Die eeue oue stryd om beter gesondheid
Die eeue oue stryd om beter gesondheid
JOANNE het in New York gewoon, en sy het tuberkulose (TB) gehad. Maar haar siekte was nie ’n tipiese TB-geval nie. Sy het ’n mutante vorm gehad wat teen feitlik alle geneesmiddels bestand is en waaraan die helfte van die lyers sterf. Joanne het egter nie gereeld vir behandeling gegaan nie, en sy het al ten minste een vlaag van TB-besmettings veroorsaak. ‘Sy moet opgesluit word’, het haar gefrustreerde dokter gesê.
TB is ’n baie ou doder. Letterlik miljoene mense het al aan TB gely en daaraan gesterf. Bewyse van die siekte is in mummies uit antieke Egipte en Peru gevind. Vandag sterf daar elke jaar sowat tweemiljoen mense aan terugkerende vorme van tuberkulose.
Carlitos het op ’n bababedjie in ’n Afrikahut gelê met sweetdruppels op sy voorkop. Malaria het hom so swak gemaak dat hy nie eers kon huil nie. Sy bekommerde ouers het nie geld vir medisyne gehad nie, en hulle was nie naby ’n kliniek waar hulle mediese behandeling vir hulle kindjie kon kry nie. Die koors het nie gebreek nie, en binne 48 uur was hy dood.
Elke jaar sterf bykans eenmiljoen kinders soos Carlitos aan malaria. In dorpies in Oos-Afrika word die meeste kinders elke maand 50 tot 80 keer deur malariadraende muskiete gebyt. Hierdie muskiete versprei na nuwe gebiede, en malariateenmiddels is nie meer so doeltreffend nie. Elke jaar kry ongeveer 300 miljoen mense akute malaria.
Kenneth, ’n 30-jarige man in San Francisco, Kalifornië, het in 1980 na sy dokter gegaan. Hy het van diarree en moegheid gekla. ’n Jaar later was hy dood. Hoewel hy uitstekende mediese behandeling ontvang het, het sy liggaam net weggekwyn, en hy is uiteindelik aan longontsteking dood.
Twee jaar later en 16 000 kilometer van San Francisco af het ’n jong vrou in die noorde van Tanzanië soortgelyke simptome begin vertoon. Binne ’n paar weke kon sy nie meer loop nie, en sy is kort daarna dood. Die dorpenaars het die vreemde siekte Juliana se siekte genoem omdat sy en ander plaaslike vroue blykbaar besmet is deur ’n man wat materiaal verkoop het waarop die naam Juliana gedruk was.
Kenneth en die Tanzaniese vrou het dieselfde siekte gehad: vigs. Aan die begin van die 1980’s, net toe dit gelyk het of die geneeskunde die gevaarlikste mikrobes onder beheer gekry het, het hierdie nuwe besmetlike siekte die mensdom begin teister. Binne twee dekades het ongeveer net soveel mense aan vigs gesterf as aan die pes wat in die 14de eeu deur Eurasië getrek het—’n pes wat Europa nooit vergeet het nie.
Die Swart Dood
Die begin van die pes wat as die Swart Dood bekend staan, kan teruggevoer word tot 1347, toe ’n skip van die Krim by Messina, op die eiland Sisilië, voor anker gelê het. Die skip het nie net sy gewone vrag aan boord gehad nie, maar ook die pes. a Kort voor lank het die Swart Dood oor die hele Italië versprei.
Die volgende jaar het Agnolo di Tura, van Siëna, Italië, die verskrikking in sy tuisdorp beskryf: ‘Die sterftes in Siëna het in Mei begin. Dit was wreed en aaklig. Die slagoffers het amper onmiddellik gesterf. Hulle het by die honderde gesterf, bedags sowel as snags.’ Hy het bygevoeg: ‘Soos baie ander het ek my vyf kinders met my eie hande begrawe. Niemand het gehuil nie, ongeag wie gesterf het, omdat amper almal die dood verwag het. Soveel mense het gesterf dat almal gedink het dat dit die einde van die wêreld was.’
