Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Marco Polo volg die Syroete na China

Marco Polo volg die Syroete na China

Marco Polo volg die Syroete na China

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË

Op ’n kaai in Venesië stap drie mans van ’n galei af. Niemand hardloop hulle tegemoet nie. Hulle terugkoms ná 24 jaar in die buiteland sou ongemerk verbygegaan het as hulle sonderlinge voorkoms hulle nie laat uitstaan het nie. Hulle was geklee in verflenterde klere in die Mongoolse styl van wat vroeër pragtige sy was, en volgens een bron het hulle “’n moeilik beskryfbare ooreenkoms met die Tartare getoon in hulle houding sowel as hulle aksent, aangesien hulle hulle Venesiaanse taal feitlik heeltemal vergeet het”. Die reisigers is Marco Polo, sy pa en sy oom. Die jaar is 1295.

DIE Polo’s se verhale van ’n reis na verafgeleë Cathay, nou China, het vir hulle tydgenote ongelooflik geklink. Marco se memoires—wat oorspronklik Description of the World en later Travels of Marco Polo genoem is—vertel van onbekende beskawings met groot rykdom en ’n oorvloed goedere waarna Westerse handelaars ywerig op soek was. Sy boek het mense se verbeelding aangegryp. Binne 25 jaar ná Marco se terugkoms was manuskripweergawes in Frans-Italiaans, Frans, Latyn, Toskaans, Venesiaans en heel moontlik in Duits beskikbaar—’n ongeëwenaarde sukses in die Middeleeue. Sy boek is twee eeue lank met die hand oorgeskryf en is sedert 1477 nog altyd in baie tale in gedrukte vorm beskikbaar. Marco Polo is seker die beroemdste Westerling wat ooit die Syroete na China gevolg het. Waarom het hy die reis onderneem? En kan ons alles glo wat hy na bewering gesien en gedoen het?

Koopmanne van Venesië

In die 13de eeu het baie Venesiaanse koopmanne hulle in Konstantinopel, nou Istanboel, gevestig en groot rykdom daar vergaar. Onder hulle was Niccoló en Maffeo Polo, Marco se pa en oom. In omstreeks 1260 het hulle hulle eiendom in daardie gebied verkoop, die geld in juwele belê en vertrek na die hoofstad van die westelike khanaat van die Mongoolse Ryk, Sarai, aan die Wolgarivier. Hulle saketransaksies was suksesvol, en hulle het hulle bates verdubbel. Aangesien oorlog hulle verhinder het om terug te keer huis toe, het hulle waarskynlik te perd ooswaarts gereis, na die groot handelstad Boekhara, nou in Oesbekistan.

As gevolg van onrus moes hulle drie jaar lank daar bly, totdat gesante wat op pad was na Koeblai—die Groot Khan van al die Mongole, wie se gebied gestrek het van Korea tot Pole—deur Boekhara gereis het. Die gesante het Niccoló en Maffeo genooi om saam met hulle te gaan, aangesien die Groot Khan, soos Marco vertel het, nog nooit “Latynse mense”—wat waarskynlik na Suid-Europeërs verwys—ontmoet het nie en graag met hulle sou wou praat. Ná ’n jaar se reis het die Polo’s aangekom by die hof van Koeblai Khan, kleinseun van Djengis Khan, stigter van die Mongoolse Ryk.

Die Groot Khan het die twee Polo-broers verwelkom en hulle baie omtrent die Weste uitgevra. Hy het vir hulle ’n goue plaatjie gegee wat hulle veiligheid op hulle terugreis sou verseker en ’n brief waarin die Pous gevra is om “sowat honderd wyse manne [te stuur], wat geleerd is in die wet van Christus en bekend is met die sewe kunste, om vir [Koeblai] se mense te preek”.

Intussen is Marco gebore. Hy was 15 toe hy sy pa in 1269 vir die eerste keer ontmoet het. Toe Niccoló en Maffeo weer die “Christelike” gebiede binnegegaan het, het hulle gehoor dat pous Klemens IV gesterf het. Hulle het op ’n opvolger gewag, maar hierdie drie jaar lange tydperk was die langste wat dit nog geneem het om ’n pous te verkies. Ná twee jaar, in 1271, het hulle vertrek om na die Groot Khan terug te keer, en hulle het die 17-jarige Marco saamgeneem.

Marco se reis

In Acre, Palestina, het ’n vername kerkpolitikus, Teobaldo Visconti, vir die Polo’s briewe aan die Groot Khan gegee om te verduidelik waarom die Polo’s nie aan sy versoek om honderd wyse manne kon voldoen nie. Toe hulle Klein-Asië bereik, het hulle verneem dat Visconti self tot Pous verkies is, en daarom het hulle na hom in Acre teruggekeer. In plaas van honderd wysgere te stuur, het die nuwe pous, Gregorius X, net twee monnike gestuur met die mag om priesters en biskoppe te orden, en hy het hulle van behoorlike getuigskrifte en geskenke vir die Khan voorsien. Die geselskap het verder gereis, maar vrees vir die oorloë wat in daardie gebiede gewoed het, het die monnike kort voor lank laat terugdraai. Die Polo’s het verder gereis.

