Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Werksplek of oorlogsone?

Werksplek of oorlogsone?

Werksplek of oorlogsone?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DUITSLAND

“Ek kon dit net nie meer verduur nie. Ek het meer as 30 jaar by die maatskappy gewerk. Ek was al ’n toesighouer. Toe kry ons ’n nuwe baas. Hy was jonk, dinamies en vol idees. Hy het gedink ek was in die pad, en daarom het hy op my begin pik. Ná maande van beledigings, leuens en vernedering was my senuwees gedaan. Toe die maatskappy my ’n aftreepakket aanbied, het ek dit aanvaar.”Peter. a

PETER was ’n slagoffer van teistering by die werk. In Duitsland, waar Peter woon, verduur ongeveer 1,2 miljoen mense teistering by die werk. In Nederland sal 1 uit 4 mense op die een of ander stadium daarvoor te staan kom. En ’n verslag deur die Internasionale Arbeidsorganisasie sê dat teistering by die werk ’n toenemende probleem in Australië, Brittanje, Denemarke, Oostenryk, Swede en die Verenigde State is. Maar presies wat behels hierdie teistering?

’n “Senuweeoorlog”

Volgens die Duitse nuustydskrif Focus is teistering “herhaaldelike en stelselmatige treitering”. Teistering is meer as gekskeerdery by die werk—wat sarkasme, kritiek, tergery en poetse kan insluit—dit is ’n veldtog van sielkundige verskrikking. Die doel is om die slagoffer ’n uitgeworpene te maak. b

Die teisteringstaktiek wissel van kinderagtige vyandigheid tot kriminele optrede. Die slagoffer word aan karakterskending, beledigings en aggressiewe dade onderwerp en word doelbewus geïgnoreer. Party slagoffers word opsetlik met werk oorlaai of word gereeld uitgesonder vir die onaangenaamste take wat niemand anders wil verrig nie. Kollegas ondermyn dalk die slagoffer se pogings om produktiewe werk te lewer, miskien deur inligting van hom te weerhou. In sommige gevalle het die teisteraars die slagoffer se motorbande stukkend gesny of by sy rekenaar ingebreek.

Party slagoffers van teistering is die teiken van een persoon. Maar slagoffers is meer dikwels die teiken van ’n groep werksmaats.

Wat moontlik die verbasendste is, is die feit dat teistering in baie gevalle met die baas se medewete plaasvind. Volgens sommige Europese studies was die toesighouer by omtrent 50 persent van die gevalle betrokke, en heel dikwels was hy of sy die enigste teisteraar. Dit alles laat die werksondervinding ontaard in wat die Duitse dagblad Frankfurter Allgemeine Zeitung “’n lang, uitputtende senuweeoorlog” genoem het.

Die verreikende gevolge

Die gevolge van teistering is dikwels nie tot die werksplek beperk nie. Baie slagoffers ondervind ernstige gesondheidsprobleme as gevolg van wrede behandeling. Depressie, slaapversteurings en paniekaanvalle tel onder die gevolge van teistering. Wat van Peter, wat aan die begin genoem is? Sy eiewaarde het ’n laagtepunt bereik. Margaret, wat ook van Duitsland is, is deur haar dokter aangeraai om behandeling by ’n geestesgesondheidskliniek te kry. Wat was die oorsaak? Teistering by die werk. Dit kan ook ’n mens se huwelik of gesinslewe benadeel.

In Duitsland het teistering by die werk so algemeen geword dat een gesondheidsversekeringsmaatskappy ’n noodlyndiens vir slagoffers begin het. Die maatskappy het gevind dat meer as die helfte van dié wat ingebel het, tot ses weke lank nie kon werk nie; omtrent ’n derde tot drie maande lank nie kon werk nie en oor die 10 persent méér as drie maande lank nie kon werk nie. ’n Duitse mediese tydskrif skat dat “tot 20 persent van alle selfmoorde die gevolg van teistering is”.

Dit is duidelik dat teistering die werksondervinding in ’n nagmerrie kan laat ontaard. Kan dit enigsins voorkom word? Hoe kan vrede by die werk nagestreef word?

[Voetnote]

a Die name in hierdie reeks artikels is verander.

b Statistieke toon dat meer vroue as mans slagoffers van teistering by die werk is, maar dit kan wees omdat vroue meer geneig is om oor die probleem te praat en hulp te kry.

[Prent op bladsy 4]

Teistering laat die werksondervinding in ’n senuweeoorlog ontaard