Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Aggressiewe gemorskosbemarking op kinders gerig

Al hoe meer voedingkundiges beskuldig kitskosmaatskappye daarvan dat hulle “’n veldtog [voer] wat kinders slegte eetgewoontes leer en daartoe lei dat hulle oorgewig word”, sê ’n artikel wat in Tokio se koerant IHT Asahi Sjimboen verskyn het. “Televisie bly die kragtigste middel waardeur kinders aangespoor word om te koop”, sê die berig, maar voedselmaatskappye maak daarbenewens “van elke ander denkbare manier gebruik om hulle naam onder die aandag van kinders te bring”. Hulle gebruik rolprente, speletjies, Internetwerwe, rekenkundeboeke en ’n groot verskeidenheid poppe en speelgoed vir reklame. Waarom word reklame op kinders gerig? “Dis die grootste mark wat daar is”, sê Texas A&M se professor in bemarking, James McNeal. Maar professor Walter Willet van die Harvard-universiteit se Fakulteit van Openbare Gesondheid sê: “Die oorgrote meerderheid van wat hulle verkoop, is gemors. Hoe dikwels sien jy dat vrugte en groente bemark word?”

Veiligheid van waterbottels

Volgens ’n studie deur die Universiteit van Calgary, Kanada, is daar “gevaarlik hoë bakterievlakke gevind in waterbottels wat nie skoongemaak is voordat dit weer gebruik is nie”, berig die tydskrif Better Homes & Gardens. In die studie het meer as 13 persent van die bottels wat laerskoolleerlinge gebruik het, veilige bakterievlakke oorskry. Die bakterieë het soorte ingesluit wat in ontlasting voorkom—waarskynlik omdat die leerlinge hulle hande nie deeglik was nie. Een navorser doen aan die hand dat waterbottels gereeld met warm water en seep gewas moet word en elke keer toegelaat moet word om heeltemal droog te word voordat dit weer volgemaak word.

Musieklesse en geheue

Nuwe navorsing toon dat “kinders wat musieklesse kry, ’n baie beter geheue en woordeskat ontwikkel as kinders wat dit nie kry nie”, berig die koerant Globe and Mail van Kanada. Volgens dr. Agnes Chan van die Chinese Universiteit van Hongkong stimuleer ’n studie van musiek die linkerkant van die brein, wat die algemene breinwerking verbeter en die brein beter laat vaar op ander gebiede—soos woordvaardigheid. Mondelinge en visuele geheuetoetse is op 90 leerlinge tussen die ouderdomme van 6 en 15 gedoen. Dié wat musieklesse gekry het, kon heelwat meer woorde onthou as dié wat dit nie gekry het nie. Hoe langer hulle met musieklesse aangehou het, hoe beter was hulle woordvaardigheid. “Dis soos kruisoefening vir die brein”, het Chan gesê. Sy meen dat diegene wat musieklesse neem, “waarskynlik op skool makliker sal leer”.

Hoeveel sterre?

The Daily Telegraph van Londen berig: “Sterrekundiges het uitgewerk dat 70 duisendtriljoen—of sewe gevolg deur 22 nulle—sterre [met ’n teleskoop] van die Aarde af gesien kan word.” Die sterrekundiges, uit Amerika, Australië en Skotland, “het al die sterrestelsels in ’n klein gebied van die heelal naby die Aarde getel” en geskat hoeveel sterre elkeen bevat. Na aanleiding van hierdie syfer het hulle toe geskat hoeveel sterre daar aan die res van die hemel is. “Dit is nie die volle aantal sterre in die heelal nie, maar dit is die aantal wat met ons teleskope opgespoor kan word”, het die spanleier, dr. Simon Driver van Australië, gesê. “Selfs vir ’n beroepsterrekundige wat gewoond is om met astronomiese getalle te werk, is dit verbysterend.” Net ’n paar duisend sterre kan van die donkerste plekke op aarde af met die blote oog gesien word, en net 100 van ’n groot stad af.

