Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gevaar—Vleisetende plante!

Gevaar—Vleisetende plante!

Gevaar—Vleisetende plante!

Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje

DIT is algemeen bekend dat diere plante eet. Maar het jy geweet dat sommige plante diere eet? Daar is ongeveer 550 geïdentifiseerde soorte vleisetende of inseketende plante, en al hoe meer word ontdek. Hierdie buitengewone plante kan fotosinteer, maar dié wat in onvrugbare grond groei, het ’n gebrek aan noodsaaklike voedingstowwe, soos nitrate. Insekte is belangrike voedselaanvullings vir hierdie honger plante.

Elke plant het sy eie manier waarop hy prooi vang. Party het valdeure, terwyl ander hulle slagoffers na gladde vanggate of klewerige oppervlakke lok waarvandaan hulle glad nie kan ontsnap nie. Kom ons bekyk vleisetende plante van naderby.

Slagysters en valdeure

Die bekendste vleisetende plant is waarskynlik die venusvlieëvanger, wat ongeveer 30 sentimeter hoog word. Die venusvlieëvanger word in turfmoerasse in Noord- en Suid-Carolina in Noord-Amerika aangetref en het blink, helderkleurige blare met kliere aan die rand wat nektar vervaardig—’n versoeking wat insekte nie maklik kan weerstaan nie! Hierin lê die gevaar, want die venusvlieëvanger het drie gevoelige hare in die middel van elke blaarlob. Wanneer ’n niksvermoedende insek daaraan raak, klap die blaar toe. Stekels om die rand van die blare sluit soos die kake van ’n slagyster inmekaar sodat die prooi nie kan ontsnap nie.

As die vlieëvanger toeklap omdat die wind iets ingewaai het—byvoorbeeld ’n droë takkie—sal die plant dit binne ’n paar dae uitwerp. Maar wanneer stikstofhoudende stowwe die gevoelsorgane op die blaar prikkel, word ensieme afgeskei om die vasgevangde insek se liggaam te verteer sodat die plant die voedingstowwe kan opneem. Hierdie proses duur van 10 tot 35 dae, na gelang van hoe groot die prooi is.

Interessant genoeg, as net een van die gevoelige hare versteur word, miskien deur ’n reëndruppel, sal die val nie toeklap nie. Die plant sal net reageer wanneer daar aan twee of meer van die gevoelige hare geraak word—selfs tot 20 sekondes uit mekaar. Die spoed waarteen die val toeklap, hang af van die temperatuur en sonlig. In sekere toestande klap dit binne ’n dertigste van ’n sekonde toe.

Die valstrikke van party plante beweeg selfs vinniger as dit. Kyk byvoorbeeld na die blaaskruidjie, wat hoofsaaklik ’n waterplant is en waarvan die blare onder die water groei. Die blare bevat baie blasies, wat elkeen met ’n valdeur en etlike lang hare toegerus is. Wanneer ’n klein insek, soos ’n watervlooi, aan die hare raak, spring die valdeur oop. Aangesien die waterdruk in die blaas laer is as dié aan die buitekant, word die klein slagoffer ingesuig, en die valdeur klap agter hom toe. Dit kan binne ’n vyf-en-dertigste van ’n sekonde gebeur!

Gladde vanggate

Die hangende bekerplante is van die grootste vleisetende plante wat daar is. Party, soos dié in Suidoos-Asië, is klimplante wat tot bo in die bome groei. Dit het lokvalle wat tot twee liter vloeistof kan bevat en diertjies so groot soos paddas kan vang. Party het glo selfs al rotte gevang. Maar hoe werk die lokvalle?

Elke blaar van die bekerplant lyk soos ’n beker en het ’n deksel om die reën uit te hou. ’n Insek word deur die helder kleur en baie nektar van die beker gelok, maar die rand het ’n gladde oppervlak. Wanneer die insek die nektar probeer kry, gly hy en val hy in die vloeistof onderin die beker. Hare wat na onder wys in die blaar verhoed dat die insek ontsnap. Die nektar van sommige bekerplante bevat ook ’n verdowingsmiddel wat die prooi bedwelm.

Die bekerplant met die merkwaardigste voorkoms is beslis die kobraplant, wat in die berge van Kalifornië en Oregon in die Verenigde State groei. Die beker lyk baie soos ’n kobra wat sy kop bak maak. ’n Insek vlieg tot in die opening van die plant, maar word dan verwar deur lig wat oënskynlik deur klein vensters skyn. Die insek bly in die rigting van die lig vlieg in ’n vergeefse poging om te ontsnap. Hy val uitgeput in die vloeistof onderin die plant en verdrink.

Huishoudelike en kommersiële gebruike

Vetblaarplante het klewerige blare wat die swammuggie en die witvlieg lok. Hierdie insekte is plae en tas kommersiële kweekhuisplante sowel as huisplante aan. Mensgemaakte vlieëvangers is doeltreffend, maar vang ook nuttige insekte soos bye en sweefvlieë. Die vetblaarplante se klewerigheid werk beter. Net die lastige klein insekte sit daaraan vas.

