Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Nuwe gesig vir Mailyn

’n Nuwe gesig vir Mailyn

’n Nuwe gesig vir Mailyn

SOOS VERTEL DEUR MAILYN SE MA

Waarom het Mailyn, my lieflike 11-jarige dogter, ’n nuwe gesig nodig gehad? Kom ek verduidelik.

Mailyn is die jongste van my twee dogters. Sy is op 5 Augustus 1992 in Holguín, Kuba, gebore. Ek, haar pa en haar sussie was baie bly oor haar geboorte. Maar ons vreugde was van korte duur. ’n Paar dae ná haar geboorte het ek waterpokkies gekry, en ’n maand later het Mailyn dit ook gekry.

Aanvanklik het haar toestand nie te ernstig gelyk nie; maar dit het vererger, en sy moes in die hospitaal opgeneem word. Mailyn het goeie mediese behandeling ontvang, maar haar immuunstelsel was al so verswak dat sy ’n infeksie opgedoen het. Ek het ’n vreemde, rooierige vlek aan die een kant van haar neusie opgemerk. Die dokters het vasgestel dat ’n seldsame, baie aggressiewe soort bakterie dit veroorsaak het.

Ondanks die feit dat hulle haar onmiddellik antibiotika gegee het, het die bakterie haar gesig binne ’n paar dae begin vernietig. Teen die tyd dat die dokters die infeksie kon stuit, was Mailyn se neus, lippe en dele van haar tandvleis en ken feitlik heeltemal weggevreet. Daar was ook gaatjies langs een van haar oë.

Toe ek en my man haar sien, het ons in trane uitgebars. Hoe kon so iets met ons dogtertjie gebeur? Mailyn was ’n hele paar dae in die waakeenheid, en die dokters het nie gedink dat sy sou lewe nie. My man het vir my bly sê: “Berei jou voor op die ergste.” Maar wanneer ek my hand in die broeikas gesteek het om Mailyn se handjie te vat, het sy my hand so styf vasgehou dat ek geweet het sy sou lewe. Ek het vir my man gesê: “Ons dogter gaan nie sterf nie. Maar watter soort lewe sal Mailyn in haar toestand hê?” Elke oggend wanneer ons wakker geword het, het ons gedink dat dit alles miskien net ’n nagmerrie is.

Terwyl ons by die hospitaal was, het ons ouer dogter, Maydelis, wat toe ses jaar oud was, by my ouers gebly. Sy het gretig gewag dat haar sussie huis toe moet kom. Toe sy Mailyn laas gesien het, was sy ’n pragtige “poppie” met groot blou oë. Maar toe Maydelis haar babasussie weer sien, het Mailyn afgryslik gelyk.

‘Waarom moet my baba so baie ly?’

Ná ’n maand en ’n half in die hospitaal is Mailyn ontslaan. Ons het nie na ons huis in die stad teruggekeer nie, want ons wou nie hê dat enigeen haar moes sien nie. Ons het ons afgesonder in ’n huisie op die platteland, langs my ouers se plaas.

In die begin kon ek Mailyn net ’n bietjie borsmelk op ’n slag gee deur die opening in haar gesig waar haar mond vroeër was. Sy kon nie suig nie. Maar toe die letsels begin genees, het daardie opening amper toegegaan. Ek kon haar net versapte kos in ’n bottel gee. Toe sy ’n jaar oud was, het ons na Holguín teruggekeer, waar die dokters vier operasies gedoen het om die opening groter te maak.

Ek het my afgevra: ‘Waarom moet my baba so baie ly?’ Ek het die antwoord in spiritistiese sentrums gesoek en tot my godsdiensbeelde gebid. Maar niks het my enige vertroosting gebied nie. Die kwetsende opmerkings van party van my familielede en vriende het my selfs meer verwar. Party het gesê: “God weet waarom hy hierdie dinge toelaat.” Ander het vir my gesê: “Dit is sekerlik God wat jou straf.” Ek was ook baie bekommerd oor wat ek vir Mailyn sou sê wanneer sy ouer word. Eenkeer, toe sy nog baie klein was, het Mailyn vir haar pa gevra: “Waarom het ek nie ’n neus soos ander mense nie?” Haar pa kon haar nie antwoord nie en het buitentoe gegaan om te huil. Ek het vir haar probeer verduidelik wat gebeur het. Sy onthou nog dat ek vir haar gesê het dat ’n goggatjie haar neus en mond opgeëet het.

’n Grondslag vir hoop

Net toe ek nie meer geweet het watter kant toe nie, het ek onthou dat my buurvrou een van Jehovah se Getuies is. Ek het haar gevra om my uit die Bybel te wys waarom God my dogtertjie so baie laat ly. Ek het ook gevra: “As God my regtig deur hierdie siekte straf vir iets wat ek gedoen het, waarom moet Mailyn dan daarvoor boet?”

