Ten spyte van die voorafgaande is die Słowiński- Nasionale Park allesbehalwe ’n lewelose woestyn. Inteendeel, dit is ’n florerende natuurgebied en is met ’n oorvloed water geseën. Die duine en strande beslaan in werklikheid slegs sowat 5 persent van die park se oppervlakte, terwyl riviere, mere en strome ongeveer 55 persent uitmaak.

Die grootste meer in die park is die Łebsko-meer, wat ’n oppervlakte van 71 vierkante kilometer en ’n maksimumdiepte van nagenoeg ses meter het. Die grootste rivier, die Łeba, vloei in hierdie meer in. Die tweede grootste meer is die Gardno-meer, wat deur die Łupawa-rivier gevoed word. Weens die sanderige, veranderlike omgewing skuif die oewerlyne van hierdie twee mere voortdurend.

’n Veilige habitat vir plante en diere

Die park se drie hoofhabitats—duine, moerasse en dennewoude—word deur die mere, riviere en strome aangevul. Saam onderhou hierdie uiteenlopende habitats bykans 900 vaatplantsoorte, insluitende orgideë. Een van die gehardste en nuttigste plante vir die ekologie is Europese sandhawer, ook bekend as marram. Sandhawer is ’n pionierplant en begin gewoonlik die proses om duine te koloniseer. Die skubberige ondergrondse stingels versprei tot 13 meter ver en stoot talle lote na die oppervlak waar bossies vorm. Op dié manier anker en bind die sandhawer geleidelik die sand van die duine, wat dit vir ander plante moontlik maak om wortel te skiet en te groei.

Die Słowiński- Nasionale Park is op ’n voëltrekroete geleë en wemel van die voëls. Sowat 260 voëlsoorte, wat ongeveer 70 persent van al die soorte in Pole verteenwoordig, woon in die park of bly daar oor tydens hulle migrasie. Die watervoëls sluit in swartkopmeeue, gewone sterretjies, kuifkopdobbertjies, wilde-eende, swane en duikerganse—eende wat maklik uitgeken word aan hulle spits “haarstyl”. Ander soorte sluit ooruile, goudarende, gevlekte arende, seearende en rawe in. As jy mooi kyk en saggies loop, kan jy ook van die soogdiere sien wat in die park woon, soos edelherte, reebokke, wildevarke, hase en wasbeerhonde, wat aan die vos verwant is.

’n Voetslaanparadys

Voetslaan is die enigste vorm van toerisme wat toegelaat word. Die park se staproetes is altesaam 140 kilometer lank en neem ’n mens deur al die verskillende habitats: naaldbosse; grys duine, graslande, vleie en moerasse; mere met hulle uitkykplatforms en wagtorings; wit duine; die duine naaste aan die water en, laastens, kilometers wit strande.

Besoekers wat in die herfs of winter kom, sal dalk selfs sien hoe die duine hulle eie spesiale vertoning gee wanneer sterk winde sand van hulle kruine afwaai, soos die sproeiwater van ’n golf in die see. Dan word daar gesê dat die duine rook. Klank word by hierdie vertoning gevoeg wanneer miljoene sanddeeltjies hard teen mekaar skuur, wat die duine laat gons of sing.

Tot 800 000 mense besoek die park jaarliks weens sy uitsonderlike en uiteenlopende natuurskatte. Baie van die besoekers hou ongetwyfeld daarvan om aan die gewoel van die stadslewe te ontsnap en geniet die natuur se terapie vir gespanne senuwees in die afgesonderdheid van die woud, die rustige gedreun van die branders en die eensame roep van die seemeeu.

[Venster/Kaart op bladsy 19]

Słowiński- Nasionale Park

Hierdie park is aan Pole se sentrale kus geleë, tussen die dorpe Łeba en Rowy. Dit is vernoem na die Kasjoebiese stam Słowińcy, ’n Slawiese volk wat tot net voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog in die omgewing gewoon het. Die park is in 1967 geopen en is in 1977 tot ’n Wêreldbiosfeerreservaat verklaar. Dit beslaan ’n gebied van 18 618 hektaar, waarvan meer as die helfte deur water bedek is. Die oorblywende deel bestaan uit woude (25 persent), strande en duine (5 persent), moerasse en vleie (8 persent), asook graslande en weivelde (8 persent).

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

BALTIESE SEE

RUSLAND

POLE

SŁOWIŃSKI- NASIONALE PARK

DUITSLAND

TSJEGGIESE REPUBLIEK

SLOWAKYE

[Prent op bladsy 16]

Daar word gesê dat die duine rook wanneer sterk winterwinde sand van hulle kruine afwaai

[Prent op bladsy 16, 17]

Gewone sterretjie

[Erkenning]

Photo by Chukchi Imuruk, National Park Service

[Prent op bladsy 17]

Duine in die somer

[Prent op bladsy 17]

Duine in die winter

[Prent op bladsy 18]

Łebsko-meer

[Prent op bladsy 18]

Europese sandhawer

[Prent op bladsy 18]

Reebok

[Prent op bladsy 18]

Unieke sandformasies

[Prent op bladsy 18]

Duikergans