Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom laat God ons ly?

Waarom laat God ons ly?

Jongmense vra . . . 

Waarom laat God ons ly?

“God is bo in die hemel waar alles aangenaam is, terwyl ons hier onder ly.”—Maria. a

VANDAG se jongmense is in ’n wrede wêreld gebore. Tragiese aardbewings en natuurrampe wat die lewens van duisende eis, kom algemeen voor. Oorloë en terreuraanvalle oorheers die nuus. Siektes, misdaad en ongelukke neem ons geliefdes van ons weg. Maria, wat hierbo genoem word, is persoonlik deur ’n tragedie geraak. Sy het hierdie bitter woorde ná haar pa se dood gesê.

Wanneer ’n tragedie ons persoonlik tref, is dit net menslik om frustrasie, ’n gevoel van verlies of selfs woede te ervaar. ‘Waarom moes dit gebeur?’ wonder jy dalk. ‘Waarom ek?’ of ‘Waarom nou?’ Sulke vrae verdien bevredigende antwoorde. Maar om die regte antwoorde te kry, moet ons na die regte bron gaan. Dit is soos ’n jong man, Turrell, gesê het: Partykeer is mense “so hartseer dat hulle dinge nie goed kan deurdink nie”. Daarom sal jy dalk ’n manier moet vind om jou emosies ’n bietjie te kalmeer sodat jy kan dink—logies en rasioneel.

Verduur onaangename werklikhede

Dit is dalk onaangenaam om daaraan te dink, maar die dood en lyding is onvermydelik. Job het dit goed gestel toe hy gesê het: “Die mens, uit ’n vrou gebore, lewe ’n kort rukkie en is sat van ontsteltenis.”—Job 14:1.

Die Bybel belowe ’n nuwe wêreld waarin “regverdigheid [sal] woon” (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). Maar voordat daardie ideale toestande verwesenlik word, moet die mensdom ’n tydperk van ongekende goddeloosheid deurmaak. “Weet dít”, sê die Bybel, “dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom.”—2 Timoteus 3:1.

Hoe lank sal hierdie moeilike tye duur? Jesus se dissipels het min of meer dieselfde vraag gevra. Maar Jesus het hulle nie ’n spesifieke dag of uur gegee wanneer hierdie stelsel van dinge vol ellende sou eindig nie. Jesus het eerder gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 24:3, 13). Jesus se woorde moedig ons aan om ’n langtermynbeskouing te hê. Ons moet bereid wees om talle onaangename situasies te verduur voordat die einde uiteindelik kom.

Moet God die skuld kry?

Maak dit dan sin om vir God kwaad te wees omdat hy lyding toelaat? Nie as jy daaraan dink dat God belowe het om ’n einde aan alle lyding te maak nie. Dit maak ook nie sin om te dink dat God veroorsaak dat slegte dinge gebeur nie. Talle tragiese voorvalle is bloot die gevolg van toevallige gebeurtenisse. Sê nou byvoorbeeld die wind waai ’n boom om en dit beseer iemand. Mense sê dalk dit is God se wil. Maar God het nie daardie boom laat omval nie. Die Bybel help ons om te verstaan dat sulke dinge eenvoudig die droewige gevolg van “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” is.—Prediker 9:11.

Lyding kan ook die gevolg van swak oordeel wees. Gestel ’n groep jongmense drink te veel en gaan dan ’n ent ry. Dit lei tot ’n ernstige ongeluk. Wie se skuld is dit? God s’n? Nee, hulle dra die gevolge van hulle swak oordeel.—Galasiërs 6:7.

‘Maar is God nie magtig genoeg om nóú ’n einde aan lyding te maak nie?’ vra jy dalk. Party getroue manne in Bybeltye het hieroor gewonder. Die profeet Habakuk het God gevra: “Waarom kyk u na dié wat verraderlik handel, bly u stil wanneer die goddelose iemand verswelg wat regverdiger is as hy?” Habakuk het egter nie haastig gevolgtrekkings gemaak nie. Hy het gesê: “Ek sal wag hou, om te sien wat hy deur my sal sê.” Later het God hom verseker dat Hy op ’n “vasgestelde tyd” ’n einde aan lyding sal maak (Habakuk 1:13; 2:1-3). Ons moet dus geduldig wees en wag dat God op sy vasgestelde tyd ’n einde aan goddeloosheid maak.

Moenie oorhaastig die gevolgtrekking maak dat God op die een of ander manier wil hê dat ons moet ly of dat hy ons persoonlik op die proef stel nie. Dit is waar dat lyding die beste in ons na vore kan bring en dat die Bybel sê dat die beproewinge wat God toelaat, ons geloof kan louter (Hebreërs 5:8; 1 Petrus 1:7). Trouens, baie mense wat beproewende of traumatiese ondervindinge deurmaak, word geduldiger of meer medelydend. Maar ons moenie die gevolgtrekking maak dat God hulle lyding veroorsaak nie. As ons so redeneer, neem ons nie God se liefde en wysheid in aanmerking nie. Die Bybel sê duidelik: “Laat niemand, wanneer hy beproef word, sê: ‘Ek word deur God beproef’ nie. Want met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie.” Inteendeel, “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” kom van God!—Jakobus 1:13, 17.

