Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom behandel hy my so sleg?

Waarom behandel hy my so sleg?

Jongmense vra . . .

Waarom behandel hy my so sleg?

“[My kêrel] beskuldig my dikwels van dinge wat werklik verspot is. Maar ek is emosioneel van hom afhanklik.”—Kathrin. a

“Uiterlik het ’n mens [geen wonde] gesien nie, maar innerlik het dit my verskriklik seergemaak.”—Andrea, wat deur haar kêrel geklap is.

DIT is ’n baie algemene situasie: ’n Jong vrou gaan uit met ’n jong man wat skynbaar die toonbeeld van sjarme en beleefdheid is. Maar stadigaan verander hy. Liefdeswoorde maak plek vir snydende sarkasme en verkleinerende kritiek. In die begin sien sy dit oor as taktlose maar vriendelike tergery. Dinge vererger egter totdat dit ’n patroon van skeltaal, woedeuitbarstings en woorde van diep berou vorm. Om die een of ander rede voel die jong vrou verantwoordelik vir die slegte gedrag en ly sy in stilte, terwyl sy hoop dat dinge sal verander. Maar dinge verander nie. Haar kêrel begin eerder om ook op haar te gil en te skreeu. Gedurende een woedeuitbarsting gee hy haar selfs ’n harde stamp! Sy is bang dat hy haar die volgende keer sal slaan. b

Jong mans en vroue in romantiese verhoudings wat deur skeltaal of liggaamlike mishandeling gekenmerk word, word moontlik aan ’n eindelose stortvloed van kritiek, kwetsende opmerkings en woede blootgestel. Bevind jy jou in so ’n situasie? (Sien die venster “’n Paar waarskuwingstekens”.) Indien wel, is jy moontlik so ontsteld en skaam dat jy eenvoudig nie weet wat om te doen nie.

Sulke situasies is nie naastenby so buitengewoon soos wat jy dalk dink nie. Navorsers skat dat 1 uit 5 mense al op die een of ander manier in hulle verhouding geweldadig behandel is. Wanneer skeltaal as ’n vorm van geweld bygereken word, styg hierdie syfer tot 4 uit 5. In teenstelling met die algemene opvatting is nie alle slagoffers vroulik nie. Volgens ’n Britse studie oor geweld in verhoudings het “amper ewe veel mans en vroue” gesê dat hulle maats hulle mishandel. c

Waarom vind sulke mishandeling in verhoudings plaas? Wat moet jy doen as jy jou in so ’n situasie bevind?

Kry God se beskouing

Eerstens moet jy besef presies hoe ernstig so ’n situasie in God se oë is. Dit is waar dat onvolmaakte mense ongetwyfeld dinge sal sê en doen wat ander seermaak (Jakobus 3:2). Dit is ook waar dat selfs mense wat vir mekaar lief is en mekaar vertrou, van tyd tot tyd meningsverskille sal hê. Die apostel Paulus en Barnabas was byvoorbeeld ryp Christene. Nogtans het hulle by een geleentheid “’n skerp uitbarsting van toorn” gehad (Handelinge 15:39). As jy met iemand uitgaan, is dit dus moontlik dat daar van tyd tot tyd spanning tussen julle sal ontstaan.

Daarbenewens sal dit onrealisties wees om te verwag dat jou kêrel nooit ’n kritiese woord sal sê nie. Julle oorweeg dit immers om met mekaar te trou. En as een van jou eienskappe of gewoontes hom pla, sal dit dan nie liefdevol van hom wees om met jou daaroor te praat nie? Kritiek is weliswaar pynlik (Hebreërs 12:11). Maar as dit uit liefde en op ’n liefdevolle wyse gegee word, is dit nie ’n vorm van mishandeling nie.—Spreuke 27:6.

Dit is egter iets heeltemal anders om op iemand te skreeu of om iemand te klap, te slaan of te skel. Die Bybel veroordeel “gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal” (Kolossense 3:8). Dit laat Jehovah se toorn ontvlam wanneer iemand “mag” gebruik om ander te verneder, te intimideer of te onderdruk (Prediker 4:1; 8:9). Om die waarheid te sê, God se Woord beveel mans om “hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam . . . , want geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit” (Efesiërs 5:28, 29). ’n Man wat skeltaal gebruik teenoor die vrou met wie hy uitgaan, of wat haar mishandel, toon dat hy nie geskik is as ’n huweliksmaat nie. Terselfdertyd haal hy hom Jehovah God se misnoeë op die hals!

Dit is nie jou skuld nie!

Nietemin blameer die skuldiges dikwels hulle slagoffers. Daarom voel jy dalk soms dat dit jou skuld is dat jou kêrel so kwaad word. Maar sy woede het moontlik min of niks met jou te doen nie. Mans wat vroue mishandel, het dikwels in huisgesinne grootgeword waar die gebruik van geweld of skeltaal as normaal beskou is. d In sommige lande word jong mans deur die heersende kultuur beïnvloed, wat verwag dat mans dominerend moet wees. Portuurs kan ook druk op ’n jong man plaas om macho te wees. Omdat hy ’n gebrek aan selfvertroue het, kan hy bedreig voel deur feitlik enigiets wat jy sê of doen.

Wat die situasie ook al is, jy is nie verantwoordelik vir iemand anders se uitbarstings nie. Skeltaal en geweld is nooit geoorloof nie.

