Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bande—Jou lewe kan daarvan afhang!

Bande—Jou lewe kan daarvan afhang!

Bande—Jou lewe kan daarvan afhang!

STEL jou voor dat jy vasgegordel is binne-in ’n staal-en-glas-hok saam met houers vol suur en vlambare vloeistowwe. Plaas hierdie potensieel dodelike konstruksie nou net ’n paar sentimeter bo die grond en laat dit tot omtrent 30 meter per sekonde versnel. Sit jou masjien nou boonop tussen soortgelyke masjiene en laat hulle teen groot snelhede tussen mekaar deur vleg terwyl ander masjiene uit die teenoorgestelde rigting verby jou skiet!

Dit is basies wat jy doen elke keer wanneer jy in ’n motor klim en op die hoofweg ry. Wat help jou om jou motor te beheer en veilig te voel terwyl jy bestuur? Tot ’n groot mate is dit jou bande.

Wat bande doen

Bande verrig verskeie belangrike funksies. Dit dra nie alleen die gewig van jou motor nie, maar dien ook as ’n buffer teen hobbels, slaggate en ander ongelykhede in die padoppervlak. Nog belangriker, jou bande voorsien die uiters noodsaaklike kloukrag sodat jou motor kan versnel, van rigting kan verander, kan rem en onder verskillende padtoestande rigtingvas kan bly. En tog is net ’n klein deeltjie van die band—omtrent die grootte van ’n poskaart—op enige gegewe tyd in aanraking met die pad.

Aangesien jou bande so belangrik is, wat kan jy doen om dit in ’n veilige toestand te hou en ten beste te benut? En wanneer dit nodig is, hoe kies ’n mens die regte band vir jou motor? Voordat ons hierdie vrae beantwoord, kom ons kyk eers kortliks na die geskiedenis van die band.

Vroeë pioniers op die gebied van rubbertegnologie

Hoewel wiele al duisende jare lank gebruik word, is die idee om rubber buiteom wiele te sit ’n relatief nuwe ontwikkeling. In die vroeë 1800’s is natuurlike rubber vir die eerste keer aan hout- of staalwiele gesit. Dit het egter vinnig deurgeslyt en dus het die toekoms van rubberbedekte wiele nie juis belowend gelyk nie, maar toe het Charles Goodyear, ’n vasbeslote uitvinder van Connecticut, VSA, op die toneel verskyn. In 1839 het Goodyear ’n proses ontdek wat as vulkanisering bekend staan, waarin rubber teen ’n hoë temperatuur en hoë druk met swawel behandel word. Met hierdie proses was dit baie makliker om die rubber te vorm en was dit aansienlik meer bestand teen slytasie. Soliede rubberbande het gewilder geword, maar het ’n stamperige rit tot gevolg gehad.

In 1845 het die Skotse ingenieur Robert W. Thomson ’n patent uitgeneem vir die eerste lugband. Maar dit was eers nadat ’n ander Skot, John Boyd Dunlop, probeer het om sy seun se fiets gemakliker te laat ry dat die lugband ’n kommersiële sukses geword het. Dunlop het sy nuwe band in 1888 gepatenteer en sy eie maatskappy gestig. Die lugband moes egter nog groot hindernisse oorkom.

Op ’n dag in 1891 het ’n Franse fietsryer ’n pap band gekry. Hy het dit probeer regmaak, maar omdat dit aan die fiets se wiel vas was, kon hy nie. Hy het hulp gesoek by ’n ander Fransman, Édouard Michelin, wat bekend was vir sy werk met gevulkaniseerde rubber. Michelin het nege uur geneem om die band te herstel. Daardie ondervinding het hom gemotiveer om ’n lugband te ontwikkel wat van sy wiel verwyder en sodoende makliker herstel kon word.

Michelin se bande was so suksesvol dat 10 000 gelukkige fietsryers dit die volgende jaar gebruik het. Kort voor lank is perdekarre in Parys met lugbande toegerus, en die Franse passasiers was baie in hulle skik daarmee. Om te wys dat lugbande aan gemotoriseerde voertuie gebruik kon word, het Édouard en sy broer, André, die bande in 1895 aan ’n renmotor gesit, maar dit het laaste gekom in die wedren. Mense het hulle nietemin so verwonder aan hierdie ongewone bande dat hulle die bande probeer oopsny het om te sien presies wat die Michelin-broers daarin versteek het!

