Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom soen hulle die Blarney-steen?

Waarom soen hulle die Blarney-steen?

Waarom soen hulle die Blarney-steen?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN IERLAND

VOLGENS legende het dit só gebeur: ’n Man het bewend voor koningin Elizabeth I van Engeland gestaan. Hy het so pas slegte nuus van ’n Ierse familiehoof oorgedra en het verwag dat sy woedend sou wees. Die koningin het onverwags begin lag en uitgeroep: “Dit is nou tipies van Blarney. Hy bedoel nooit wat hy sê nie!” Meteens is die spanning verlig.

Die koningin, wat van 1558 tot 1603 regeer het, het heel moontlik nie verwag dat hierdie woorde ’n unieke tradisie in Ierland sou laat ontstaan nie—naamlik, om die sogenoemde Blarney-steen te soen. Elke jaar kom duisende mense na die dorpie Blarney, wat ’n paar kilometer noord van die stad Cork geleë is, om hierdie eienaardige ritus uit te voer. Hulle soen die steen, want sodoende kan hulle glo ’n gawe ontvang—die gawe van welsprekendheid.

Wat is die agtergrond van die legende? En hoe het die gebruik om die steen te soen, ontstaan? Om die antwoorde te vind, moet ons amper tien eeue in die geskiedenis teruggaan.

’n Kasteel met ’n lang geskiedenis

Toe die Blarney-kasteel in die tiende eeu G.J. gebou is, was dit niks meer as ’n klein houtvesting nie. Mettertyd is dit met ’n stewiger klipgebou vervang. Teen die middel van die 15de eeu het die MacCarthy-familie die kasteel in ’n klein, versterkte dorp ontwikkel. Destyds was dit die sterkste kasteel in daardie deel van Ierland. Baie van die klipmure was vyf en ’n half meter dik.

Die familiehoof, Cormac MacCarthy, wat van 1411 tot 1494 geleef het, wou ’n permanente gedenkteken ter ere van homself agterlaat. Hy het dus ’n groot blok kalksteen uitgesoek en ’n inskripsie in Latyn daarop laat graveer, wat soos volg vertaal word: “Cormac MacCarthy die Magtige het my in die jaar van ons Here 1446 laat bou.” Messelaars het hierdie steen hoog in die toring van die Blarney-kasteel ingemessel. Aanvanklik het dit net as ’n eenvoudige gedenksteen gedien. Mense het eers meer as ’n eeu later begin om dit met vleitaal en welsprekendheid te assosieer.

Blarney en welsprekendheid

Hoewel die legende wat aan die begin gemeld is, moontlik meer fiksie as feite bevat, pas dit wel in die konteks van die tyd. Koningin Elizabeth wou hê dat die Ierse familiehoofde trou moes sweer aan die Engelse kroon. Die MacCarthy-familie het duisend soldate versamel om ten minste een geveg vir haar te veg. Die koningin was dus seker dat die heersende hoof van die MacCarthy-familie, Cormac McDermod MacCarthy, maklik oorreed sou kon word om sy absolute lojaliteit aan haar te gee.

Aangesien koningin Elizabeth nie self die onderhandelings kon voer nie, het sy ’n verteenwoordiger as haar woordvoerder aangestel. Toe die verteenwoordiger amptenare gestuur het om MacCarthy te probeer oorreed om aan die koningin trou te sweer, is hulle, volgens die storie in die boek The Blarney Stone, met “uitgerekte, indrukwekkende vleitaal begroet, wat baie belowe het maar min gelewer het”.

Daar word vertel dat koningin Elizabeth se verteenwoordiger uiteindelik self met MacCarthy gaan praat het. Daarna het hy na Engeland gereis om persoonlik aan die koningin verslag te doen. Hy het geweet dat sy nie gelukkig sou wees met die nuus nie—dat MacCarthy weer eens “meer tyd gevra het” sodat hy verdere raad van sy raadgewers kon inwin.

