Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Besoek aan die glaseiland

’n Besoek aan die glaseiland

’n Besoek aan die glaseiland

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË

’N MEESTERVAKMAN steek sy blaaspyp deur ’n klein opening in die kant van ’n vuurwarm smeltoond. Die bol gesmelte glas wat hy uithaal, gloei soos die ondergaande son. ’n Gloeiende oranje draadjie flits vir ’n oomblik tussen die smeltoond en die pyp, en dan is dit weg. Die meestervakman rol hierdie sagte stuk glas op ’n metaaltafel, en die bol word buisvormig. Met ’n ligte blaas in die hol pyp laat hy die glasmassa swel; hy rol dit dan weer, lig dit op, ondersoek dit en steek dit weer in die vuur.

Ons is op Murano, ’n eilandjie in die Lagune van Venesië, Italië. Die eiland is beroemd vir sy glasware. Trouens, glas word al meer as 1 000 jaar in hierdie streek geblaas. Die oorblyfsels van ’n glasfabriek op Torcello, ’n naburige lagune-eiland, dateer uit die sewende eeu G.J. Maar die eerste bewyse van glasblasery uit die stad Venesië verskyn in ’n dokument, gedateer 982 G.J., wat ’n sekere “Domenic die glasmaker” as getuie onderteken het.

Teen 1224 het Venesiaanse glasmakers ’n ambagsgilde gehad. In 1291 het die Groot Raad van Venesië beveel dat glasoonde uit die stad verwyder word, moontlik om veiligheidsredes. Baie is hierheen verskuif, omtrent een kilometer oor die lagune, na Murano, waar hulle vandag nog is.

Waarom so bekend?

Wat maak Murano-glas, of Venesiaanse glas, so uitsonderlik, aangesien glas al sedert die vroegste tye in baie dele van die wêreld gemaak word? Plaaslike glasblasers het vermoedelik hulle kuns so goed verfyn omdat Venesië dikwels kontak gehad het met ander gebiede wat ou glasblaastradisies gehad het, soos Egipte, Fenisië, Sirië en Bisantynse Korinte. Trouens, metodes en produkte van die oudste bekende Venesiaanse fabrieke het blykbaar baie te danke gehad aan Oosterse glasfabrieke. Tegnieke wat op Murano gebruik is, het die vakkundigheid van die eiland tot ’n vlak verhef wat moontlik nooit deur ander Europese sentrums bereik is nie.

In die Europa van die 13de en 14de eeu was Venesië “die enigste glasmaaksentrum wat ‘kunswerke’ van geblaasde glas kon voortbring”, sê die boek Glass in Murano. Venesiaanse produkte is wyd en syd uitgevoer—na die oostelike deel van die Mediterreense gebied en na Noord-Europa. In 1399 het koning Richard II van Engeland twee Venesiaanse galeie wat in die Londense hawe voor anker gelê het, toegelaat om glasware te verkoop. In dieselfde tydperk het Venesiaanse glasware onder die besittings van Franse edellui getel. Mettertyd het Murano ook bekend geword vir spieëls, kroonkandelare, gekleurde glasware, goud- en emaljeversierings, kristal, nagemaakte edelstene, drinkglase met ryklik versierde voetstukke en voorwerpe met delikate patrone.

Venesië, wat baie heilig was op sy handelsgeheime, het probeer voorkom dat daar mededingers sou wees wat glasware van hoë gehalte maak. Reeds in die 13de eeu is glasmakers verbied om in ander gebiede te gaan werk. Voorsorgmaatreëls daarteen het al hoe strenger geword, en slegs diegene wat volle burgerskap gehad het, is toegelaat om as glasmakers of leerjongens te werk. Op een stadium is glasmakers wat uit die gebied gevlug het en gevang is, swaar boetes opgelê en tot vyf jaar as roeiers in voetboeie op ’n galei gevonnis.

Nietemin het glasmakers onwettig na plekke regoor Italië en Europa geëmigreer en met Murano begin meeding deur dieselfde ware te vervaardig en dieselfde metodes te gebruik. In baie gevalle is dit feitlik onmoontlik om hulle produkte—wat bekend geword het as à la façon de Venise, of Venesiaanse styl—te onderskei van dié wat in Murano gemaak is.

Die Venesiaanse glasmaakkuns het sy hoogtepunt in die 15de en 16de eeu bereik. Murano, met die skeppende style van sy delikate kristalware, sy gebrandverfde voorwerpe, sy ondeursigtige lattimo (melkglas) en sy reticello (kantwerkglas)—om maar net ’n paar van die spesialiteite te noem—het die mark oorheers en glasware vir die tafels van konings voorsien.

