Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom ly so baie mense aan hooikoors?

Waarom ly so baie mense aan hooikoors?

Waarom ly so baie mense aan hooikoors?

Deur Ontwaak!-medewerker in Spanje

JOU oë jeuk en traan, jy nies heeldag lank, jou neus hou aan loop en jy sukkel om asem te haal. Wat is fout? Miskien het jy ’n verkoue. Maar as jy hierdie simptome het wanneer daar stuifmeel in die omgewing is, ly jy heel moontlik aan hooikoors. Indien wel, is jy nie die enigste een nie. Daar word elke jaar al hoe meer mense met hooikoors gediagnoseer.

“Hooikoors is bloot ’n oorreaksie van ons liggaam op ’n stof wat dit as skadelik beskou”, berig die tydskrif Mujer de Hoy. “Die immuunstelsel van mense wat allergieë het, verwerp alle agense wat dit as vreemd beskou—insluitende stuifmeel—selfs al is dit nie werklik gevaarlik nie.” En wanneer die immuunstelsel so oorreageer, veroorsaak dit die hinderlike simptome wat aan die begin beskryf is.

In 1819 het die Engelse geneesheer John Bostock hooikoors omskryf. Hy was die eerste een wat dit gedoen het. Bostock het sy eie irriterende seisoenale simptome breedvoerig beskryf. Hy het gemeen dat die simptome deur pas gesnyde hooi veroorsaak word, en daarom is die toestand hooikoors genoem. Later is daar uitgevind dat dit eintlik baie verskillende soorte stuifmeel is wat die allergiese reaksie veroorsaak. Aan die begin van die 19de eeu het Bostock net ’n paar gevalle in die hele Engeland gevind.

Maar waarom ly so baie mense dan vandag aan hooikoors? Dr. Javier Subiza, hoof van die Sentrum vir Asma en Allergieë in Madrid, Spanje, meld twee teorieë wat deur navorsers ondersoek word. Een teorie is dat dieselenjins daarvoor verantwoordelik is. Daar word gemeen dat die werking van allergene, stowwe wat ’n allergiese reaksie veroorsaak, gestimuleer kan word deur die deeltjies wat as gevolg van dieselverbranding gevorm word. Volgens die allergis dr. Juan Kothny Pommer “tas hooikoors tot 20 persent van die bevolking in nywerheidslande aan, en dit kom meer dikwels in stede voor”.

’n Tweede teorie is dat die oorsaak eenvoudig te veel higiëne is. ‘Ons word in ’n operasiesaal gebore, ons eet gesteriliseerde kos, ons word teen baie siektes ingeënt en ons neem antibiotika sodra ons siek word. Ons immuunstelsel word dus van kleins af gekondisioneer om allergieë te ontwikkel’, verduidelik dr. Subiza.

As jy ’n slagoffer van hierdie immunologiese oorgevoeligheid is, moet jy nie moed opgee nie! Met die regte diagnose en behandeling kan die irriterende simptome van hooikoors beheer word sodat dit nie so dikwels voorkom of so hewig is nie.