Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Suksesse en mislukkings in die stryd teen siektes

Suksesse en mislukkings in die stryd teen siektes

Suksesse en mislukkings in die stryd teen siektes

OP 5 Augustus 1942 het dr. Alexander Fleming besef dat een van sy pasiënte, ’n vriend, besig was om dood te gaan. Die 52-jarige man het rugmurgvliesontsteking gehad, en ten spyte van al Fleming se pogings het sy vriend nou in ’n koma gegaan.

Vyftien jaar tevore het Fleming toevallig ’n merkwaardige stof ontdek wat deur ’n blougroen skimmel gelewer word. Hy het dit penisillien genoem. Hy het opgelet dat dit bakterieë kon doodmaak; maar hy kon nie suiwer penisillien isoleer nie, en hy het dit net as ’n ontsmettingsmiddel getoets. In 1938 het Howard Florey en sy navorsingspan by die Universiteit van Oxford egter die uitdaging aanvaar om genoeg van die middel te produseer sodat dit op mense getoets kon word. Fleming het Florey gebel, wat aangebied het om al die penisillien te stuur wat hy beskikbaar gehad het. Dit was Fleming se laaste kans om sy vriend te red.

’n Binnespierse penisillieninspuiting was onvoldoende, en gevolglik het Fleming die middel direk in sy vriend se rugmurg ingespuit. Die penisillien het die mikrobes vernietig; en ’n bietjie meer as ’n week later het Fleming se pasiënt die hospitaal verlaat, heeltemal genees. Die era van antibiotika het aangebreek en ’n nuwe mylpaal is bereik in die mens se stryd teen siektes.

Die era van antibiotika

Toe antibiotika eers verskyn het, het mense gedink dat dit wondermiddels is. Infeksies wat voorheen ongeneeslik was en deur bakterieë, swamme of ander mikro-organismes veroorsaak is, kon nou suksesvol behandel word. Danksy die nuwe middels het sterftes weens breinvliesontsteking, longontsteking en skarlakenkoors skerp gedaal. Hospitaalinfeksies wat vantevore ’n doodsvonnis beteken het, het binne ’n paar dae opgeklaar.

Sedert Fleming se tyd het navorsers baie ander antibiotika ontwikkel, en daar word nog steeds na nuwes gesoek. Gedurende die laaste 60 jaar het antibiotika ’n onontbeerlike wapen in die stryd teen siektes geword. As George Washington vandag gelewe het, sou dokters sy seer keel ongetwyfeld met ’n antibiotikum behandel het, en hy sou waarskynlik binne ’n week of wat gesond gewees het. So te sê almal van ons is al met antibiotika gehelp om van die een of ander infeksie ontslae te raak. Maar dit het duidelik geword dat antibiotika sekere nadele het.

Antibiotikabehandeling werk nie vir siektes wat deur virusse, soos vigs of griep, veroorsaak word nie. Daarbenewens is party mense allergies vir sekere antibiotika. En breëspektrumantibiotika kan die nuttige mikro-organismes in ons liggame doodmaak. Maar moontlik die grootste probleem is die oorgebruik en ondergebruik van antibiotika.

Die ondergebruik van antibiotika vind plaas wanneer pasiënte nie die voorgeskrewe behandeling voltooi nie omdat hulle beter voel of omdat die behandeling lank neem. Gevolglik maak die antibiotikum dalk nie al die bakterieë dood nie, wat weerstandbiedende bakteriesoorte die geleentheid gee om te vermeerder. Dit het al dikwels gebeur wanneer tuberkulose behandel is.

Dokters sowel as boere maak hulle aan die oorgebruik van hierdie nuwe middels skuldig. “Antibiotika is al dikwels in die Verenigde State onnodig voorgeskryf, en dit word selfs meer onoordeelkundig in baie ander lande gebruik”, verduidelik die boek Man and Microbes. “Groot hoeveelhede word vir vee gegee, nie om siektes te genees nie, maar om hulle groei te bevorder; dit is ’n belangrike rede waarom mikrobes groter weerstand bied.” Die gevolg, waarsku die boek, is dat “ons dalk later nie meer nuwe antibiotika sal hê nie”.

Maar ten spyte van hierdie bekommernisse oor antibiotiese weerstand, was die tweede helfte van die 20ste eeu ’n tyd van mediese oorwinnings. Dit het gelyk of mediese navorsers geneesmiddels vir feitlik enige kwaal kon vind. En entstowwe het selfs die vooruitsig gebied om siektes te voorkom.

Oorwinnings vir die geneeskunde

“Immunisering is die openbare gesondheidsorg se grootste suksesverhaal in die geskiedenis”, het The World Health Report 1999 gesê. Miljoene lewens is reeds gered danksy uitgebreide wêreldwye inentingsveldtogte. ’n Wêreldwye immuniseringsprogram het pokke uitgeroei—die dodelike siekte wat meer lewens geëis het as al die oorloë van die 20ste eeu tesame—en ’n soortgelyke veldtog het polio amper uitgewis. (Sien die venster “Oorwinnings oor pokke en polio”.) Baie kinders word nou ingeënt om hulle teen algemene lewensgevaarlike siektes te beskerm.

