Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Teikens van teistering

Teikens van teistering

Teikens van teistering

Monika was net klaar met skool toe sy as ’n leerlingklerk by ’n prokureursfirma begin werk het. Monika het uitgesien na ’n gladde oorgang tot die arbeidsmark.

Horst was ’n dokter in sy middel-dertigerjare. Hy het ’n vrou en kinders gehad, en alles het daarop gedui dat hy erkenning sou verkry en ’n groot inkomste sou hê.

Monika sowel as Horst het slagoffers van teistering geword.

DIE geval van Monika en Horst leer ons ’n waardevolle les: Slagoffers van teistering beantwoord nie aan ’n spesifieke beskrywing nie. Ja, enigiemand in enige beroep is ’n potensiële teiken vir teistering. Hoe kan jy jou dan beskerm? Die antwoord lê gedeeltelik daarin dat jy moet leer hoe om vrede by die werk na te streef, selfs met moeilike medewerkers.

Spanwerk is belangrik

Baie mense moet in ’n span saamwerk en hulle deel doen sodat die span as ’n eenheid kan funksioneer. Wanneer kollegas goed oor die weg kom, bevoordeel dit die werk. As hulle nie oor die weg kom nie, ly die werk daaronder en neem die moontlikheid van teistering toe.

Wat kan die goeie samewerking van ’n span werkers ondermyn? Een faktor kan wees dat die personeel dikwels verander. In so ’n situasie is dit moeilik om bande te smee. Daarbenewens is nuwe kollegas nie met die werksprosedure vertroud nie, wat almal se werkverrigting vertraag. As die werklas swaarder word, sal die groep heel moontlik voortdurend aan druk onderwerp word.

Wat meer is, as ’n span nie duidelike doelwitte het nie, sal daar nie werklik ’n gevoel van eenheid wees nie. Dit kan byvoorbeeld die geval wees wanneer ’n baas wat bedreig voel, meer tyd daaraan bestee om sy posisie te verdedig as om die leiding te neem. Hy probeer dalk selfs bewys dat hy in beheer is deur kollegas teen mekaar op te maak. Om dinge te vererger, is die groep se werkbeskrywing moontlik so vaag dat party nie weet waar hulle verantwoordelikhede begin of eindig nie. Daar kan byvoorbeeld konflikte ontstaan wanneer twee werknemers albei dink dat hulle die verantwoordelikheid het om fakture goed te keur.

In so ’n geval is dit moeilik om te kommunikeer en word daar dikwels niks omtrent gekrenkte gevoelens gedoen nie. Afguns vergiftig die atmosfeer by die werk, en kollegas wedywer met mekaar om ’n goeie naam by die baas te hê. Geringe misverstande word as groot beledigings beskou. Molshope word as ’t ware berge. Die grondslag vir teistering is gelê.

’n Sondebok word gekies

Met verloop van tyd word een werknemer dalk as die sondebok uitgesonder. Met watter soort persoon sal dit waarskynlik gebeur? Heel moontlik met iemand wat opvallend anders is. Byvoorbeeld, dit kan die enigste man tussen ’n klomp vroue of die enigste vrou tussen ’n aantal mans wees. ’n Selfversekerde persoon word dalk as voorbarig beskou, terwyl ’n teruggetrokke persoon miskien as skelm beskou word. Die potensiële slagoffer is moontlik ook anders in die sin dat hy of sy ouer of jonger as die res is, of selfs bekwamer.

Wie die sondebok ook al is, sy kollegas “raak gemeen en openlik vyandig teenoor hulle gekose slagoffer, en dit bring verligting van hulle eie spanning”, berig die Duitse mediese tydskrif mta. Enige pogings wat die sondebok aanwend om die situasie reg te stel, behaal min sukses en kan selfs sake vererger. Namate die intimidasie toeneem, sonder die sondebok hom al hoe meer af. Op hierdie stadium kan die slagoffer van teistering waarskynlik nie meer die situasie alleen hanteer nie.

Teistering was nog altyd ’n moontlikheid by die werk. Maar baie kan ’n tyd onthou toe dit gelyk het asof daar meer welwillendheid onder kollegas was. Georganiseerde teistering het selde voorgekom. Maar deur die jare heen het iets ontwikkel wat een dokter beskryf het as “’n algemene afname in samehorigheid en in skaamtegevoelens”. Mense skroom deesdae nie meer om die stryd openlik by die werk aan te knoop nie.

Daarom stel almal wat ’n sekulêre werk het, tereg belang in die antwoorde op die vrae: Kan teistering voorkom word? Hoe kan vrede by die werk nagestreef word?

[Prent op bladsy 6]

Die doel van teistering is om die slagoffer soos ’n uitgeworpene te laat voel