Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die waarde van ons natuurlike omgewing

Die waarde van ons natuurlike omgewing

Die waarde van ons natuurlike omgewing

Wetenskaplikes en ekonome het onlangs saamgewerk om vyf natuurlike habitats te bestudeer wat vir menslike gebruik en ekonomiese gewin omskep is. ’n Tropiese woud in Maleisië is heeltemal deur intensiewe houtkappery uitgewis, ’n tropiese woud in Kameroen is in oliepalm- en rubberplantasies omskep, ’n wortelboommoeras in Thailand is vir garnaalboerdery gebruik, ’n varswatermoeras in Kanada is vir landboudoeleindes drooggelê en ’n koraalrif in die Filippyne is gedurende plofvissery opgeblaas.

Die navorsers se bevindings was verrassend. As hierdie vyf natuurlike habitats in hulle natuurlike staat gelaat is, sou hulle ekonomiese waarde vir die gemeenskap op die lang termyn van 14 tot 75 persent hoër gewees het as nadat dit omskep is vir menslike gebruik. Trouens, ’n ekosisteem verloor gemiddeld die helfte van sy waarde as gevolg van menslike inmenging, en omgewingsomskepping kos elke jaar R1,7 biljoen. In teenstelling daarmee sal dit R310 miljard kos om natuurlike stelsels te bewaar. Die navorsers sê dat “goedere en dienste”—in die vorm van voedsel, water, lug, skuiling, brandstof, klere, medisyne en storm- en vloedbeskerming—wat in ruil daarvoor voorsien word, ten minste R30 biljoen werd is, ’n voordeel:koste-verhouding van 100 tot 1, berig die Londense koerant The Guardian. Dr. Andrew Balmford van die Universiteit van Cambridge, Engeland, wat die studie gelei het, het gesê: “Die ekonomiese aspek van die saak is heeltemal somber. Ons het gedink dat die syfers sal toon dat bewaring lonend is, maar nie in so ’n mate nie.”

Ongelukkig is daar, selfs ná die Aardeberaad wat in 1992 in Rio de Janeiro gehou is, al 11,4 persent van die aarde se natuurgebiede omskep, meestal uit onkunde oor wat verloor word en vir vinnige geldelike gewin. Tien jaar later, by die Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling wat in Johannesburg gehou is, is geen duidelike oplossings vir hierdie dilemma gevind nie. Dr. Balmford het sy besorgdheid uitgespreek en gesê: “Vandat ek ’n kind was en vir die eerste keer die woord ‘bewaring’ gehoor het, is een derde van die wêreld se ongerepte natuur verloor. Dit is wat my snags wakker hou.”

Maar mense wat die Bybel lees, sal die Skepper se belofte in Openbaring 11:18 gerusstellend vind. Daar sê dit dat hy binnekort “die verderwers van die aarde [sal] verderf”. Die aarde se natuurlike ekosisteme sal dan tot ewige voordeel van die mensdom herstel word.