Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Ou eed wat vandag waarde het

’n Ou eed wat vandag waarde het

’n Ou eed wat vandag waarde het

OMSTREEKS 400 v.G.J. het Hippokrates, ’n Griekse geneesheer wat algemeen bekend staan as die vader van die geneeskunde, die Hippokratiese eed geskryf. Daardie verhewe etiese gedragskode is nog steeds ’n riglyn vir die mediese beroep. Is dit wat jy geleer is? Indien wel, is jy nie alleen nie. Maar is dit heeltemal waar?

Die feite toon dat Hippokrates moontlik nie die skrywer was van die eed wat sy naam dra nie. Boonop onderskryf die mediese beroep van vandag nie altyd daardie gedragskode soos dit oorspronklik geskryf is nie.

Weet ons werklik wie hierdie ou eed geskryf het? En al weet ons, het hierdie eed enige waarde vir ons wat vandag lewe?

Het Hippokrates die eed geskryf?

Daar is ’n aantal redes waarom party twyfel of Hippokrates die eed geskryf het. Een is dat ’n aantal gode aan die begin van die eed tot getuies geroep word. Maar Hippokrates word beskou as die eerste mens wat die geneeskunde van godsdiens geskei het en eerder na fisiese as bonatuurlike oorsake van siektes gesoek het.

Verder was ’n hele paar van die dinge wat in die eed verbied word, nie in stryd met die manier waarop die geneeskunde in Hippokrates se dag beoefen is nie. (Sien die venster op bladsy 21.) In Hippokrates se tyd het die wet en die meeste godsdiensstandaarde byvoorbeeld nie aborsie en selfmoord veroordeel nie. Iemand wat die eed aflê, belowe ook om operasies aan snydokters oor te laat. Tog maak operasietegnieke deel uit van die Hippokratiese versameling, die versameling mediese lektuur wat dikwels aan Hippokrates en ander skrywers van die ou tyd toegeskryf word.

Hoewel dit nog ’n twispunt onder geleerdes is, lyk dit dus baie moontlik dat die Hippokratiese eed nie werklik deur Hippokrates geskryf is nie. Die filosofie in die eed is blykbaar die naaste aan dié van die Pitagoreërs van die vierde eeu v.G.J., wat ideale oor die heiligheid van die lewe voorgestaan het en teen operasies gekant was.

Val en herlewing

Ongeag wie die skrywer van die eed werklik was, die belangrike uitwerking wat die eed op die Westerse geneeskunde gehad het, en veral op die gebied van die etiek, kan nie betwis word nie. Die eed is al “die toppunt van die ontwikkeling van streng etiese begrippe in die geneeskunde”, “die grondslag van die pasiënt-geneesheer-verhouding in die ontwikkelde wêreld” en “die hoogtepunt van beroepsedelikheid” genoem. Reeds in 1913 het sir William Osler, ’n bekende Kanadese dokter, gesê: “Dit is van min belang of dit uit Hippokrates se tyd dateer of nie . . . Dit is al vyf-en-twintig eeue lank die ‘credo’ van die beroep, en in baie universiteite is dit nog steeds die eed wat mense moet aflê om ’n dokter te kan word.”

Maar vroeg in die 20ste eeu was die eed ’n ruk lank ongewild, moontlik weens die wetenskaplike vooruitgang wat destyds gemaak is. Aangesien rasionalisme al hoe gewilder geword het, het dit dalk gelyk of die eed verouderd en ontoepaslik is. Maar ten spyte van wetenskaplike vooruitgang is daar altyd ’n behoefte aan etiese riglyne. Dit is miskien waarom die eed in onlangse dekades weer gewild geword het.

Eedaflegging het weer ’n belangrike deel van baie dokters se toelating tot ’n mediese opleidingsentrum of hulle graduering daaraan geword. ’n Opname wat in 1993 onder Amerikaanse en Kanadese mediese opleidingsentrums gedoen is, het getoon dat 98 persent van hierdie opleidingsentrums die een of ander soort eed afgeneem het. In 1928 het net 24 persent dit gedoen. ’n Soortgelyke opname in die Verenigde Koninkryk het getoon dat sowat 50 persent van die opleidingsentrums op die oomblik ’n eed of verklaring gebruik. In Australië en Nieu-Seeland is die syfer ook ongeveer 50 persent.

Veranderinge na gelang van die tye

Maar die Hippokratiese eed is nie onveranderlik nie; deur die eeue heen is dit verander om die opvattings te weerspieël wat in die Christendom algemeen was. Soms is veranderinge aangebring om ander kwessies aan te spreek, soos hoe om pesslagoffers te behandel. Meer onlangs is dit verander om met die hedendaagse denkwyse ooreen te kom.

In baie weergawes van die eed is begrippe geskrap wat nie meer van toepassing is op die manier waarop die hedendaagse geneeskunde beoefen word nie, terwyl ander ideale ingevoeg is wat vir die samelewing van ons tyd belangrik is. Die beginsel van ’n pasiënt se selfbeskikkingsreg is byvoorbeeld uiters belangrik vir die beoefening van die hedendaagse geneeskunde, maar dit het geen ekwivalent in die ou Griekse geneeskunde gehad nie en het nie deel uitgemaak van die Hippokratiese eed nie. Pasiënte se regte maak ’n belangrike deel uit van baie verklarings wat nou gebruik word.

