Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kamele in die Andes?

Kamele in die Andes?

Kamele in die Andes?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN PERU

KAMELE in Suid-Amerika? Dit klink dalk baie vreemd, aangesien hierdie woestyndier gewoonlik met Afrika of Asië verbind word. Tog is die spesies wat in Afrika en Asië aangetref word, nou verwant aan die kameelagtiges van Suid-Amerika. a Maar in teenstelling met hulle verlangse familie het die Suid-Amerikaanse kameelagtiges geen bulte nie. Daarbenewens staan hulle slegs so hoog soos ’n gemiddelde mens en kom hulle nie eens by die skouer van ’n dromedaris of ’n Baktriese kameel nie.

Die beste plek om hierdie Suid-Amerikaanse dier te sien, is in die Andesgebergte, hoofsaaklik in Bolivia en Peru. Hulle kom ook in ander gebiede van Suid-Amerika voor, insluitende Patagonië en Tierra del Fuego, in Argentinië en Chili.

Dit is baie fassinerend om te sien hoe grasieus en vinnig hierdie diere beweeg. Die gemak waarmee hulle rotsagtige skuinstes kan uitklim, is net so indrukwekkend. Elke tree word versag deur spesiale kussings, wat beter is as die modernste stapskoene.

Die Andes het min gras en ’n dun grondlaag. Nogtans rig die hoewe van hierdie diere minder skade aan die grond aan as dié van perde of muile. Daarbenewens stel hulle tande en verhemelte hulle in staat om te wei sonder om die graswortels te beskadig.

Die meeste diere vaar nie goed in hoogliggende gebiede nie. Maar omdat die Suid-Amerikaanse kameelagtiges baie rooibloedselle het, kan hulle met gemak selfs hoog in die Andes bly.

Waar vuurmaakhout nie gevind kan word nie, word die droë mis van hierdie diere as ’n plaasvervanger gebruik. En omdat wilde kameelagtiges mishope by die grense van hulle gebied maak, is dit maklik om hierdie “vuurmaakmis” op te tel. In teenstelling met ’n boom hoef die mis nie afgekap te word nie, en dit word vinnig droog in die droë lug van die Andes.

Kameelagtiges is vroeër in godsdiensrituele gebruik. Die Chiribaya in Suid-Peru het byvoorbeeld geofferde llamas en alpakkas onder die vloer van hulle huis begrawe. Geskiedkundiges beweer dat honderd spesiaal geteelde wit llamas elke maanmaand op Huayaca Pata, die hoofplein van Cuzco, geoffer is en dat ’n kleiner aantal tydens die Inti Raymi-fees aan die songod geoffer is. Deesdae word kameelagtiges selde in rituele gebruik, maar hulle vleis—wat soos lamsvleis smaak—is gesog.

Lank voordat daar yskaste was, het die Inkas die vleis van hierdie diere bewaar deur die koue temperatuur en lae lugdruk hoog in die Andes vir vriesdroging te benut. Hulle het hierdie gedroogde vleis ch’arki genoem.

Ons moet hierdie pragtige diere natuurlik nie net waardeer weens die dienste wat hulle lewer nie, maar ook omdat hulle ’n deel is van God se wonderlike skepping, wat alles lof aan hom bring!—Psalm 148:10, 13.

[Voetnoot]

a Vier soorte kameelagtiges kom in Suid-Amerika voor: die alpakka, die guanaco, die llama en die vikoenja. Hulle kan gekruis word en ’n basternageslag voortbring.

[Venster/Prent op bladsy 16]

Die guanaco—’n Aanpasbare en taai dier

Dit lyk moontlik asof so ’n pragtige dier met sy fyn gelaatstrekke sagkens behandel moet word. Maar guanaco’s word gewoonlik in uiters onherbergsame lande aangetref, van die hoë Andes af tot by Patagonië en Tierra del Fuego in Suid-Argentinië en Chili. In hierdie onherbergsame gebiede eet die guanaco stingels en wortels en drink hy die water, al is dit van swak gehalte. Die guanaco kan goed swem en kan tot 65 kilometer per uur hardloop. Digte wimpers bied beskerming teen die wind, son en stof. Ongelukkig het wilddiewe gierig jag gemaak op die guanaco vir sy vleis, pels en wol, wat fyner is as dié van die alpakka.

[Erkenning]

© Joe McDonald

[Venster/Prent op bladsy 16]

Die alpakka—Toegewikkel in ’n warm kleed

In ’n land waar dit oor die algemeen koud is en die temperatuur in een dag met 50 grade Celsius kan wissel, is die alpakka van kop tot pote in ’n dik woljas toegewikkel. Die sagte wol van die alpakka is sterker as skaapwol. Hoewel die alpakka se skerp snoet hom in staat stel om die steppegras uit nou skeure tussen rotse te kry, verkies hierdie wollerige dier moerasgebiede, waar daar sagte, jong gras is. Soos ander kameelagtiges kan hy egter baie dae lank sonder water klaarkom.

[Venster/Prent op bladsy 17]

Die vikoenja—Weelderig geklee

Hoewel die vikoenja in die hoë Andes bly waar die temperatuur meestal naby vriespunt is, is dit snoesig geklee in ’n kort, ligte jas van wat as die beste dierevesel op aarde beskou word. Die uitrusting het ’n klos wol op die bors, wat as ’n serp dien. ’n Volwasse vikoenja lewer minder as ’n kilogram vag elke twee jaar, en daarom is hierdie weelderige wol skaars—en duur. Een meter goeie vikoenjamateriaal kan meer as R18 000 kos.

In die Inkaryk is wette gemaak om die vikoenja te beskerm. ’n Skeerfees, wat chaccu genoem is, is ingestel, en slegs die koninklikes het die voorreg gehad om klere te dra wat van vikoenjawol gemaak is. Die chaccu-fees is in onlangse jare weer ingestel, en wette is weer eens uitgevaardig om hierdie spesie teen wilddiewe te beskerm.

As ’n belangrike deel van hierdie fees word wilde vikoenjas gevang in groot tregtervormige vangnette, waarvan die opening 300 meter wyd is. Hierna word die vikoenjas geskeer en onmiddellik losgelaat.

[Erkenning]

© Wilfredo Loayza/PromPerú

[Venster/Prent op bladsy 17]

Die llama—Lasdier van die Andes

Hy is nie so sterk soos ’n esel of so vinnig soos ’n perd nie. Nogtans oortref die llama hulle albei as ’n waardevolle lasdier. Hy kan tot 60 kilogram op sy rug dra. As die llama voel dat sy vrag te swaar is, sal hy eenvoudig bly sit totdat dit lig genoeg gemaak is na sy sin. As jy die llama probeer dwing, sal hy moontlik kos uit die eerste van sy drie mae opbring en dit met verbasende akkuraatheid en krag uitspoeg.

Maar llamas is gewoonlik mak, en iemand wat sagkens met hulle werk, kan ’n lang karavaan llamas oor onherbergsame, hoë plato’s lei waar ander lasdiere nie die tekort aan suurstof kan verduur nie. Die llama se vermoë om in bergagtige terrein te reis, het daartoe gelei dat hulle tans nie net in die Andes as lasdiere gebruik word nie, maar ook in die Italiaanse Alpe. Die llama se leitou, harnas en kombers kan van sy eie wol gemaak word.

[Erkenning]

© Anibal Solimano/PromPerú

[Prent op bladsy 18]

’n Pas geskeerde alpakka

[Prent op bladsy 18]

’n Llamavul met ’n tossel aan die oor

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.; llamas: © Alejandro Balaguer/PromPerú