Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Wêreld sonder siektes

’n Wêreld sonder siektes

’n Wêreld sonder siektes

“Alle lande moet mekaar in ’n gees van samewerking en behulpsaamheid bystaan om primêre gesondheidsorg vir alle mense te verseker, aangesien die gesondheid van mense in een land elke ander land direk raak en bevoordeel.”—ALMA-ATA-VERKLARING, 12 SEPTEMBER 1978.

VYF-EN-TWINTIG jaar gelede het dit vir party gelyk of primêre gesondheidsorg vir almal op aarde ’n bereikbare doelwit is. Die afgevaardigdes na die Internasionale Konferensie oor Primêre Gesondheidsorg, wat vergader het in Alma-Ata, in wat nou Kazakstan is, het hulle daartoe verbind om alle mense teen die jaar 2000 teen die vernaamste besmetlike siektes te immuniseer. Hulle het ook gehoop dat basiese sanitasie en veilige water teen dieselfde jaar vir almal op aarde beskikbaar sou wees. Alle lidlande van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die verklaring onderteken.

Die doel was beslis prysenswaardig, maar min is bereik. Primêre gesondheidsorg is beslis nie vir almal beskikbaar nie, en besmetlike siektes bedreig nog steeds die gesondheid van miljarde mense op aarde. En hierdie dodelike siektes eis dikwels die lewe van kinders sowel as volwassenes wat nog in die fleur van hulle lewe is.

Selfs nie eers die driedubbele bedreiging van vigs, tuberkulose en malaria het lande beweeg om ‘mekaar in ’n gees van samewerking by te staan’ nie. Die onlangs gestigte Wêreldfonds teen Vigs, Tuberkulose en Malaria het regerings R90 miljard gevra om hierdie epidemies te bestry. Maar teen die middel van 2002 is net meer as R13 miljard aangebied—in dieselfde jaar het militêre besteding ongeveer R4,8 biljoen bereik! Ongelukkig is daar in vandag se verdeelde wêreld min bedreigings wat alle lande vir die algemene welsyn van die mensdom kan laat saamwerk.

Selfs met die beste bedoelings vind gesondheidsowerhede dat daar struikelblokke in hulle stryd teen besmetlike siektes is. Regerings voorsien nie altyd die nodige geld nie. Mikrobes het bestand geword teen baie middels, en mense hou aan om ’n hoërisikolewe te lei. Daarbenewens maak endemiese probleme soos armoede, oorlog en hongersnood dit vir patogene moontlik om miljoene menslike gashere te besmet.

God stel belang in ons gesondheid

Daar is ’n oplossing. Ons het duidelike bewyse dat die gesondheid van die mensdom vir Jehovah God van groot belang is. Ons immuunstelsel is ’n treffende bewys van sy besorgdheid. Baie van die wette wat Jehovah aan eertydse Israel gegee het, toon dat hy hulle teen besmetlike siektes wou beskerm. a

Jesus Christus, wat die persoonlikheid van sy hemelse Vader weerspieël, het ook medelye vir die siekes. Markus se Evangelie beskryf Jesus se ontmoeting met ’n man wat aan melaatsheid gely het. “As u net wil”, het die melaatse gesê, “kan u my rein maak.” Jesus is met jammerte vervul toe hy die man se pyn en lyding sien. “Ek wil”, het Jesus geantwoord. “Word gereinig.”—Markus 1:40, 41.

Jesus se wonderdadige genesings was nie net tot ’n paar individue beperk nie. Die Evangelieskrywer Matteus sê dat Jesus “deur die hele Galilea rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die goeie nuus van die koninkryk verkondig en elke soort kwaal en elke soort gebrek onder die volk genees” het (Matteus 4:23). Sy genesings het nie net die siekes van Judea en Galilea gehelp nie. Daardie genesings gee ons ’n voorsmaak van hoe alle soorte siektes uiteindelik verwyder sal word wanneer God se Koninkryk, waarvan Jesus getuig het, sonder teenstand oor die mensdom heers.

Gesondheid vir almal nie net ’n droom nie

Die Bybel verseker ons dat gesondheid vir almal nie net ’n droom is nie. Die apostel Johannes het ’n tyd voorspel wanneer die ‘tent van God by die mensdom’ sal wees. Danksy hierdie optrede van God ‘sal die dood nie meer daar wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’ Klink dit te goed om waar te wees? In die volgende vers verklaar God self: “Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.”—Openbaring 21:3-5.

Die einde van siektes beteken natuurlik dat daar ook ’n einde aan armoede, hongersnood en oorlog gemaak moet word, aangesien hierdie ellendes dikwels hand aan hand gaan met besmetlike mikrobes. Daarom gee Jehovah hierdie reusetaak aan sy Koninkryk, ’n hemelse regering in die hande van Christus. Hierdie regering sal in antwoord op miljoene opregte gebede kom en seker maak dat God se wil op die aarde geskied.—Matteus 6:9, 10.