Destyds, sê een glaskunsgeskiedkundige, “het die nuuskierige reisiger wat in die lagune aangekom het gedurende die tyd dat die smeltoonde gewerk het, nie die kans laat verbygaan om dit te besoek nie”. Ons wil ook nie die kans laat verbygaan om dit te besoek nie. Daarom neem ons vanoggend ’n vaporetto, ’n kanaalbus, van die Grand Canal na Murano toe. Kom saam met ons.

Smeltoonde en vertoonkamers

Sodra ons by die eerste stilhouplek op Murano van die vaporetto afklim, beduie mense vir ons die pad na die naaste glasfabrieke, waar ons gratis demonstrasies van die glasmakers se kuns kan sien. Ons kyk toe terwyl een glasblaser ’n glasbol aan die einde van sy pyp in ’n buis vorm deur dit te blaas en die pyp te draai. Dan gebruik hy ’n tang en skêr om die vormlose massa met geoefende bewegings te trek, te knip en te knyp sodat dit die kop, bene en stert van ’n pronkende hings vorm.

Wanneer ons die eerste fabriek verlaat, loop ons langs die stil Rio dei vetrai af, die glasmakers se kanaal, waar die enigste verkeer, soos in die grootste deel van Venesië, op die sypaadjie en op die water is. Hier besef ons dat daar ’n menigte werkswinkels en vertoonkamers op Murano is. Party vertoon pragstukke van gehalte—teestelle, lampstaanders en indrukwekkende, soliede beeldhouwerke—wat ongetwyfeld groot vaardigheid en aandag verg om te maak. Ander bied meer bekostigbare ware aan, van krale tot blompotte en veelkleurige papiergewigte. Baie daarvan is besonder mooi. Alles is met die hand gemaak.

Dit fassineer ons om te sien hoe verskillende stukke gemaak word. Murano-glas—70 persent sand en 30 persent soda-as, kalksteen, nitraat en arseen—is vloeibaar by 1 400 grade Celsius en styf by ongeveer 500 grade Celsius. Teen die regte temperatuur tussen hierdie twee is die glas sag en bewerkbaar. Wanneer ’n voorwerp geblaas of gevorm word, moet dit dus herhaaldelik in die vuur gesteek word om dit weer buigsaam te maak. Glasblasers sit by banke tussen horisontale leunings, waarop hulle hulle blaaspype rus en rol. Terwyl hulle dit met die een hand draai, hou die ander hand ’n instrument of ’n waterdeurweekte peerhoutvorm, wat besonder hittebestand is, om die glasmassa te fatsoeneer.

Ons kyk hoe een glasblaser ’n geribde glasvorm gebruik en ’n bol glas daarin blaas, die een punt van die bol deur ’n assistent laat afsny en dan sy blaaspyp in die rondte draai om die bol te laat oopgaan, soos ’n blomknop wat oopvou. Hy verhit en fatsoeneer dit verder, knyp die rand plek-plek, en dit word ’n lelievormige lamp vir ’n kroonkandelaar.

Om kleur by ’n deursigtige glasmassa te voeg, besprinkel die glasblaser dit met smeltbare kleurpoeier. ’n Blomeffek word verkry deur die murrine-tegniek te gebruik, wat behels dat muntvormige skywe van voorafbereide ronde glasstafies met gekleurde patrone daarin bygevoeg word. Sagte glas in die vorm van ’n buis kan op so ’n manier gerol word dat die buitekant bedek word met glasstafies of stukkies van stafies wat parallel op ’n metaalplaat gelê is. Wanneer dit weer in die vuur gesteek word, smelt hierdie stafies—wat veelkleurig, kantagtig of spiraalvormig is—en word dit deel van die glasmassa, wat dan in ’n blompot, ’n lamp of enige ander verlangde vorm geblaas kan word. Glasartikels met dik wande wat uit verskillende lae gekleurde of deursigtige glas bestaan, word gemaak deur die voorwerp in verskillende smeltpotte te doop.

Ja, dit lyk of daar ’n storie en ’n spesiale tegniek agter elke artikel is. Danksy hulle eeue oue tradisies kan die glasmakers van Venesië se geskiedkundige eiland vuur gebruik om sand in pragtige, vonkelende skeppings te omskep.

[Prent op bladsy 16]

Die Rio dei vetrai, Murano, Italië

[Prent op bladsy 17]

Die 15de-eeuse “Barovier-glas”

[Prent op bladsy 17]

’n 16de-eeuse kelk waarop gravering met ’n diamant gedoen is

[Prente op bladsy 18]

1. Die opening in die kant van die smeltoond

2. ’n Glasblaser vorm ’n stuk glas

3. Die glas word herverhit om dit weer buigsaam te maak

4. Die glasblaser gebruik ’n tang en skêr om ’n pronkende hings hoewe te gee

5. Die voltooide artikel

[Erkenning]

Photos courtesy http://philip.greenspun.com