Ander siektes is deur minder dramatiese metodes onder beheer gebring. Watergedraagde siektes soos cholera veroorsaak selde probleme waar daar behoorlike sanitasie en ’n veilige watervoorraad is. Omdat dokters en hospitaalsorg in baie lande toegankliker geword het, kan die meeste siektes geïdentifiseer en behandel word voordat dit lewensgevaarlik word. ’n Beter dieet en lewenstoestande, asook die toepassing van wette oor die behoorlike hantering en berging van voedsel, het ook bygedra tot die verbetering van openbare gesondheid.

Nadat wetenskaplikes die oorsake van besmetlike siektes vasgestel het, kon gesondheidsowerhede praktiese maatreëls tref om die verspreiding van ’n epidemie te stuit. Beskou net een voorbeeld. Toe builepes in 1907 in San Francisco uitgebreek het, het min mense gesterf omdat die stad onmiddellik stappe gedoen het om die rotte uit te roei waarop die vlooie gelewe het wat die siekte oorgedra het. Aan die ander kant het dieselfde siekte in 1896 in Indië uitgebreek en in 12 jaar tienmiljoen lewens geëis omdat die onderliggende oorsaak toe nog nie geïdentifiseer is nie.

Mislukkings in die stryd teen siektes

Dit is duidelik dat daar betekenisvolle oorwinnings was. Maar party oorwinnings in openbare gesondheidsorg was beperk tot die ryker lande van die wêreld. Miljoene mense sterf nog steeds aan behandelbare siektes, eenvoudig weens ’n gebrek aan voldoende fondse. In ontwikkelende lande het baie mense nog steeds nie behoorlike sanitasie, gesondheidsorg en toegang tot veilige water nie. Dit het moeiliker geword om in hierdie basiese behoeftes te voorsien weens die massaverskuiwing van mense uit die platteland na die megastede van die ontwikkelende wêreld. As gevolg van sulke faktore dra die wêreld se armes swaar aan wat die Wêreldgesondheidsorganisasie ’n “ongelyke deel van die siektelas” noem.

Kortsigtige selfsug is die hoofoorsaak van hierdie wanbalans in gesondheid. “Van die wêreld se gevaarlikste besmetlike siektes is vir baie mense amper iets onwerkliks”, sê die boek Man and Microbes. “Party van hierdie siektes is heeltemal of hoofsaaklik beperk tot arm tropiese en subtropiese streke.” Aangesien welvarende ontwikkelde lande en farmaseutiese maatskappye dalk nie regstreeks daaruit voordeel trek nie, is hulle teësinnig om fondse beskikbaar te stel vir die behandeling van hierdie siektes.

Onverantwoordelike gedrag is ook ’n faktor by die verspreiding van siektes. Hierdie wrede werklikheid word dalk die beste toegelig deur die vigs-virus, wat deur middel van liggaamsvloeistowwe van persoon tot persoon oorgedra word. Binne ’n paar jaar het hierdie pandemie oor die hele aardbol versprei. (Sien die venster “Vigs—die plaag van ons tyd”.) “Mense het dit aan hulleself gedoen”, sê die epidemioloog Joe McCormick. “En ek moraliseer nie nou nie, dit is eenvoudig ’n feit.”

Hoe het mense onwetend met die vigs-virus saamgewerk? Die boek The Coming Plague noem die volgende faktore: Maatskaplike veranderinge—veral die gebruik om meer as een seksmaat te hê—het tot ’n vlaag van seksueel oordraagbare siektes gelei, wat dit baie makliker vir die virus gemaak het om ’n houvas te kry en vir een draer om baie ander mense te besmet. Die wydverspreide gebruik van besmette, tweedehandse spuitnaalde vir mediese inspuitings in ontwikkelende lande of vir dwelmgebruik het ’n soortgelyke uitwerking gehad. Die wêreldwye bloedbedryf met ’n omset van miljarde rande het dit moontlik gemaak dat die vigs-virus van een skenker na tientalle ontvangers oorgedra kan word.

Soos vroeër genoem is, het die oorgebruik en ondergebruik van antibiotika bygedra tot die verskyning van weerstandbiedende mikrobes. Hierdie probleem is ernstig en word erger. Die stafilokokkusbakterie, wat dikwels wondinfeksies veroorsaak, kon gewoonlik maklik met behulp van penisillienderivate vernietig word. Maar nou is hierdie tradisionele antibiotika dikwels ondoeltreffend. Gevolglik moet dokters nou nuwer, duurder antibiotika gebruik wat hospitale in ontwikkelende lande selde kan bekostig. Selfs die nuutste antibiotika kan teen sekere mikrobes ondoeltreffend wees, met die gevolg dat hospitaalinfeksies algemener en dodeliker is. Dr. Richard Krause, voormalige hoof van die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Allergieë en Besmetlike Siektes, beskryf die huidige situasie ronduit as “’n epidemie van mikrobiese weerstand”.