Binne vier jaar, sê party geskiedkundiges, het die pes deur die hele Europa versprei, en omtrent ’n derde van die bevolking het hulle lewe verloor—miskien tussen 20 miljoen en 30 miljoen mense. Selfs die afgeleë Ysland het erg deurgeloop. In die Verre-Ooste het die bevolking van China glo van 123 miljoen aan die begin
van die 13de eeu tot 65 miljoen gedurende die 14de eeu gedaal, blykbaar as gevolg van die pes en die gepaardgaande hongersnood.Geen vorige epidemie, oorlog of hongersnood het al sulke wydverspreide lyding veroorsaak nie. “Dit was ’n ongeëwenaarde ramp in die mensegeskiedenis”, sê die boek Man and Microbes. “Tussen ’n kwart en die helfte van die mense in Europa, Noord-Afrika en dele van Asië het gesterf.”
Die Amerikas het die vernietiging van die Swart Dood vrygespring weens hulle afsondering van die res van die wêreld. Maar seevarende skepe het daardie afsondering gou tot ’n einde gebring. In die 16de eeu het ’n vlaag van epidemies wat selfs dodeliker as die pes was, verwoesting in die Nuwe Wêreld gesaai.
Pokke saai verwoesting in die Amerikas
Toe Columbus in 1492 in die Wes-Indiese eilande aangekom het, het hy die inboorlinge beskryf as ‘aantreklike mense met fyn gelaatstrekke, van gemiddelde lengte en fris gebou’. Hulle gesonde voorkoms het egter hulle kwesbaarheid vir die siektes van die Ou Wêreld verberg.
In 1518 het pokke op die eiland Hispaniola uitgebreek. Die Amerikaanse inboorlinge is nog nooit tevore aan pokke blootgestel nie, en die gevolg was rampspoedig. ’n Spaanse ooggetuie het geskat dat net duisend mense op die eiland dit oorleef het. Die epidemie het spoedig na Mexiko en Peru versprei, met soortgelyke gevolge.
Toe die Pelgrimsetlaars gedurende die volgende eeu in die omgewing van Massachusetts in Noord-Amerika aangekom het, het hulle eweneens ontdek dat pokke feitlik al die inwoners van die gebied uitgewis het. “Amper al die inboorlinge is dood aan pokke”, het die Pelgrimleier John Winthrop geskryf.
Pokke is deur ander epidemies gevolg. Volgens een bron het ingevoerde siektes gedurende die eeu ná Columbus se koms 90 persent van die Nuwe Wêreld se bevolking uitgeroei. Die bevolking van Mexiko het van 30 miljoen tot 3 miljoen afgeneem en dié van Peru van 8 miljoen tot eenmiljoen. Die Amerikaanse inboorlinge was natuurlik nie die enigste slagoffers van pokke nie. “Deur die mensegeskiedenis heen het pokke honderdmiljoene lewens geëis, baie meer as die pes . . . en al die oorloë van die twintigste eeu tesame”, sê die boek Scourge—The Once and Future Threat of Smallpox.
Die stryd is nog nie gewen nie
Vandag lyk dit dalk of die verskriklike pes- en pokke-epidemies rampe is wat tot die geskiedenis behoort. Gedurende die 20ste eeu het die mensdom baie oorwinnings in die stryd teen besmetlike siektes behaal, veral in nywerheidslande. Dokters het die oorsake van die meeste siektes ontdek, en hulle het ook
maniere gevind om dit te genees. (Sien die venster hieronder.) Dit het gelyk of nuwe entstowwe en antibiotika wondermiddels is wat selfs die hardnekkigste siekte kan uitwis.Maar, soos dr. Richard Krause, voormalige hoof van die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Allergieë en Besmetlike Siektes, sê, “is pessiektes so seker soos die dood en belasting”. TB en malaria het nie verdwyn nie. En die vigs-pandemie wat in onlangse tye uitgebreek het, is ’n sombere herinnering dat pessiektes die wêreld nog steeds bedreig. “Besmetlike siektes is nog altyd die wêreld se grootste doodsoorsaak; dit sal nog lank so bly”, sê die boek Man and Microbes.