Die dokter-pasiënt-verhouding het ook verander, met begrippe soos ingeligte toestemming wat al hoe belangriker word. Dit is dus te begrype dat min mediese fakulteite nog die Hippokratiese eed in sy oorspronklike vorm afneem.

Ander veranderinge aan die eed is miskien verbasender. In 1993 het net 43 persent van die ede wat in die Verenigde State en Kanada afgeneem is, ’n gelofte bevat dat dokters vir hulle dade aanspreeklik sal wees, en die meeste hedendaagse weergawes van die eed het geen straf vir die oortreding van die bepalings daarvan ingesluit nie. Dit was selfs minder algemeen om genadedood en aborsie te verwerp en ’n godheid aan te roep, en net 3 persent van die verklarings van die opleidingsentrums waaronder die opname gedoen is, bevat ’n gelofte om nie geslagsomgang met pasiënte te hê nie.

Die waarde van ’n eed

Al was daar soveel veranderinge aan die Hippokratiese eed, word die gebruik van ede dikwels as belangrik beskou vir ’n beroep wat tot waarlik verhewe en sedelike ideale verbind is. Die opname van 1993 waarna hierbo verwys word, het getoon dat die meeste ede wat gebruik word, toegespits is op die verbintenis wat geneeshere met hulle pasiënte aangaan, wat vereis dat voornemende dokters belowe om hulle bes te doen om vir hulle pasiënte te sorg. Die feit dat so ’n verklaring afgelê word, vestig die aandag op die verhewe sedelike grondbeginsels van die mediese beroep.

In ’n hoofartikel wat in The Medical Journal of Australia verskyn het, het professor Edmund Pellegrino geskryf: “Die mediese eed is vandag miskien vir baie ’n brokstuk van ’n gebreekte, ou beeld. Maar genoeg van daardie beeld het in die bewustheid van die beroep behoue gebly om ons daaraan te herinner dat dit die geneeskunde ’n handels-, nywerheids- of diensverskaffingsonderneming sou maak as dit heeltemal vergeet sou word.”

Die vraag of die Hippokratiese eed of die hedendaagse verklarings wat daaruit ontstaan het, vandag toepaslik is, sal waarskynlik ’n twispunt onder geleerdes bly. Maar wat die uiteinde ook al is, dokters se verbintenis tot die behandeling van die siekes bly iets wat ons moet waardeer.

[Venster op bladsy 21]

DIE HIPPOKRATIESE EED

SOOS VERTAAL DEUR LUDWIG EDELSTEIN

Ek sweer by Apollo, die geneesheer, en Asklepios en Hugiëia en Panakeia en al die gode en godinne en roep hulle tot getuies dat ek na my vermoë en oordeel hierdie eed en hierdie gelofte sal vervul:

Om die een wat my hierdie kuns geleer het, gelyk te ag aan my ouers en om my lewensmiddele met hom te deel en om hom van my geld te gee as hy dit nodig het en om sy nakomelinge gelyk te stel aan my broers in die manlike lyn en om hulle hierdie kuns te leer—as hulle dit wil leer—sonder vergoeding en ooreenkoms; om reëls en mondelinge onderrigting en al die ander kennis oor te dra aan my seuns en aan die seuns van die een wat my onderrig het en aan leerlinge wat die gelofte onderteken het en ’n eed volgens die mediese wet afgelê het, maar aan niemand anders nie.

Ek sal dieetkundige maatreëls na my vermoë en oordeel in die belang van die siekes aanwend; ek sal hulle teen skade en onreg beskerm.

Ek sal vir niemand op versoek ’n dodelike middel gee nie, en ook sal ek nie so iets voorstel nie. Ek sal ook nie vir ’n vrou ’n vrugafdrywende middel gee nie. In reinheid en heiligheid sal ek my lewe en my kuns bewaar.

Ek sal nie opereer nie, nie eers op steenlyers nie, maar sal dit oorlaat aan die manne wat hierdie werk doen.

Ongeag watter huise ek besoek, ek sal in die belang van die siekes kom en my onthou van alle opsetlike onreg, van alle kwaad en in die besonder van geslagsomgang met vroue sowel as mans, hetsy hulle vry of slawe is.

Wat ek tydens die behandeling of selfs buite die behandeling sien of hoor in verband met die lewe van mense, wat ’n mens glad nie bekend mag maak nie, sal ek verswyg en sulke dinge as ’n heilige geheim beskou.

As ek hierdie eed nakom en dit nie skend nie, mag dit my vergun word om my lewe en my kuns te geniet, terwyl ek vir altyd by alle mense eervol bekend staan; as ek dit oortree en vals sweer, mag die teenoorgestelde van al hierdie dinge my lot wees.

[Prent op bladsy 20]

’n Bladsy uit die Hippokratiese versameling

[Foto-erkenning op bladsy 20]

Hippokrates en bladsy: Courtesy of the National Library of Medicine