Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Kat met snaakse ore

’n Kat met snaakse ore

’n Kat met snaakse ore

WILLIAM ROSS, ’n skaapwagter, het in opreg geteelde katte belanggestel. Eendag, in 1961, het Ross sy buurman se plaas in die graafskap Perth, Skotland, besoek. Daar het hy Susie, die bure se kat, gesien. Susie het egter nie soos ’n gewone huiskat gelyk nie. Sy was ’n wit basterkat, maar die boonste helfte van haar ore het vorentoe en af gevou, wat haar ietwat komieklik laat lyk het. Ross se vonds het hom gefassineer, en hy het ’n wyfiekatjie met gevoude ore gekry uit ’n werpsel wat Susie omtrent ’n jaar later gehad het.

Ross het toe in aanraking gekom met ’n Londense teler wat in die genetika van katte belanggestel het, en dié twee het gehelp om ’n teelprogram vir Susie se nageslag te begin. Dit is nie verbasend dat die ras die naam Scottish Fold gekry het nie. Sedertdien het hierdie katte baie gewild geword. Britse katverenigings het hulle egter nie vir registrasie goedgekeur nie. Sommige is bekommerd dat die katte moontlik vatbaarder vir sekere gesondheidsprobleme is as gevolg van die geen wat die vou veroorsaak. Maar hierdie bekommernis het nie gekeer dat Scottish Folds in die Verenigde State geregistreer word nie, waar ’n teelprogram in die vroeë 1970’s begin is. Trouens, teen die einde van hierdie dekade het dié katte al skoukampioene in daardie land geword.

Waarom die vou in die ore?

“Wat het met jou kat se ore gebeur?” vra mense dikwels wanneer hulle ’n Scottish Fold vir die eerste keer sien. Die vou in die ore is as gevolg van ’n afwyking in wat wetenskaplikes ’n dominante geen noem. Selfs as die katjie hierdie geen van net een ouer kry, sal dit ’n Scottish Fold wees.

Maar die mate waarin die ore vou, verskil grootliks, van geen vou nie tot een, twee of drie voue. Susie, die oorspronklike Scottish Fold, het ’n enkele los vou gehad. Skoukatte het oor die algemeen drie voue, sodat die ore plat op die kop lê. Interessant genoeg, Scottish Folds word almal met reguit ore gebore. Maar wanneer ’n werpsel omtrent drie weke oud is, kan telers begin sien watter katjies gevoude ore gaan ontwikkel.

As Scottish Folds nie met sorg geteel word nie, kan dit gesondheidsprobleme meebring. As die mannetjie en wyfie byvoorbeeld albei gevoude ore het, kan hulle kleintjies ’n genetiese afwyking ontwikkel, soos aangebore osteodistrofie, wat beenmisvorming veroorsaak. Gerespekteerde telers sal derhalwe altyd Scottish Folds met ander katte kruis wat reguit ore het. Telers gebruik dikwels Britse en Amerikaanse korthaarkatte hiervoor.

Nog ’n moontlike gesondheidsprobleem hou verband met oorhigiëne, veral by katte met drie voue. Hulle ore raak maklik binne-in vuil omdat dit so plat teen hulle kop vou. The Illustrated Encyclopedia of Cat Breeds beveel aan dat eienaars versigtig “binne-in die voue met ’n klam wattestokkie” skoonmaak. Maar gelukkig is gesonde katte “nie baie vatbaar vir oorinfeksies en oormyte, soos ’n paar jaar gelede vermoed is nie”, sê The Cat Site, ’n Internetwebwerf vir kateienaars.

Lieftallige metgeselle

Scottish Folds word as rustige, liefdevolle en intelligente katte beskou. Hulle lewe omtrent 15 jaar lank, en dit lyk asof daar niks is waarvan hulle meer hou as ’n gemaklike huislewe nie. “Die Scottish Fold is ’n liefdevolle, kalm en vriendelike kat wat vir mense sowel as ander troeteldiere lief is”, sê The Illustrated Encyclopedia of Cat Breeds. Hulle het ’n sagte, vrolike stem wat hulle selde gebruik. Selfs as hulle honger is, sal hulle dikwels net na jou staan en staar totdat jy vir hulle kos gee.

Net soos ander katte kom Scottish Folds in baie kleure en kleurkombinasies voor, met kort of lang hare. Maar dit is hulle gevoude ore, bolvormige kop, kort nek en uilagtige gesig met groot, ronde oë wat hulle al hoe gewilder maak. Trouens, Scottish Folds het een van die gesogste katrasse ter wêreld geword. Potensiële kopers moet dikwels ses maande of langer wag voordat hulle ’n katjie kan kry. As ’n koper ’n spesifieke pelslengte, kleur of geslag wil hê, kan hy of sy natuurlik nog langer wag.

Toe William Ross in 1961 op Susie afgekom het, het hy waarskynlik geen idee gehad dat die nageslag van hierdie nederige plaaskat so gesog sou word nie, veral as ’n mens in ag neem dat die ras nie gewild is weens die een of ander ingebore meerderwaardigheid nie, maar weens ’n genetiese afwyking, wat hoofsaaklik aan die ore gesien kan word.