Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Saad wat die oseane bevaar

’n Saad wat die oseane bevaar

’n Saad wat die oseane bevaar

Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje

TERWYL ek aan Engeland se ooskus langs ’n strand gestap het wat met seegras en dryfhout besaai was, het ’n buitengewone klippie my aandag getrek. Ek het dit opgetel. Dit was glad en kastaiingbruin—maar dit was nie ’n klippie nie! Wat was dit? ’n Saad wat van die trope af gedryf het en algemeen as ’n seeboon bekend staan. Hoe het dit daar gekom?

Waar seebone vandaan kom

Hierdie boon is in werklikheid ’n saad van ’n reusagtige peulplant wat ’n liaan genoem word. The Concise Oxford Dictionary omskryf “liaan” as “’n houtagtige rankplant wat in bome hang, veral in tropiese reënwoude”. Dit gebruik rankies om teen die gasheerboom op te klim—partykeer tot 30 meter bo die woudvloer. Hierdie plant kom algemeen langs kusgebiede en riviere in Sentraal- en Wes-Afrika, Colombia, die Wes-Indiese eilande en Sentraal-Amerika voor. In Costa Rica, waar boomlewende ape dit gebruik om van boomtop na boomtop te swaai, staan dit as die aapleer bekend.

Die saad kan tot ses sentimeter lank wees en ontwikkel in ’n yslike peul wat in die gasheerboom hang. Hierdie groot saadpeul kan tot twee meter lank word. Dit bestaan uit geronde segmente wat elkeen ’n saad bevat. Dit word deur ’n smal gleuf geskei. Soos baie gewone boontjies is die saadpeul sag en groen wanneer dit begin groei. Maar namate dit ryp word, word die peul hard, droog en swaar. Dit word ook bruin en begin soos hout lyk.

Omdat die saadpeul swaarder word, val dit uiteindelik in die rivier of see. Terwyl die peul wegdryf, breek die afsonderlike dele af. Elke saad, met sy beskermende omhulsel, begin nou sy eie reis. Party sade sit in die modder langs ’n rivieroewer vas en groei daar. Baie sal egter met die rivier afdryf—soms honderde kilometers tot by ’n riviermonding. As ’n saad tussen groepe eilande dryf, kan die gety dit dalk meesleur en op ’n nabygeleë strand uitspoel.

’n Wêreldreisiger

Wat gebeur met ’n saad wat in die see beland? Die beskermende buitelaag verweer geleidelik en die saad val uit. Sink dit? Nee, want dit is waterdig. Dit het die vermoë om te dryf omdat dit ’n lugholte het wat ontstaan wanneer die saadlob, die saad se eerste blaar, krimp. Met so ’n wonderlike oorlewingsmeganisme kan hierdie hartvormige saad maande, selfs jare, onbeskadig in die see dryf voordat dit op ’n verafgeleë strand uitspoel.

Hoe kry die saad dit reg om verafgeleë plekke soos die Britse Eilande, Skandinawië en ander dele van Wes-Europa te bereik? Hierdie sade steek die Atlantiese Oseaan al eeue lank met behulp van die Golfstroom oor. In werklikheid word miljoene van hierdie sade voortdurend deur seestrome oor die hele wêreld vervoer!

Is hierdie saad nog kiemkragtig ná so ’n lang en gevaarlike reis? Wel, maak met ’n vyl of ’n saag ’n kerfie in die omhulsel, verkieslik naby die oog, die litteken aan die saad waar dit aan die saadhuisie vas was. Plant die saad daarna in ’n pot met grond, gee dit water en los dit op ’n warm, sonnige plek. Dit sal heel moontlik ontkiem.

Maar wat gebeur gewoonlik met ’n saad wat op ’n strand uitspoel in die baie kouer Europese klimaatstreke wat nie vir natuurlike ontkieming ideaal is nie? Iemand wat dit vind, hou dit dalk as ’n aandenking, maar baie sade word versamel en as snuisterye verkoop, partykeer saam met skulpe of krale om mooi halssnoere van te maak. Dié wat die mooiste hartvorm het, is gesog onder versamelaars.

Noord-Europeërs gebruik hartvormige seebone—en die saad van ’n naverwante spesie wat meer reghoekig is—om snuifdosies, vuurhoutjiedosies en hangertjies te maak. In Engeland is hierdie sade al as tandringe vir babas gebruik. Matrose gebruik die sade dikwels as gelukbringers. Aangesien die sade sulke lang en gevaarlike reise op die oseane oorleef, dink hulle dat dit ook hulle eienaars kan beskerm.

Wanneer jy dus weer op ’n strand stap, kan jy gerus sorgvuldig deur die seegras en dryfhout soek. Jy sal moontlik ook ’n saad vind wat die oseane bevaar het.

[Prent op bladsy 23]

Die hangende peul van die seeboon kan tot twee meter lank word

[Erkenning]

Courtesy Jean-Jacques Segalen/ Barbadine.com

[Prent op bladsy 23]

Halssnoere wat van seebone gemaak is