Verander jou denkwyse

Maar dalk moet jy jou eie beskouing van sake verander. Hoe so? Wel, as ’n meisie in ’n atmosfeer van geweld en skeltaal grootgeword het, kan sy mishandeling as normaal beskou. In plaas daarvan om ’n weersin in sulke onchristelike gedrag te hê, sal sy dit moontlik verdra—en dit dalk selfs aantreklik vind. Ja, party slagoffers van mishandeling erken dat mans wat te gaaf is, hulle verveel. Ander jong vroue dink verkeerdelik dat hulle hulle kêrel kan verander.

As enige van hierdie situasies op jou van toepassing is, moet jy in hierdie verband ‘verander word deur jou verstand te hervorm’ (Romeine 12:2). Deur gebed, studie en bepeinsing moet jy Jehovah se beskouing van die mishandeling ernstig opneem en dit as afstootlik beskou. Jy moet begryp dat jy nie verdien om mishandel te word nie. As jy beskeidenheid—’n bewustheid van jou beperkings—aankweek, kan dit jou help besef dat jy nie die vermoë het om ’n opvlieënde kêrel te verander nie. Dit is sy verantwoordelikheid om te verander!—Galasiërs 6:5.

In sommige gevalle verduur jong vroue mishandeling weens ’n swak gevoel van eiewaarde. Kathrin, wat aan die begin genoem is, sê: “Ek kan my nie die lewe sonder hom voorstel nie, en ek kan my nie voorstel dat ek iemand beter sal kry nie.” ’n Jong vrou genaamd Helga het ook van haar kêrel gesê: “Ek laat toe dat hy my slaan, want dit is nog steeds beter as dat hy geen notisie van my neem nie.”

Klink sulke beskouings soos ’n goeie grondslag vir ’n gesonde verhouding? Kan jy per slot van rekening werklik vir iemand anders lief wees as jy nie eers jouself kan liefhê nie? (Matteus 19:19). Lê jou daarop toe om gesonde selfrespek op te bou. e Om mishandeling te verduur, sal jou nie help om dit te doen nie. Soos ’n jong vrou genaamd Irena uit ondervinding geleer het, kan dit “jou van al jou eiewaarde beroof” as jy mishandeling verduur.

Sien die waarheid onder die oë

Dit kan vir sommige moeilik wees om te erken dat hulle in ’n ongesonde verhouding is—veral as sterk romantiese gevoelens ontwikkel het. Maar moenie blind wees vir die waarheid nie. ’n Bybelspreuk sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het, maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan” (Spreuke 22:3). ’n Jong vrou genaamd Hanna sê: “Wanneer jy op die ou verlief raak, is jy so goed soos blind, en jy sien net sy positiewe eienskappe raak.” Maar as jy mishandel word, is dit belangrik dat jy erken watter soort persoon hy werklik is. En as jou kêrel jou bedreig of vernederd laat voel, is daar iets ernstigs verkeerd. Moenie probeer om jou gevoelens te ontken, verskonings vir hom te maak of jouself te blameer nie. Die ondervinding leer dat mishandeling net sal vererger as dit nie stopgesit word nie. Dit kan groot gevaar vir jou inhou!

Dit sal natuurlik raadsaam wees om nie betrokke te raak by iemand wat ’n gebrek aan selfbeheersing het nie (Spreuke 22:24). As iemand wat jy nie goed ken nie, jou vra om met hom uit te gaan, is dit dus ’n goeie idee om meer omtrent hom uit te vind. Waarom stel jy nie voor dat julle eers in ’n groep tyd saam deurbring nie? So kan jy hom leer ken sonder om te gou by ’n romantiese verhouding betrokke te raak. Vra betekenisvolle vrae soos: Wie is sy vriende? Van watter soort musiek, rolprente, rekenaarspeletjies en sport hou hy? Toon sy gesprekke dat hy in geestelike dinge belangstel? Praat met mense wat hom ken, soos die ouer manne in sy gemeente. Hulle sal vir jou sê of hy weens sy volwasse en godvresende gedrag ‘gunstig vermeld word’ deur ander.—Handelinge 16:2.

Maar wat kan jy doen as jy alreeds by ’n verhouding betrokke is waarin jy mishandel word? ’n Toekomstige artikel sal hierdie vraag bespreek.

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b Hierdie artikel is geskryf vir slagoffers van skeltaal en liggaamlike mishandeling. Die artikels “Van woorde wat seermaak tot woorde wat heel” en “Afknouery—Watter kwaad kan dit doen?” in die Ontwaak! van 22 Oktober 1996 en 22 Maart 1997 bevat raad wat afknouers kan help.

c Eenvoudigheidshalwe sal ons egter na die slagoffers van mishandeling as vroue verwys. Die beginsels wat hier bespreek word, is op mans sowel as vroue van toepassing.

d Sien die artikel “Die oorsake van smadende taal”, in die Ontwaak! van 22 Oktober 1996.

e Sien hoofstuk 12 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster op bladsy 21]

’n Paar waarskuwingstekens

◼ Hy maak dikwels verkleinerende opmerkings oor jou, jou gesin of jou vriende, wanneer julle alleen is of wanneer julle tussen ander is

◼ Hy ignoreer gewoonlik jou wense en gevoelens

◼ Hy probeer om elke aspek van jou lewe te beheer, en hy dring daarop aan om ten alle tye te weet waar jy is en om alle besluite vir jou te maak

◼ Hy skreeu op jou, stoot of stamp jou, of dreig jou

◼ Hy probeer jou oorreed om jou aan ongepaste liefdeblyke skuldig te maak

◼ Jy kan skaars iets doen sonder om jou te bekommer of dit hom dalk op die een of ander manier sal irriteer

[Prent op bladsy 20]

Aanhoudende kritiek of beledigings kan tekens van ’n ongesonde verhouding wees