“Is ons vandag beter af?”

Nou, aan die begin van die 21ste eeu, is dit duidelik dat die bedreiging van siektes nog nie verdwyn het nie. Die onstuitbare verspreiding van vigs, die verskyning van patogene wat teen geneesmiddels bestand is, en die feit dat ou doders soos tuberkulose en malaria weer terugkeer, toon dat die stryd teen siektes nog nie gewen is nie.

“Is ons vandag beter af as wat ons ’n eeu gelede was?” het die Nobelpryswenner Joshua Lederberg gevra. “In die meeste opsigte is ons slegter af”, het hy gesê. “Ons het nie genoeg aandag aan mikrobes geskenk nie, en nou maai ons keer op keer wat ons gesaai het.” Kan die huidige terugslae oorkom word met doelgerigte pogings van die geneeskunde en alle lande van die wêreld? Sal die vernaamste besmetlike siektes, soos in die geval van pokke, uiteindelik uitgewis word? Ons laaste artikel sal hierdie vrae bespreek.

[Venster/Prent op bladsy 8]

Oorwinnings oor pokke en polio

Teen die einde van Oktober 1977 het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) die laaste geval van pokke gevind wat natuurlik voorgekom het. Ali Maow Maalin, ’n hospitaalkok van Somalië, het nie ’n ernstige aanval van die siekte gekry nie, en binne ’n paar weke was hy weer gesond. Almal wat met hom in aanraking was, is ingeënt.

Die dokters het twee lange jare angstig gewag. ’n Beloning van R7 000 is uitgeloof vir enigiemand wat nog ’n bevestigde “aktiewe geval van pokke” kon aanmeld. Niemand het die beloning suksesvol opgeëis nie, en op 8 Mei 1980 het die WGO amptelik aangekondig dat “die Wêreld en al sy volke van pokke bevry is”. Net ’n dekade vroeër het pokke jaarliks die lewe van ongeveer tweemiljoen mense geëis. Vir die eerste keer in die geskiedenis is ’n vername besmetlike siekte uitgewis. a

Polio, of rugmurgontsteking, ’n aftakelende kindersiekte, het die hoop op soortgelyke sukses gebied. In 1955 het Jonas Salk ’n doeltreffende polio-entstof ontwikkel, en ’n immuniseringsveldtog teen polio het in die Verenigde State en ander lande begin. Later is ’n slukentstof ontwikkel. In 1988 het die WGO ’n wêreldwye program geloods om polio uit te wis.

“Toe ons die veldtog in 1988 begin het, het polio elke dag meer as 1 000 kinders verlam”, vertel dr. Gro Harlem Brundtland, wat destyds die Direkteur-generaal van die WGO was. “In 2001 was daar baie minder as 1 000 gevalle vir die hele jaar.” Polio kom nou in minder as tien lande voor, hoewel meer fondse nodig sal wees om hierdie lande te help om die siekte finaal uit te wis.

[Voetnoot]

a Pokke was die ideale siekte om deur middel van ’n internasionale inentingsveldtog te beveg omdat die pokkevirus van ’n menslike gasheer vir oorlewing afhanklik is, anders as ander siektes wat deur lastige draers soos rotte en insekte versprei word.

[Prent]

’n Etiopiese seuntjie ontvang ’n slukentstof teen polio

[Erkenning]

© WHO/P. Virot

[Venster/Prent op bladsy 10]

Vigs—die plaag van ons tyd

Vigs het as ’n nuwe wêreldwye bedreiging op die toneel verskyn. Ongeveer 20 jaar ná dit geïdentifiseer is, is meer as 60 miljoen mense al daarmee besmet. En gesondheidsowerhede waarsku dat die vigs-pandemie nog in “’n vroeë stadium” is. Besmettingsyfers “styg hoër as wat hulle vroeër gedink het moontlik is”, en dit het ’n vernietigende uitwerking in die wêrelddele wat die ergste getref is.

“Wêreldwyd is die meeste mense wat MIV/vigs het, in die produktiefste tyd van hulle werkende lewe”, verduidelik ’n verslag van die Verenigde Nasies. Gevolglik word daar geskat dat verskeie lande in Suider-Afrika teen die jaar 2005 tussen 10 persent en 20 persent van hulle arbeidsmag gaan verloor. Die verslag sê ook: “Die gemiddelde lewensverwagting van mense in Afrika suid van die Sahara is tans 47 jaar. Sonder vigs sou dit 62 jaar gewees het.”

Pogings om ’n entstof te vind, het tot dusver niks opgelewer nie, en net 4 persent van die sesmiljoen vigs-lyers in die ontwikkelende wêreld word met medikasie behandel. Vigs is tans ’n ongeneeslike siekte, en dokters vrees dat die meeste mense wat besmet is, uiteindelik die siekte sal kry.

[Prent]

T-limfosietselle wat met MIV besmet is

[Erkenning]

Godo-Foto

[Prent op bladsy 7]

’n Laboratoriumwerker ondersoek ’n hardnekkige virus

[Erkenning]

CDC/Anthony Sanchez