Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Afknouery My sewejarige dogter het gisteraand gesê dat sy nie wil teruggaan skool toe nie omdat twee meisies altyd op haar pik. Ek het die reeks “Afknouery—Wat kan jy daaromtrent doen?” (22 Augustus 2003) begin lees. Ek het hierdie artikels nuttig gevind—nie net om my dogter te help nie, maar ook om te verstaan waarom mense dalk op ’n sekere manier optree.

L. H., Verenigde State

Ek is dikwels by my werk gevloek, voor kollegas verneder en deur een van my base geïgnoreer totdat ek bedank het. Ek het nog steeds diep emosionele letsels weens daardie ondervinding. Maar noudat ek die artikels gelees het, voel ek beter, want ek weet dat iemand verstaan.

H. N., Japan

Toe ek hierdie artikels lees, was dit soos om na my verlede te kyk. Op skool is ek elke dag afgeknou. Ek het gewonder waarom. Hierdie reeks het my gehelp om dit te verstaan, en ek het vertroosting daaruit geput.

M. M., Japan

By die skool het kinders my verstoot, en my selfvertroue het ’n knou gekry. Ek is geleer om my afknouers uit te lag, maar julle is reg as julle sê dat dit beter is om hulle in die oë te kyk en kalm te verduidelik dat dit nie snaaks is nie.

M. G., Frankryk

Ek moet erken dat dit vir my baie moeilik was om die artikels oor afknouery te lees, omdat ek as adolessent en volwassene die slagoffer van fisiese geweld, beledigings en indirekte afknouery was. Noudat ek die artikels gelees het, verstaan ek waarom ek negatiewe gedagtes en ’n gebrek aan selfrespek gehad het. Ek wil julle graag bedank vir hierdie artikels, wat praktiese en bemoedigende raad voorsien het.

A. M., Italië

Sedert ek met hoërskool begin het, is afknouery ’n probleem waarmee ek elke dag te kampe het. Hierdie artikels het my gehelp om te sien dat ek nie nutteloos is omdat ek aan ’n minderheidsgodsdiens behoort nie. Ek word al hoe trotser dat ek een van Jehovah se Getuies is, en ek sal met graagte as gevolg daarvan ly. In die verlede het ek kwaad geword. Nou weet ek wat om te doen, en ek is seker dat dit beter sal gaan.

M. S., Italië

Ek en my tweelingsuster is 16 jaar oud, en ons is in dieselfde klas op skool. Ons klasmaats weet dat ons Jehovah se Getuies is, en hulle knou ons dikwels af. Die artikels oor afknouery was realisties, en dit het ons baie aangemoedig.

E. P., Italië

Ek het in trane uitgebars toe ek die artikels lees, want ek het alles onthou wat my ou skoolmaats ses jaar lank dag na dag aan my gedoen het. Toe ek jonger was, het ek altyd gedink dat ek die enigste een is wat hierdie dinge deurmaak. Ek het nie eers geweet dat hierdie sielkundige aanvalle afknouery genoem word nie. Noudat ek ’n jong vrou is, is ek selfs dankbaarder om oor hierdie probleem ingelig te word. Ek voel dat ek uiteindelik verstaan word!

A. P., Duitsland

Ek het al soveel probleme by die skool ondervind dat ek partykeer nie skool toe wil gaan nie. Hierdie artikels het my egter gehelp om weer na my situasie te kyk, en dit het goeie raad bevat. Ek gebruik van die wenke wat genoem is, en dit het al klaar gehelp. Dankie vir hierdie bemoedigende en nuttige artikels.

M. T., Rusland