Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe moet ek dansklubs vir jongmense beskou?

Hoe moet ek dansklubs vir jongmense beskou?

Jongmense vra . . .

Hoe moet ek dansklubs vir jongmense beskou?

“Ek het met ’n doel gegaan—om regtig pret te hê.”—Shawn.

“Ek moet eerlik wees, dit was pret—dit was groot pret! Daar is baie gedans, die hele nag deur.”—Ernest.

DANSKLUBS vir jongmense het in onlangse jare baie gewild geraak. Baie jongmense wat plesier najaag, besoek gereeld sulke klubs.

Ons almal hou natuurlik daarvan om pret te hê. En die Bybel sê daar is “’n tyd om te lag” en selfs “’n tyd om . . . te dans” (Prediker 3:4, Die Bybel, 1983). Maar kan ’n dansklub vir jongmense heilsame ontspanning bied? Of is daar goeie rede om twee keer te dink voordat jy na een gaan?

“Wilde partytjies”

Hoewel die Bybel nie beskeie gesellighede veroordeel nie, waarsku dit wel teen “swelgerye”, of “wilde partytjies” (Galasiërs 5:19-21; Byington). In Bybeltye het swelgerye dikwels tot onbeheerste gedrag gelei. Die profeet Jesaja het geskryf: “Wee dié wat vroeg in die oggend opstaan sodat hulle net sterk drank kan soek, wat tot laat in die aandskemering draal sodat die wyn hulle verhit! En daar sal harp en snaarinstrument, tamboeryn en fluit en wyn by hulle feeste wees; maar na die dade van Jehovah kyk hulle nie.”—Jesaja 5:11, 12.

Hierdie gesellighede is deur “sterk drank” en wilde musiek gekenmerk. Dit het vroeg begin en tot laat in die aand aangehou. Let ook op die gesindheid van die partytjiegangers—hulle het opgetree asof God nie bestaan nie! Geen wonder dat God sulke gesellighede veroordeel het nie. Maar hoe voel God oor wat vandag in baie dansklubs vir jongmense gebeur?

Kyk na die feite. Om maar een ding te noem, by sommige klubs word daar nog steeds “crowd surfing” gedoen asook wilde stamp-en-stoot-danse wat moshing genoem word. Een bron sê dat moshing “gedurende die middeltagtigerjare in postpunk-klubs in die Verenigde State ontstaan het. Dit het ontwikkel . . . uit ‘skouerstampdansery’ (slam dancing) waartydens die dansers teen mekaar stamp.” Stamp-en-stoot-dansery is wanneer die dansers op en af spring, hulle kop hewig skud en maak asof hulle hulle kop teen iemand anders s’n gaan stamp, asook wanneer hulle teen ander dansers bots. Gebreekte ledemate en snye is algemeen, en daar was ook al rug- en kopbeserings. Dit het selfs al tot die dood gelei. En met crowd surfing word iemand bo ’n skare se koppe opgetel en op hulle hande gedra asof hy golfry. Baie mense is al laat val en derhalwe beseer. Dit is nie ongewoon dat meisies op onwelvoeglike maniere betas en aangeraak word nie.

God keur ongetwyfeld sulke gedrag af. Sy Woord beveel Christene immers “om goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met gesonde verstand . . . te lewe”.—Titus 2:12.

Musiek en dwelms

Dink ook aan die soort musiek wat by die meeste dansklubs gespeel word. Party spesialiseer in soorte harde rock- of heavy metal-musiek, wat deur ’n polsende ritme en onwelvoeglike lirieke gekenmerk word. Maar in baie klubs is rap, of hip-hop, die gewildste musiek. Ook hierdie musiek verheerlik seks, geweld en opstand. Kan dit ’n uitwerking op jou hê as jy jou in ’n onheilsame omgewing aan sulke musiek blootstel? David Hollingworth, ’n nagklubkonsultant, het gesê: “Musiek het ’n ontsaglike sielkundige uitwerking op mense. As jy hulle in groot groepe bymekaarkry, kan dit aggressiewe gesindhede bevorder.” Geen wonder dat daar ’n vlaag van geweld by dansklubs in ’n aantal Amerikaanse stede was nie. Baie mense meen dat dit die regstreekse gevolg is van ’n musiekwêreld wat vulgêre dade en wreedheid verheerlik. a

In onlangse jare het dwelmmisbruik ook deel uitgemaak van die dansklubtoneel. ’n Navorser het gesê dat “die beskikbaarheid, verskeidenheid en gebruik van dwelms . . . met die gewildheid van dansklubkulture verband hou”. Daar is selfs dwelms wat dansdwelms genoem word. Sommige mense wat dansklubs gereeld besoek, gebruik selfs ’n kombinasie van dwelms. Een van die dwelms wat die meeste gekombineer word, is ketamien (ook special K genoem), wat dissosiasie, ylhoofdigheid, asemhalingsprobleme en neurologiese skade kan veroorsaak. Metamfetamien kan geheueverlies, aggressie, geweld en moontlik hart- en neurologiese skade teweegbring. Die dwelm ecstasy, met ’n amfetamienbasis, is veral gewild. Dit kan aanleiding gee tot verwarring, angs, ’n vinnige polsslag, hoë bloeddruk en hipertermie. Sommige ecstasy-gebruikers het selfs al gesterf.