Ná die koningin se aanvanklike reaksie, wat aan die begin van hierdie artikel beskryf is, het sy ’n voorstel gemaak omtrent die nuwe uitdrukking wat sy gebruik het. “Ons moet hierdie woord [blarney] aan meneer Shakespeare gee! Hy sal dit sekerlik kan gebruik”, het sy gesê. a As die legende waar is, was koningin Elizabeth die eerste een wat die woord blarney gebruik het om na vleitaal of mooipraatjies te verwys. Volgens een naslaanwerk verwys blarney daarna om leuens met skaamtelose vermetelheid te vertel.

Hoe dit ook al sy, teen 1789 het dit al vir diegene wat dit gewaag het, ’n gevestigde gebruik geword om die Blarney-steen te soen. Die ligging van die steen in die kasteelmuur het dit gevaarlik gemaak vir enige besoeker om dit te probeer soen. Toe die kasteel gerestoureer is, is die steen dus na sy huidige, toegankliker ligging verskuif. Mettertyd het eienaars van die kasteel MacCarthy se steen vervang met ’n steen wat hulle eie inskripsie gehad het.

’n Besoek aan die kasteel

Ons het onlangs die kasteel besoek. Die groot toring waarin die nou gewilde Blarney-steen is, is die eerste ding wat ’n mens sien. Ons het die toring binnegegaan, met die afgeloopte kliptrappe van die spiraaltrap opgeklim en uiteindelik deur ’n klein, nou ingang gegaan. Die Blarney-steen is in die oorkantste muur geleë.

Ons het nader gestaan om te kyk hoe ’n vrou die steen soen. Sy moes op haar rug lê met haar kop en skouers oor ’n opening wat omtrent drie meter lank en een meter wyd is. “Jy is heel veilig”, het die helper gesê. “Jy kan nie deur die opening val nie, want daar is stewige veiligheidstralies daaroor. Ek hou jou in elk geval goed vas!”

Die vrou het haar arms bo haar kop uitgestrek en aan twee ysterstawe vasgehou wat aan die muur bokant die steen aangebring is. Toe het haar kop as ’t ware verdwyn terwyl sy nog verder teruggeleun en kop eerste in die gaping afgesak het. Sy het stadig afgesak om die steen te soen. Terwyl ons toegekyk het, kon ons die grond amper 25 meter onder haar sien!

Sy het die steen so vinnig moontlik gesoen en haar toe met die ysterstawe begin optrek. Met die hulp van die helper kon sy haar tot in ’n sittende posisie trek en toe opstaan. Dit was tyd vir die volgende waaghals om dieselfde toertjie uit te voer!

Ons het op die steen afgekyk en gesien hoe verkleur dit is. “Die steen lyk so”, het die helper verduidelik, “as gevolg van al die mense wat dit oor die jare gesoen het. Maar moenie daaroor bekommerd wees nie”, voeg hy by, “ons hou die steen skoon deur dit vier of vyf keer per dag te was!”

Daar was al klaar ander wat tougestaan het vir hulle beurt. Ons was glad nie van plan om dit te probeer nie—dit lyk of daar te veel bygelowigheid, leuens en moontlik selfs spiritisme by die tradisie betrokke is. Interessant genoeg, ’n ander legende beweer dat die hele tradisie ontstaan het toe ’n ou vrou deur towerkrag die gawe van welsprekendheid aan ’n koning gegee het wat haar van verdrinking gered het. Ons het dit dus nie self gedoen nie, maar het eerder die besoeker wat pas die steen gesoen het, gevra of sy regtig glo dat sy nou die gawe van vleiende taal of welsprekendheid gekry het.

“Glad nie!” het sy gesê. Sy het dit net vir die pret gedoen, blykbaar sonder om veel oor die betekenis van die daad te dink. Soos baie ander besoekers aan hierdie geskiedkundige plek wil sy net vir haar vriende kan sê dat sy die Blarney-steen gesoen het!

[Voetnoot]

a Sy het verwys na haar beroemde tydgenoot, die Engelse dramaturg William Shakespeare.

[Prent op bladsy 18]

Die toring van Blarney-kasteel