My buurvrou het die Bybel met my begin studeer deur die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe a te gebruik. Ek het geleidelik begin besef dat ’n mens God nie die skuld kan gee vir wat met Mailyn gebeur het nie en dat hy waarlik vir ons omgee (Jakobus 1:13; 1 Petrus 5:7). Die wonderlike hoop dat lyding heeltemal uit die weg geruim sal word onder die heerskappy van sy hemelse Koninkryk in die hande van Jesus Christus, het vir my iets kosbaars geword (Matteus 6:9, 10; Openbaring 21:3, 4). Hierdie kennis het my versterk en my beweeg om die Christelike vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon. Aanvanklik het my man nie van my nuwe geestelike belangstelling gehou nie. Maar hy het my nie gekeer om die Bybel te studeer nie, solank dit my gehelp het om ons tragedie te verwerk.

Hulp vanuit die buiteland

Toe Mailyn twee jaar oud was, het ’n vooraanstaande plastiese chirurg in Mexiko van haar geval te hore gekom en aangebied om haar gratis te behandel. Die eerste operasies is in 1994 gedoen. Ek en Mailyn het amper ’n jaar lank in Mexiko gebly. In die begin kon ons nie met Jehovah se Getuies in aanraking kom nie, en daarom kon ons nie die Christelike vergaderinge bywoon nie. My geestelikheid het daaronder gely. Toe het een van die plaaslike Getuies met ons in aanraking gekom, en ons het weer so dikwels moontlik met medegelowiges begin assosieer. Nadat ons na Kuba teruggekeer het, het ek my Bybelstudie hervat en geestelik herstel.

My man het toe nog steeds nie in die Bybel belanggestel nie. In ’n poging om sy belangstelling te wek, het ek hom begin vra om sekere dele uit Bybelpublikasies vir my te lees sodat ek dit beter kon verstaan. Uiteindelik is hy beweeg om ’n Bybelstudie te aanvaar omdat hy bang was dat die herhaalde lang reise na Mexiko ons gesinsverhouding sou benadeel. Hy het gemeen dat dit ons sou help om hierdie tye van skeiding beter te hanteer as ons geestelik verenig is. En dit het. Ek, my man en my oudste dogter is in 1997 as Getuies van Jehovah gedoop.

Gedurende die eerste paar keer wat ons in Mexiko gebly het, het Mailyn gesê dat dit nie vir ons nodig sou gewees het om van haar pa en haar sussie af weg te wees as die goggatjie nie haar gesig geëet het nie. Dit was hartverskeurend om die gesin vir sulke lang tydperke te skei. Maar ek onthou dat een spesifieke besoek aan die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mexiko, wat Bethel genoem word, ons baie bemoedig het. Mailyn het gesê dat sy nie nog ’n operasie—die vyfde gedurende daardie besoek aan Mexiko—wou ondergaan nie omdat die genesingsproses so pynlik was. Maar van die Getuies wat by die takkantoor gedien het, het vir haar gesê dat hulle vir haar ’n partytjie sou reël wanneer sy uit die hospitaal kom as sy dapper is en die dokters toelaat om te opereer. Sy het dus ingestem tot die operasie.

Laat Mailyn beskryf hoe sy gevoel het: “Ek was opgewonde oor die idee om ’n partytjie by Bethel te hê. Daarom was ek baie dapper tydens die operasie. Die partytjie was opwindend, en daar was so baie geestelike broers en susters. Hulle het vir my baie kaartjies gegee, wat ek nou nog het. Die aanmoediging wat ek ontvang het, het my die krag gegee vir die operasies wat nog voorgelê het.”

Vordering en hulp om te volhard

Mailyn, wat nou 11 jaar oud is, het 20 operasies ondergaan om haar gesig te herbou. Hoewel dit haar baie gehelp het, kan sy nog steeds nie haar mond heeltemal oopmaak nie. Maar sy was nog altyd ’n dapper, positiewe mens. Sy het ook groot waardering vir geestelike dinge getoon. Toe sy ses jaar oud was, het sy by die Teokratiese Bedieningskool in ons plaaslike gemeente aangesluit, en sy is op 27 April 2003 gedoop. Sy het al tot drie Bybelstudies op ’n slag gehou. Eenkeer, terwyl ons in Mexiko was, het sy met ’n man gepraat wat ingestem het om die Bybel saam met haar te studeer. Mailyn het hom na die herdenking van Christus se dood en na ander gemeentelike vergaderinge genooi, wat hy met groot belangstelling bygewoon het.

Wanneer Mailyn van huis tot huis getuig, kyk party mense na haar gesig en vra hulle haar of sy verbrand het. Mailyn maak van die geleentheid gebruik om hulle te vertel van haar Bybelse hoop dat Jehovah in die komende Paradys vir haar ’n nuwe gesig sal gee.—Lukas 23:43.

Woorde kan nie die pyn beskryf wat Mailyn moes verduur weens die operasies en bespotting van ander kinders nie. Wat het haar gehelp om te volhard? Mailyn antwoord met oortuiging: “Jehovah is vir my baie werklik. Hy gee my die krag en moed om uit te hou. Ek wil nie nog operasies hê nie, want die dokters kan nie nou meer veel vir my doen nie. Hulle sal my nooit kan maak soos ek was toe ek gebore is nie. Maar ek weet dat Jehovah in die nuwe wêreld vir my ’n nuwe gesig gaan gee en dat ek weer mooi sal wees.”

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 26]

‘Jehovah gaan in die nuwe wêreld vir my ’n nuwe gesig gee’

[Lokteks op bladsy 27]

Ek het geleidelik begin besef dat ’n mens God nie die skuld kan gee nie