Wanneer kan ons die koms van God se Koninkryk verwag? Toe Jesus hierdie vraag beantwoord het, het hy voorspel dat die wêreld ’n reeks betekenisvolle verwikkelinge sou sien wat sou aandui dat die Koninkryk spoedig tot optrede sou oorgaan. Een van hierdie tekens, het hy gesê, sou ‘pessiektes op die een plek na die ander’ wees (Lukas 21:10, 11; Matteus 24:3, 7). Die Griekse woord vir “pessiekte” verwys na “enige dodelike, besmetlike kwaal”. Die 20ste eeu het beslis verskriklike pessiektes gesien, ten spyte van al die vooruitgang wat op geneeskundige gebied gemaak is.—Sien die venster “Sterftes weens pessiektes sedert 1914”.

’n Profesie in die boek Openbaring, wat ooreenstem met Jesus se woorde in die Evangelies, beeld verskeie perderuiters uit wat Jesus Christus vergesel wanneer hy mag in die hemel ontvang. Die vierde ruiter ry op “’n vaal perd” en hy saai verwoesting deur middel van “dodelike plae” (Openbaring 6:2, 4, 5, 8). ’n Ondersoek van die sterftesyfer weens sommige van die vernaamste besmetlike siektes sedert 1914 bevestig dat hierdie figuurlike perderuiter inderdaad aan die galop is. Die wêreldwye lyding wat deur “dodelike plae” veroorsaak word, lewer verdere bewys dat die koms van God se Koninkryk naby is. bMarkus 13:29.

Hoewel die geneeskunde daarin geslaag het om die golf van besmetlike siektes ’n paar dekades lank terug te hou, word ons nou deur ’n nuwe golf van besmetlike siektes bedreig. Dit is duidelik dat ons ’n bomenslike oplossing nodig het om hierdie probleem eens en vir altyd uit die weg te ruim. Ons Skepper belowe om juis dit te doen. Die profeet Jesaja verseker ons dat onder God se Koninkryk “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”. Daarbenewens “sal [God] die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee” (Jesaja 25:8; 33:22, 24). Wanneer daardie dag aanbreek, sal die stryd teen siektes vir altyd verby wees.

[Voetnote]

a Die Mosaïese Wet het instruksies bevat aangaande afvalverwydering, sanitasie, higiëne en kwarantyn. Dr. H. O. Philips het gesê dat “die feite van die lewe, diagnose, behandeling en voorkomende geneeskunde soos dit in die Bybel beskryf word, baie meer gevorderd en betroubaarder is as die teorieë van Hippokrates”.

b Sien hoofstuk 11 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir ’n bespreking van bykomende tekens wat bewys dat die koms van God se Koninkryk naby is.

[Venster op bladsy 12]

Sterftes weens pessiektes sedert 1914

Hierdie statistieke is natuurlik skattings. Maar dit gee wel ’n aanduiding van die mate waarin pessiektes die mensdom sedert 1914 geteister het.

Pokke (tussen 300 miljoen en 500 miljoen) Geen doeltreffende behandeling vir pokke is ooit ontwikkel nie. ’n Groot internasionale inentingsprogram het uiteindelik daarin geslaag om die siekte teen 1980 uit te wis.

Tuberkulose (tussen 100 miljoen en 150 miljoen) Tuberkulose is nou verantwoordelik vir gemiddeld tweemiljoen sterftes elke jaar, en ongeveer 1 uit elke 3 mense in die wêreld is ’n draer van die tuberkulose-basil.

Malaria (tussen 80 miljoen en 120 miljoen) Vir die eerste helfte van die 20ste eeu was die sterftesyfer weens malaria omtrent tweemiljoen per jaar. Die meeste sterftes kom nou in Afrika suid van die Sahara voor, waar malaria nog steeds elke jaar meer as ’n miljoen slagoffers eis.

Spaanse griep (tussen 20 miljoen en 30 miljoen) Party geskiedkundiges sê dat die sterftesyfer baie hoër is. Hierdie dodelike epidemie het in 1918 en 1919, kort op die hakke van die Eerste Wêreldoorlog, deur die wêreld versprei. “Selfs die builepes het nie soveel mense so vinnig doodgemaak nie”, sê die boek Man and Microbes.

Tifus (ongeveer 20 miljoen) Tifusepidemies het dikwels met oorlog gepaardgegaan, en die Eerste Wêreldoorlog het aanleiding gegee tot ’n tifusplaag wat baie lewens in Oos-Europese lande geëis het.

Vigs (meer as 20 miljoen) Hierdie hedendaagse plaag is nou verantwoordelik vir die dood van driemiljoen mense elke jaar. Huidige skattings deur die Verenigde Nasies se Vigsprogram toon dat “68 miljoen mense . . . tussen 2000 en 2020 daaraan sal sterf tensy pogings om dit te voorkom en te behandel drasties verskerp word”.

[Prente op bladsy 11]

Onder God se Koninkryk sal sulke siektes nie meer ’n bedreiging wees nie

Vigs

Malaria

Tuberkulose

[Erkennings]

Vigs: CDC; malaria: CDC/Dr. Melvin; TB: © 2003 Dennis Kunkel Microscopy, Inc.

[Prent op bladsy 13]

Jesus het elke soort kwaal en gebrek genees