Party dokters is bang dat die ongelooflike vooruitgang wat die afgelope paar dekades in die bestryding van siektes gemaak is, net van korte duur sal wees. “Die bedreiging van besmetlike siektes het nie weggegaan nie—dit raak net al hoe groter”, waarsku die epidemioloog Robert Shope. Die volgende artikel sal verduidelik waarom.
[Voetnoot]
a Die pes het verskeie vorme aangeneem, insluitende builepes en longpes. Builepes word deur vlooie versprei, wat hoofsaaklik deur rotte gedra word, en longpes word deur druppelbesmetting versprei wanneer ’n besmette persoon op ander hoes of nies.
[Lokteks op bladsy 5]
Binne twee dekades het ongeveer net soveel mense aan vigs gesterf as aan die pes wat in die 14de eeu deur Eurasië getrek het
[Venster/Prente op bladsy 6]
Kennis versus bygelowigheid
In die 14de eeu, toe die Swart Dood die pous se huishouding in Avignon bedreig het, het sy dokter vir hom gesê dat die hoofrede vir die pes die samestand van drie planete—Saturnus, Jupiter en Mars—in die sterrebeeld Waterdraer is.
Ongeveer vier eeue later het George Washington met ’n seer keel bed toe gegaan. Drie vooraanstaande dokters het die infeksie behandel deur twee liter bloed uit sy are te tap. Die pasiënt was binne ’n paar uur dood. Bloedlating was 2 500 jaar lank—van Hippokrates se tyd tot die middel van die 19de eeu—’n algemene mediese gebruik.
Hoewel bygelowigheid en tradisie mediese vooruitgang vertraag het, het toegewyde dokters hard gewerk om die oorsake van besmetlike siektes asook geneesmiddels daarvoor te vind. Hieronder is ’n paar van die betekenisvolle deurbrake wat hulle gemaak het.
◼ Pokke. In 1798 het Edward Jenner daarin geslaag om ’n entstof teen pokke te ontwikkel. Gedurende die 20ste eeu het entstowwe ander siektes, soos polio, geelkoors, masels en Duitse masels doeltreffend voorkom.
◼ Tuberkulose. In 1882 het Robert Koch tuberkulose-bakterieë geïdentifiseer en ’n toets vir die siekte ontwikkel. Omtrent 60 jaar later is streptomisien ontdek, ’n antibiotikum wat effektief vir die behandeling van tuberkulose is. Hierdie middel was ook nuttig vir die behandeling van builepes.
◼ Malaria. Van die 17de eeu af het kinien—wat van die kinaboom se bas verkry is—die lewe van miljoene malarialyers gered. In 1897 het Ronald Ross Anopheles-muskiete as die draers van die siekte geïdentifiseer, en muskietbeheer is later aangemoedig om die sterftes in tropiese lande te verminder.
[Prente]
Die diereriem (bo) en bloedlating
[Erkenning]
Albei: Biblioteca Histórica “Marqués de Valdecilla”
[Prente op bladsy 3]
Vandag sterf daar elke jaar sowat tweemiljoen mense aan terugkerende vorme van tuberkulose
[Erkenning]
X-straal: New Jersey Medical School–National Tuberculosis Center; man: Foto: WHO/Thierry Falise
[Prent op bladsy 4]
’n Duitse gravure, wat uit omtrent 1500 dateer, waarop ’n dokter ’n masker dra om hom teen die Swart Dood te beskerm. Daar was parfuum in die snawel
[Erkenning]
Godo-Foto
[Prent op bladsy 4]
Die bakterie wat builepes veroorsaak het
[Erkenning]
© Gary Gaugler/Visuals Unlimited