Waarom God goddeloosheid toelaat

Waar kom goddeloosheid dan vandaan? Onthou dat God teenstanders het—hoofsaaklik “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei” (Openbaring 12:9). God het ons eerste ouers, Adam en Eva, in ’n probleemvrye wêreld geplaas. Maar Satan het Eva oortuig dat sy beter daaraan toe sou wees sonder God se heerskappy (Genesis 3:1-5). Eva het ongelukkig Satan se leuens geglo en was ongehoorsaam aan God. Adam het by haar aangesluit in hierdie opstand. Wat was die gevolg? “Die dood [het] tot alle mense deurgedring”, sê die Bybel.—Romeine 5:12.

God het nie onmiddellik ’n einde aan hierdie opstand gemaak deur Satan en sy volgelinge te vernietig nie, maar het dit goedgedink om tyd te laat verloop. Wat sou hy daardeur bereik? Om maar een ding te noem, dit sou Satan as ’n leuenaar aan die kaak stel! Dit sou bewyse laat ophoop dat onafhanklikheid van God bloot ellende meebring. Is dit nie presies wat gebeur het nie? “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Boonop het “die mens oor die mens geheers . . . tot sy nadeel” (Prediker 8:9). Die mensdom se godsdienste is ’n doolhof van teenstrydige leringe. Sedelikheid het ’n algehele laagtepunt bereik. Menseregerings het al elke denkbare vorm van heerskappy probeer. Hulle onderteken verdrae en maak wette, maar daar word nog steeds nie in die behoeftes van die gewone mense voorsien nie. Oorloë bring net meer ellende.

Ons het beslis nodig dat God ingryp en ’n einde aan goddeloosheid maak! Maar dit sal slegs op God se bestemde tyd plaasvind. Tot dan is dit ons voorreg om God se heerskappy te ondersteun deur sy wette en beginsels te gehoorsaam soos dit in die Bybel uiteengesit word. Wanneer slegte dinge gebeur, kan ons vertroosting put uit die vaste hoop op lewe in ’n probleemvrye wêreld.

Nie alleen nie

En tog, wanneer lyding ons persoonlik raak, vra ons: ‘Waarom ek?’ Die apostel Paulus herinner ons egter daaraan dat ons nie alleen is wanneer ons lyding verduur nie. Paulus sê dat “die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly” (Romeine 8:22). As jy hierdie dinge weet, kan dit jou help om lyding te verduur. Die terreuraanvalle van 11 September 2001 in die stad New York en Washington, DC, was byvoorbeeld vir Nicole ’n emosioneel traumatiese ondervinding. “Ek was met afgryse vervul en was bang”, erken sy. Maar haar siening het verander toe sy die verhale gelees het van hoe haar mede-Christene daardie tragedie verwerk het. b “Ek het besef dat ek glad nie alleen is nie. Ek het stadigaan van my pyn en droefheid begin herstel.”

In sekere gevalle sal dit verstandig wees om met iemand te gaan gesels—’n ouer, ’n volwasse vriend of ’n Christen- ouer man. As jy jou gevoelens uitstort teenoor iemand wat jy vertrou, sal jy met ’n “goeie woord” aangemoedig word (Spreuke 12:25). ’n Jong Christen van Brasilië sê: “Ek het my pa nege jaar gelede verloor, en ek weet dat Jehovah hom eendag sal opwek. Maar iets wat my gehelp het, was om my gevoelens neer te skryf. Ek het ook met my Christenvriende oor my gevoelens gesels.” Het jy enige ‘ware metgeselle’ wat jy in jou vertroue kan neem? (Spreuke 17:17). Vind dan baat by hulle liefdevolle hulp! Moenie bang wees om te huil of aan jou emosies uiting te gee nie. Selfs Jesus het immers een keer “trane gestort” oor die tragiese verlies van ’n vriend!—Johannes 11:35.

Die Bybel verseker ons dat ons eendag “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word” en “die glorieryke vryheid van die kinders van God” sal geniet (Romeine 8:21). Totdat dit gebeur, sal talle goeie mense moontlik nog ly. Put vertroosting uit die feit dat jy weet waarom hierdie lyding plaasvind—en dat dit nie lank sal aanhou nie.

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b Sien die reeks “Moed te midde van ’n ramp” in die Ontwaak! van 8 Januarie 2002.

[Prent op bladsy 14]

Dit sal dalk help as jy aan jou droefheid uiting gee