Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou die perd en die tong in toom

Hou die perd en die tong in toom

Hou die perd en die tong in toom

“Die perd is iets wat vir die dag van oorlog gereedgemaak word”, het wyse koning Salomo van eertydse Israel gesê (Spreuke 21:31). Berede soldate het lank ’n baie belangrike rol daarin gespeel om veldslae te wen. Sedert die ou tyd gebruik soldate die toom om die vurigheid en krag van perde onder beheer te bring.

Die toom, verduidelik die Encyclopædia Britannica, “is ’n stel leerbande wat die stang in die perd se mond hou en dus verseker dat ’n mens hom met behulp van die teuels kan beheer”. Tooms van die ou tyd verskil nie baie van hedendaagse tooms nie en was van onskatbare waarde om perde te tem en te ry.

Salomo se vader, koning Dawid, het op die belangrikheid van die toom gesinspeel toe hy geskryf het: “Julle moenie soos ’n perd of ’n muil sonder verstand word nie, wie se vurigheid selfs met ’n toom of ’n halter bedwing moet word” (Psalm 32:9). Nadat ’n perd getem is, kon hy ’n getroue vriend word. Aleksander die Grote het soveel waarde aan sy perd Bucephalus geheg dat hy ’n stad in Indië na hom vernoem het.

Hoewel mense perde al duisende jare lank met welslae tem, is dit iets heeltemal anders om ons onvolmaakthede in toom te hou. “Ons almal struikel dikwels”, het die Christendissipel Jakobus gesê. “As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook sy hele liggaam in toom te hou” (Jakobus 3:2). Wie van ons kan immers sê dat hy nog nooit ’n onbedagsame, kwetsende of bitsige woord gesê het nie?

Waarom moet ons dan hard probeer om ons onbedwingbare tong, wat ‘geen mens kan tem nie’, in toom te hou? (Jakobus 3:8). Wel, mense is bereid om tyd en moeite daaraan te bestee om ’n perd in te breek omdat hulle weet dat die geleerde dier nuttig sal wees. Hoe beter ons dan ook ons tong leer, of beheer, hoe nuttiger sal dit wees.

Bedagsame woorde kan ons vriende, werksmaats en familielede gerusstel en aanmoedig (Spreuke 12:18). Sulke woorde kan die lewe aangenamer maak vir die mense om ons. ’n Tong wat nie in toom gehou word nie, veroorsaak probleme. “Wie sy mond en sy tong in toom hou, hou hom uit gevaar”, sê die Bybel (Spreuke 21:23, Die Bybel, 1983). Hoe meer ons ons tong in toom kan hou, hoe voordeliger sal dit vir ons wees en vir diegene wat na ons luister. a

[Voetnoot]

a Interessant genoeg, die Bybel herinner Christene daaraan dat daar ’n noue verband tussen hulle spraak en hulle aanbidding is. Dit sê: “As iemand meen dat hy ’n vormlike aanbidder is en tog nie sy tong in toom hou nie, maar voortgaan om sy eie hart te bedrieg, dié man se vorm van aanbidding is vergeefs.”—Jakobus 1:26.

[Prent op bladsy 31]

Aleksander die Grote

[Erkenning]

Alinari/Art Resource, NY