In die 1930’s en ’40’s het duursame nuwe materiale, soos rayon, nylon en poliëster, die swakker katoen en natuurlike rubber vervang. Ná die Tweede Wêreldoorlog is die aanvoorwerk gedoen om ’n band te vervaardig wat ’n lugdigte seël teenaan die wiel gehad het, sodat dit nie meer nodig sou wees om ’n binneband te hê om die lug te hou nie. Later is verdere verbeteringe aangebring.

Vandag word meer as 200 grondstowwe in die vervaardiging van ’n band gebruik. En danksy moderne tegnologie spog party bande met ’n lewensduur van 130 000 kilometer of meer, terwyl ander aan ’n renmotor snelhede van honderde kilometers per uur kan deurstaan. Intussen word bande al hoe meer bekostigbaar vir die gewone verbruiker.

Hoe om bande te kies

As jy ’n motor besit, sal jy moontlik die uitdagende taak hê om nuwe bande te kies. Hoe bepaal ’n mens wanneer jy jou bande moet vervang? Deur jou bande gereeld te ondersoek vir sigbare tekens van slytasie of skade. a Bandvervaardigers voorsien ingeboude slytasieaanwysers, dikwels loopvlakdiepteaanwysers genoem, wat aandui wanneer ’n band aan die einde van sy lewe kom. Loopvlakdiepteaanwysers lyk soos soliede rubberstroke oor die loopvlak. Dit is ook belangrik om op die uitkyk te wees na tekens dat die loopvlak loskom, na drade wat uitsteek, bulte in die sywand en ander abnormaliteite. As jy enige van hierdie dinge sien, moet jy die motor nie bestuur totdat die band herstel of vervang is nie. As jy die band nuut gekoop het, sal die bandhandelaar moontlik die beskadigde band teen ’n verminderde prys vervang as dit nog onder waarborg is.

Dit is die beste om albei voor- of agterbande tegelyk te vervang. As jy net een band vervang, moet jy dit saam met die band met die meeste loopvlak gebruik sodat albei bande ewe veel kloukrag sal hê wanneer jy rem trap.

Dit kan verwarrend wees om tussen al die verskillende soorte, groottes en modelle van bande te kies. Maar as jy ’n paar sleutelvrae beantwoord, sal jy die taak baie makliker vind. Hersien eerstens die motorvervaardiger se aanbevelings. Jou motor het spesifieke vereistes wat in ag geneem moet word, soos band- en wielgrootte, ashoogte en laaivermoë. Jou motor se ontwerp is ook belangrik. Moderne motors met sluitweerremme, kloukragbeheer en vierwielaandrywing is ontwerp om bande te gebruik wat spesifieke kenmerke het. Bandspesifikasies word gewoonlik in jou motor se eienaarshandboek gevind.

Nog ’n faktor is padtoestande. Gaan jy jou motor hoofsaaklik op grond- of op teerpaaie gebruik, in reënerige of in droë weer? Jy sal jou motor heel waarskynlik onder verskillende toestande bestuur. In daardie geval het jy moontlik bande nodig wat vir alle pad- en weerstoestande bedoel is.

Jy moet ook in ag neem wat die band se verwagte lewensduur en kloukraggradering is. Gewoonlik is die kloukrag groter as die band sagter is, maar dit sal gouer afloop. Die teenoorgestelde is ook waar; as die band relatief hard is, sal dit minder kloukrag hê, maar dit sal waarskynlik langer hou. Graderings word gewoonlik gevind in reklamebrosjures by plekke waar bande verkoop word. Hou in gedagte dat bandgraderings van vervaardiger tot vervaardiger verskil.

Wanneer jy eers weet waarna jy soek, sal jou finale besluit moontlik deur die prys bepaal word. Bekende vervaardigers verseker gewoonlik beter kwaliteit en bied gewoonlik ’n waarborg.

Instandhouding van jou bande

Behoorlike instandhouding van jou bande behels drie dinge: die handhawing van korrekte lugdruk, die gereelde wisseling van die bande en behoorlike balansering en sporing. Dit is baie belangrik om die regte banddruk te handhaaf. As ’n band te veel lug het, sal die band in die middel vinniger afloop. Aan die ander kant, as die banddruk te laag is, sal die band aan die kante gouer afloop en sal brandstofverbruik slegter wees.