Dwelmmisbruik is in stryd met die Bybel se bevel om “ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees [te] reinig” (2 Korintiërs 7:1). Is dit verstandig om jou in ’n omgewing te plaas waar dwelmmisbruik aan die orde van die dag is?

Slegte omgang

Onthou die waarskuwing wat dikwels aangehaal word: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Soos die partytjiegangers in Bybeltye lyk dit of die meeste jongmense wat dansklubs besoek, nie daarin belangstel om God te behaag nie. In werklikheid kan die meeste beskryf word as “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” (2 Timoteus 3:4). Wil jy werklik noue omgang met sulke mense hê?

Party redeneer dalk dat dit nie so gevaarlik is as hulle saam met ander Christenjongmense na ’n dansklub gaan nie. Maar Christenjongmense wat werklik “’n voorbeeld vir die getroues . . . in gedrag” is, sal waarskynlik nie wil gaan nie (1 Timoteus 4:12). Selfs al sou ’n groep Christenjongmense na ’n dansklub gaan en dit regkry om as ’n groep bymekaar te bly, sou die skadelike musiek en atmosfeer nog steeds daar wees. Hulle kan dalk in ’n gespanne of ongemaklike situasie beland as ander hulle nooi om met hulle te dans. Party jongmense het al selfs in ’n bakleiery betrokke geraak! Die Bybel se woorde word dus waar bewys: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.”—Spreuke 13:20.

Uitlokkende danse

Dan is daar die danse self. “Freak dancing” het baie gewild geword, veral onder tieners in die Verenigde State. Die dans word normaalweg gedoen op hip-hop-musiek, wat gewoonlik seksueel eksplisiete lirieke het. Wat meer is, die dans boots geslagsomgang na. Die bewegings van hierdie soort dans is dus al beskryf as ‘seks met klere aan’.

Sal ’n jong Christen hierdie soort danse wil doen? Nie as hy of sy God wil behaag nie, wat ons beveel om te “vlug vir die hoerery” (1 Korintiërs 6:18). Party redeneer dalk: ‘As al die ander dit doen, kan dit nie so sleg wees nie.’ Die menigte kan egter verkeerd wees (Eksodus 23:2). Jy moet die moed hê om jou man te staan teen jou portuurs en ’n goeie gewete teenoor God te handhaaf!—1 Petrus 4:3, 4.

Hoe om die besluit te neem

Dit beteken nie dat alle soorte dans verkeerd is nie. Die Bybel sê vir ons dat koning Dawid so oorstelp van vreugde was nadat hy die heilige verbondsark na Jerusalem teruggebring het dat hy “met alle mag . . . rondgedans” het (2 Samuel 6:14). In Jesus se gelykenis van die verlore seun het die blydskap omdat die seun teruggekeer het, met “’n musiekkonsert en gedans” gepaardgegaan.—Lukas 15:25.

Net so is sommige danse dalk onder Christene in jou omgewing aanvaarbaar. Selfs dan is balans en goeie oordeel belangrik. Dit is baie veiliger om by gesellighede van Christene waar daar genoeg beheer en toesig is na musiek te luister en te dans as by tienerklubs. By sulke gesellighede skei jongmense hulle nie af nie, maar geniet hulle heilsame omgang met Christene van alle ouderdomme.

Daar is moontlik restaurante in jou gemeenskap waar musiek gespeel en daar op aanvaarbare maniere gedans word. Maar voordat jy ’n uitnodiging na so ’n plek aanvaar, sal dit verstandig wees om vrae soos die volgende te vra: Watter soort reputasie het die plek? Is dit net vir jongmense? Indien wel, hoe waarskynlik is dit dat daar ’n heilsame atmosfeer sal wees? Watter soort musiek sal gespeel word? Watter soort danse word daar gedoen? Hoe voel my ouers oor die feit dat ek wil gaan? Dit kan jou beskerm om vrae soos hierdie te vra.

Shawn, wat aan die begin aangehaal is, som alles mooi op. Voordat hy ’n Christen geword het, het hy dikwels dansklubs besoek. Hy sê: “Losbandige gedrag is baie algemeen in nagklubs. Die musiek is gewoonlik verderflik, die danse is gewoonlik baie onsedelik en die meeste van die mense wat soontoe gaan, gaan met ’n rede—hulle wil die klub saam met iemand verlaat om geslagsomgang te hê.” Shawn het opgehou om klubs te besoek nadat hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het. Hy gee sy mening, wat op pynlike ondervinding gegrond is: “Daardie klubs is nie die plek vir Christene nie.”

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Waarom musiek ons beïnvloed” in die Ontwaak! van 8 Oktober 1999.

[Prent op bladsy 26]

Sommige jongmense het al in ongemaklike situasies in dansklubs beland