Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Net om mooi te lyk?

Net om mooi te lyk?

Net om mooi te lyk?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

HET jy al ooit opgemerk dat voëls skynbaar baie tyd daaraan bestee om hulle vere glad te stryk? Elke dag doen hulle ure lank skynbaar niks anders as om hulle vere skoon te maak nie. Of hulle nou papegaaie of pelikane, mossies of flaminke is, hulle gaan almal deur hierdie daaglikse ritueel. Waarom? Probeer hulle maar net mooi lyk?

Die werklike rede is baie belangriker. Dit is vir voëls net so noodsaaklik om hulle vere skoon te maak en glad te stryk as wat dit vir ’n vliegtuig is om deeglik nagesien te word. Trouens, vir voëls is dit ’n saak van lewe en dood om hulle vere in ’n goeie toestand te hou. Hulle vere word aan baie slytasie blootgestel, en wanneer hulle dit glad stryk, hou dit die vere nie net skoon en parasietvry nie, maar ook aërodinamies.

Die daaglikse versorgingsroetine behels dat enige spriete van ’n voël se vere wat moontlik uitgehaak het, “toegerits” word. Wanneer die spriete behoorlik aanmekaar gehaak is, gee die veer die voël groter stygkrag. “Twee groepe vere het spesiale aandag nodig”, verduidelik die Book of British Birds, “die vliegvere van die vlerke en die ‘stuur’-vere van die stert”.

Voëls het ook ’n voortdurende stryd om parasiete van hulle lyf af te hou. Buiten dat dit ’n gesondheidsgevaar vir die voël inhou, eet die piepklein parasiete in werklikheid die vere. Natuurkenners het opgemerk dat voëls met beskadigde snawels hulle vere nie behoorlik kan glad stryk nie, en gevolglik het hulle meer veerparasiete as normale voëls. Om die verwydering van parasiete te vergemaklik, bedek party voëlspesies hulle selfs met miere, aangesien mieresuur blykbaar ’n doeltreffende insekdoder is.

Laastens moet die vere met olie gesmeer word. Die olie op die vere van watervoëls gee hulle ’n waterdigte laag, en alle voëls word beter teen die weer beskerm as hulle genoeg olie op hulle vere het. Waar kom die olie vandaan? ’n Spesiale klier wat as die oliekannetjie bekend staan en net bokant die stert geleë is, skei olies en wasse af wat die voël geduldig aan sy vere smeer. In die proses kry die vliegvere weer eens spesiale aandag.

Ons hoef dus nie aan te neem dat ’n voël sy tyd mors wanneer hy sy vere glad stryk nie. Hierdie proses help die voël weliswaar om mooi te lyk, maar dit hou hom ook gesond. In die voëlwêreld hang oorlewing daarvan af dat voëls hulle vere glad stryk.

[Diagram/Prente op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Skag

Ritshakies

Baardjies

Spriete

[Prent]

Deur hulle vere glad te stryk, haak voëls die klein komponente van hulle vere aanmekaar, wat dus die spriete toerits

[Foto-erkenning op bladsy 23]

Cortesía del Zoo de la Casa de Campo, Madrid

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Pelikaan: Foto: Loro Parque, Puerto de la Cruz, Tenerife; papegaai: Cortesía del Zoo de la Casa de Campo, Madrid