Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Stede Ek is 13 jaar oud en het dit baie geniet om die artikels “Madrid—’n Hoofstad gebou vir ’n koning” (22 Junie 2003), “Barcelona—’n opelugmuseum met kleur en styl” (8 Julie 2003) en “Sevilla—’n poort tot die Amerikas” (22 Julie 2003) te lees. As ’n Spanjaard wat in Duitsland woon, was ek regtig bly om iets oor my geboorteland te lees. Hou asseblief aan om sulke uitstekende artikels te skryf.

C.G.R., Duitsland

Ek geniet dit altyd om die Ontwaak! te lees, maar ek hou die meeste van die artikels oor verskillende lande en stede. Ek het veral die artikels oor die stede van Spanje geniet. Ek was ook bly om die artikel “St. Petersburg—Rusland se ‘venster op Europa’” (22 Augustus 2003) te sien. Ek wil baie graag hierdie interessante plekke en die wit nagte sien. Danksy hierdie artikel kon ek daar “besoek aflê”.

O.A.V., Rusland

Insekte Baie dankie vir die reeks “Wanneer insekte siektes versprei” (22 Mei 2003), waarin die venster “Versprei insekte MIV?” verskyn het. Ek woon die afgelope paar jaar in ’n stad wat gedurende die somer baie muskiete het. Ek was bang dat ek met die MI-virus besmet gaan word. Danksy julle artikel sal ek hierdie somer nie so bekommerd wees nie!

J. L., Albanië

Van ons lesers Ek hou daarvan om die rubriek “Van ons lesers” te lees. Partykeer gebruik ek kommentare van lesers om diegene met wie ek die Bybel studeer, aan te moedig om veral aan sekere artikels aandag te skenk. Die rubriek is ’n bewys dat julle pogings om mense se harte te bereik, nie tevergeefs is nie.

S. A., Rusland

Slaap Toe ek die reeks “Kry jy genoeg slaap?” (22 Maart 2003) begin lees, kon ek nie die tydskrif neersit nie. Sedert my tienerjare slaap ek dikwels net twee of drie uur per nag. Hierdie tydskrif het my help besef dat ek mediese hulp moet kry.

W. A., Taiwan

Water Ek werk in die veld van voeding en gewigsbeheer, en die artikel “’n Lewensbelangrike vloeistof—water” (8 Junie 2003) is presies wat ek nodig gehad het. In net een artikel het julle dit reggekry om ’n opsomming te gee van alles wat ek in ’n 30 uur lange kursus oor voeding geleer het. Ek gaan hierdie inligting gebruik om my kliënte te help.

J.F.S.F., Brasilië

Nageboortelike depressie Ek en my man het in April ouers geword. Ná die geboorte van ons seun het ek die gevoelens begin ervaar wat in die artikel “Verstaan nageboortelike depressie” (8 Junie 2003) beskryf word. Almal het my vertel hoe pragtig ons kind is, maar ek wou hom glad nie sien nie. Ek het by die huis gebly en gehuil. Nadat ek die artikel gelees het, het ek my man omhels, my hart teenoor hom uitgestort en aan hom verduidelik hoe ek voel. Hy was bly dat hy nou kon verstaan wat die oorsaak was van die veranderinge wat hy in my gesien het. Ek is dankbaar dat julle met gepaste takt oor hierdie onderwerp geskryf het. Julle het my hart geraak.

S. V., Italië

Tour de France Ek het vir ’n skooltaak fietse as onderwerp gekies. Die artikel “Die Tour de France—100 jaar van fietsry se grootste toets” (8 Julie 2003) het net betyds gekom! Ek kon selfs my werk aan die klas voorlees. Ek het al baie Ontwaak!-artikels vir my skoolwerk gebruik. Dankie.

N. K., Duitsland