Bande kan elke maand 5 kilopascal of meer druk verloor weens lug wat deur die rubber ontsnap. Moet dus nie aanneem dat jy kan sien of jou bande behoorlik gepomp is deur net na hulle vorm te kyk nie. Volgens die Rubbervervaardigersvereniging “kan ’n band tot die helfte van sy lugdruk verloor en nie pap lyk nie”! Gebruik dus ’n drukmeter om die banddruk te monitor, en doen dit ten minste een keer per maand. Baie motoreienaars hou gerieflikheidshalwe so ’n meter in hulle paneelkassie. Gaan altyd die bande na wanneer jy die enjinolie vervang en slegs wanneer die bande koud is—met ander woorde, nadat die motor ten minste drie uur stilgestaan het of minder as 1,5 kilometer gery het. Banddrukspesifikasies verskyn gewoonlik in die eienaarshandboek, op ’n etiket naby die bestuurder se deurpilaar of in die paneelkassie. As jy ’n stamperige rit wil vermy, moet jy nie die bande tot die maksimum druk, wat op die sywand aangedui is, pomp nie.

Bande sal langer hou en egaliger afloop as jy hulle gereeld wissel. Tensy jou motorvervaardiger ’n ander aanbeveling maak, is dit goed om bande elke 10 000 tot 13 000 kilometer te wissel. Raadpleeg weer eens die eienaarshandboek vir die voorgestelde wisselpatroon.

Laastens moet jy jou wielsporing jaarliks laat nagaan of enige tyd wanneer jy ’n ongewone vibrasie of ander probleem in jou motor se stuurstelsel waarneem. Hoewel die veringstelsel van jou motor ontwerp is om die bande onder verskillende vragte in die korrekte sporing te hou, maak normale slytasie dit nodig om die bande van tyd tot tyd na te gaan en te laat herspoor. ’n Motorwerktuigkundige wat gekwalifiseer is om aan veringstelsels te werk en wielsporing te doen, behoort jou motor se wiele in die korrekte sporing te kan hou, wat jou bande se lewensduur sal verleng en ’n aangename rit sal verseker.

“Intelligente” bande

Met behulp van rekenaars waarsku party motors die bestuurder wanneer die banddruk laer is as wat veilig is. Party bande kan vir kort periodes veilig wees al het hulle geen lugdruk nie en ander kan self ’n lekplek seël. Trouens, ingenieurs ontwerp bande om onder ’n al hoe groter verskeidenheid bestuurstoestande te funksioneer.

Namate moderne motors baat vind by verdere vooruitgang wat materiaal, loopvlakontwerp, vering, stuurmeganismes en remstelsels betref, maak bande dit nie alleen makliker om te bestuur nie, maar ook veiliger.

[Voetnoot]

a Sien die tabel op bladsy 21 vir hulp om jou bande te ondersoek.

[Tabel/Prent op bladsy 21]

Kontrolelys vir die instandhouding van bande

Visuele ondersoek:

❑ Is daar bulte in die sywand?

❑ Kan drade in die loopvlak gesien word?

❑ Is die groefdiepte binne die veilige grense, of kan ’n mens die loopvlakdiepteaanwysers sien?

Let ook op:

❑ Kom die banddruk ooreen met wat die motorvervaardiger voorskryf?

❑ Is dit tyd om die bande te wissel? (Gebruik die motorvervaardiger se aanbevole kilometerinterval en wisselpatroon.)

❑ Moet die bande vervang word weens ’n verandering van seisoen?

[Prent]

Loopvlakdiepteaanwyser

[Diagram op bladsy 20]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Dele van ’n band

Loopvlak voorsien kloukrag en draaigreep

Gordels stabiliseer en versterk die loopvlak

Sywand beskerm die kant van die band teen pad- en randsteenskade

Bandlaag gee die band sterkte en rekbaarheid

Binnevoering hou die lug binne-in die band

Spanrand verseker dat die band lugdig teen die wiel seël

[Prente op bladsy 19]

’n Ou fiets en motor, albei met opblaasbare bande; werkers by ’n vroeë bandfabriek

[Erkenning]

The Goodyear Tire & Rubber Company