Lae banddruk

“Een uit 17 noodlottige hoofwegongelukke hou regstreeks verband met die toestand van die buitebande”, sê ’n amptelike berig in die Franse tydskrif Valeurs actuelles. Studies deur die Michelin-bandmaatskappy het getoon dat “2 uit 3 voertuie in 2002 ten minste een band gehad het wat altyd effens pap was”. Volgens Pierre Menendes, hoof van tegniese kommunikasie vir Michelin, “dink bestuurders verkeerdelik dat te veel druk hulle bande kan laat bars en dat dit gevaarliker is as te min druk. Die teendeel is die geval.” Wanneer die banddruk te ver onder normaal is, neem dit langer om te rem, is die bande se klouvermoë om draaie nie so goed nie en kan ’n mens volgens die berig “beheer verloor as jy die stuurwiel skielik draai”. Boonop verander die band se vorm namate die druk verminder. Dit laat sy komponente te warm word, wat daartoe kan lei dat die band bars.

Godsdiens verloor veld in Frankryk

In Frankryk “is die beoefening van godsdiens aan die kwyn”, berig die Franse dagblad Le Monde. Hoewel 73 persent van die Franse bevolking sê dat hulle godsdienstig is, glo net 24 persent dat God se bestaan “’n sekerheid” is. Nog 34 persent het gesê dat dit “waarskynlik” is, terwyl 19 persent “onwaarskynlik” gesê het en 22 persent gesê het dat sy bestaan “onmoontlik” is. Net 12 persent van dié wat ondervra is, woon ten minste een keer per week ’n kerkdiens by, en 25 persent bid “elke dag” of “dikwels”. Die sosioloog Régis Debray het gesê dat godsdiens nie meer ’n saak van oortuigings is nie, maar ’n saak van lidmaatskap word. “Godsdiens word ’n etiket”, het hy gesê.

Seeskulptrompette

“Ou Peruaanse trompette wat van Strombus-trompetskulpe gemaak is, is moontlik gebruik om oor groot afstande seine te gee”, berig die tydskrif New Scientist. Navorsers het 20 versierde skulptrompette in Peru ontdek, wat elkeen verander is sodat dit ’n mondstuk het. In die laboratorium het die trompette ’n klank van 111 desibels voortgebring—min of meer so hard soos die geluid van ’n heimasjien. “Die deurdringende klank van die trompette sou ten minste vier kilometer ver in die stil Andesheuwels gehoor kon word”, sê New Scientist.

Kontantlose trougeskenke

By tradisionele Turkse troues versier vriende die bruid met juweliersware en die bruidegom met geld. Maar in Turkye, soos in baie ander lande, word kredietkaarte al hoe gewilder in die samelewing. By ’n onlangse troue in Antalya het die bruidspaar ’n draagbare kredietkaartmasjien na die feestelikheid gebring, berig die Frankfurter Allgemeine Zeitung. Vriende en familielede het hulle kaarte deur die masjien gesit om geld in die egpaar se bankrekening te deponeer en het die bruid en bruidegom toe met die gedrukte kwitansies versier.

Byekorfverwarming

Om koue winters te oorleef, wek heuningbye warmte op “deur hulle vliegspiere te laat bewe”, berig die Frankfurter Allgemeine Zeitung. Maar die temperatuur in ’n korf is nie oral dieselfde nie. Die bye se gemiddelde liggaamstemperatuur verminder van 30 grade Celsius in die middel van die korf tot 12 grade of minder aan die rand. Wetenskaplikes by die Universiteit van Graz, Oostenryk, het uitgevind dat bye in die middel van die korf baie meer bewe as dié nader aan die rand. Sodoende verminder die bye die hoeveelheid warmte wat uit die korf ontsnap en het hulle dus minder voedsel vir die winter nodig. Die vraag is nou: Hoe weet die bye in die warm, knusse middel van die korf dat hulle meer warmte moet opwek as die bye nader aan die rand?