Noord-Amerikaanse bekerplante word deesdae gewilder by tuiniers. Die pragtige blomme en sierlik gevormde blare is net so mooi soos dié van ander plante, en hulle kan maklik gekweek word. Hulle verslind ook ’n ontsaglike aantal vlieë. Trouens, elke groepie blare kan duisende vlieë in ’n seisoen vang. Bye is nie in gevaar nie, aangesien dit lyk of hulle nie deur die plante gelok word nie. Maar hoe word die blomme bevrug sonder dat die plant die insekte vang wat dit bestuif? Die blomme verskyn eerste, terwyl die bekers nog groei. Teen die tyd dat die bekers volgroeid is, het die blomme al doodgegaan en is die bestuiwers weg.

Nog ’n plant wat maklik gekweek kan word en ’n groot verskeidenheid temperature kan verduur, is Australië se vurkblaardoublom. “Dit is ’n ideale plant om te hê as jy weens muskiete nie saans buite kan sit nie”, sê Chris Heath, ’n deskundige op die gebied van vleisetende plante by die Walworth Garden Farm-omgewingsopleidingsentrum in Londen. “Plant dit in ’n hangmandjie waar die blink druppeltjies klewerige vloeistof muskiete sal lok.” Enige muskiet wat teen ’n blaar skuur, word vasgevang deur die taai hare, wat na binne buig en die insek teen die oppervlak van die blaar vasdruk.

Die bewaring van vleisetende plante

Ongelukkig groei baie vleisetende plante in habitats wat deur die mens vernietig word. Byvoorbeeld, die hangende bekerplant van Suidoos-Asië word weens kap-en-brand-landbou bedreig. Vleilande in ander gebiede word vir ontwikkeling drooggelê. Sommige van hierdie plantsoorte het reeds uitgesterf. a

Wil jy graag ’n vleisetende plant hê? Jy hoef dit nie uit die natuur te haal nie, want baie van hierdie plante is maklik bekombaar by verskaffers wat dit van saad of deur middel van weefselkultuur kweek. Aanwysings om dit te versorg, is eenvoudig: Hou die plant te alle tye goed nat met reënwater. Vleisetende plante groei ook goed in sonskyn, maar soorte uit gematigde gebiede moet gedurende die winter liewer koel gehou word. Geduld is nodig, aangesien dit tot drie jaar kan duur voordat party plante volwassenheid bereik. Dit is darem nie nodig om hulle kos te gee nie. Hulle vang dit sommer self!

[Voetnoot]

a Party inseketende plante word deur die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies beskerm.

[Venster op bladsy 27]

Kos vir swamme

Die kleinste vleisetende plante is swamme wat mikroskopiese draadwurms in die grond vang. Party van hierdie swamme het klewerige knoppe op stele, maar ander het driesellige lusse wat net 0,03 millimeter dik is en styf om enige draadwurm trek wat onwetend daardeur kruip. Sodra die wurm gevang is, dring swamdrade dit binne en gaan dit gou dood. Navorsing word oor hierdie swamme gedoen omdat hulle moontlik vir plaagbestryding gebruik kan word, aangesien draadwurms elke jaar skade van honderdmiljoene rande aan oeste aanrig.

[Venster op bladsy 27]

Insekte slaan terug!

Nie alle insekte word deur inseketende plante om die bos gelei nie. Die brommer het byvoorbeeld ’n aanhangsel aan elke voet. Soos ’n bergklimmer se gryphaak stel dit die insek in staat om op te klim teen die bekerplant se hare wat na onder buig. Wanneer die brommer se eiers uitbroei, eet die maaiers die insekte wat ontbind. Later, sodra hulle gereed is om in papies te verander, ontsnap hulle deur gate in die beker te sny. Daar is ook nog die ruspes van ’n klein mot wat die lastige hare van die bekerplant met drade toespin. Party spinnekoppe is slim genoeg om hulle spinnerakke in die boonste deel van bekerplante te maak sodat hulle eerste by enige nuuskierige insekte kan uitkom, en ten minste een van die spinnekopsoorte het ’n spesiale vel wat hom in staat stel om in die plant se verteringsvloeistof skuiling te soek as hy bedreig word.

[Prent op bladsy 24]

Blaar van ’n hangende bekerplant

[Prent op bladsy 24, 25]

Venusvlieëvanger

Blaar links toon ’n vasgevangde vlieg; blaar regs toon gevoelige hare

[Erkenning]

Plante: Copyright Chris Heath, Kentish Town City Farm, London

[Prent op bladsy 25]

Blom en jong bekerblaar van die kobraplant

[Erkenning]

Copyright Chris Heath, Kentish Town City Farm, London

[Prent op bladsy 26]

Noord-Amerikaanse bekerplant

Sy blom is ongeveer so groot soos ’n lemoen

[Prent op bladsy 26]

Vetblaarplant

Swammuggies en witvlieë sit aan sy klewerige blare vas

[Prent op bladsy 26]

Blare van die Noord-Amerikaanse bekerplant

Inlas: ’n Vlieg eet nektar wat hom bedwelm

[Prent op bladsy 26]

Vurkblaardoublom

’n Insek sit vas aan die blaar se klewerige hare

[Erkenning]

Plante: Copyright Chris Heath, Kentish Town City Farm, London