Die drie het deur die lande gereis wat nou as Turkye en Iran bekend staan en het na die Persiese Golf afgegaan met die bedoeling om per skip verder te reis. Maar aangesien hulle gemeen het dat die skepe onseewaardig was, “lendelam affêres . . . wat net met tou aanmekaargebind is”, het hulle maar op die landroete besluit. Hulle het in ’n noordoostelike rigting gedraai en die ontsaglike wildernisse, indrukwekkende bergreekse, groen plato’s en vrugbare weivelde van Afganistan en die Pamirs oorgesteek voordat hulle by Kasjgar aangekom het, in wat nou die Chinese selfregerende gebied Xinjiang-Uygur is. Daarna het hulle langs die eertydse karavaanroetes suid van die Tarimbekken en die Gobiwoestyn getrek totdat hulle Cambaluc, nou Beijing, bereik het. Die hele reis het drie en ’n half jaar geneem, waartydens hulle met vreeslike weersomstandighede te kampe gehad het sowel as met die een of ander siekte wat Marco opgedoen het.

Marco meld merkwaardighede van die reis—die berg in Armenië waarop Noag se ark na bewering tot rus gekom het, die plek in Persië waar die sterrewiggelaars vermoedelik begrawe is, lande van intense koue en voortdurende duisternis in die verre noorde. Marco is die eerste skrywer wat in Westerse literatuur melding maak van petroleum. Hy sê dat “salamander” nie, soos beweer is, die wol van ’n dier is wat teen vuur bestand is nie, maar dat dit ’n mineraal is—asbes—wat in die Xinjiang-Uygur-streek gevind word. Swart klippe wat brand—steenkool—is so volop in China dat ’n mens elke dag in warm water kan bad. So ver as wat hy gaan, noem hy versierings, kos, drank—veral die gegiste perdemelk van die Mongole—sowel as godsdiens- en toorkunsritusse, handelsbedrywighede en goedere wat te koop aangebied word. Iets wat vir hom heeltemal vreemd is, is die papiergeld wat in die ryk van die Groot Khan gebruik word.

Marco openbaar nooit sy gedagtes nie, maar vertel sonder gevoel wat hy sien en hoor. Ons kan maar net raai hoe hy gevoel het toe hulle deur plunderaars aangeval is wat van sy metgeselle gevange geneem en ander vermoor het.

In die diens van Koeblai Khan?

Marco beweer dat die Polo’s 17 jaar lank in die diens van Koeblai Khan, of die Groot Khan, was. Gedurende hierdie tyd is Marco dikwels deur die Groot Khan op feitesendings na verafgeleë dele van die ryk gestuur, en hy was selfs die goewerneur van wat nou die stad Yangzhou, Jiangsu-provinsie, is.

Party mense twyfel nog of Marco die volle waarheid vertel het. Die Mongole het nie die Chinese, wat deur hulle verower is, vertrou nie en het buitelanders in diens geneem om oor hulle ryk te regeer. Maar dit lyk onwaarskynlik dat Marco, ’n ongeleerde man, ’n goewerneur kon word. Miskien het hy sy rang oordryf. Geleerdes is nietemin bereid om te aanvaar dat hy moontlik tog “’n nuttige onderhandelaar op die een of ander gebied” was.

Marco was nogtans in staat om ’n skitterende prentjie te skets van groot stede met onmeetlike rykdom en van heidense en buitengewone gebruike van ’n wêreld wat heeltemal deur die Weste geïgnoreer is of net deur fabels en gerugte bekend was. Kon sulke dig bevolkte beskawings, selfs ryker as dié van Europa, werklik bestaan het? Dit het onmoontlik geklink.

Die paleis van die Groot Khan was “die grootste Paleis wat ooit bestaan het”, het Marco gesê. “Die gebou is so ontsaglik, so weelderig en so pragtig dat geen mens op aarde iets voortreflikers as dit kan ontwerp nie.” Die mure was bedek met goud en silwer, gebeeldhoude en vergulde drake, gediertes en voëls sowel as ridders en afgodsbeelde. Die hoë dak—vermiljoen, geel, groen en blou—het soos kristal geskitter. Die pragtige parke was vol allerhande diere.

In vergelyking met die kronkelende straatjies van Middeleeuse Europa was Cambaluc se strate so reguit dat ’n mens van die een stadsmuur tot by die ander kon sien. Hierheen is “kosbaarder en seldsamer artikels in groter oorvloed gebring as na enige ander stad in die wêreld”, sê die Venesiër. “Daar gaan nie ’n dag in die jaar verby dat daar nie van sy alleen 1 000 wavragte in die stad inkom nie.”

Dit was verbasend hoeveel skepe op die Jangste-rivier, een van die langste riviere in die wêreld, gevaar het. Marco skat dat Sinju se hawe plek gehad het vir tot 15 000 skepe.

Een van die Mongoolse gebruike wat Marco noem, is dat hulle hulle dooie kinders getrou het. As een gesin ’n seun van vier jaar of ouer en ’n ander gesin ’n dogter van dieselfde ouderdom verloor het, kon die pa’s besluit dat die dooie kinders moet trou, waarna ’n huwelikskontrak opgestel en ’n groot fees gehou is. Kos is geoffer en papierbeeldjies van slawe, geld en huishoudelike goedere is verbrand, in die oortuiging dat die “huweliksmaats” dit in die sogenaamde ander wêreld sal besit.

Marco was baie beïndruk deur die Mongole se militêre vaardigheid, hulle regeermetodes en hulle godsdiensverdraagsaamheid. Sosio-ekonomiese prestasies was onder meer verligting vir die armes en siekes, patrollering teen vuur en wanorde, graanskure met noodvoorraad om die rampspoed te verlig wat deur vloede veroorsaak is en ’n posdiens vir vinnige kommunikasie.

Hoewel Marco geweet het van pogings deur die Mongole om Japan binne te val, het hy nooit gesê dat hy daar was nie. Maar hy sê dat goud in Japan so volop was dat die dak en paadjies van die keiser se paleis heeltemal daarmee bedek is. Voor die 16de eeu was Marco se verwysing na Japan die enigste van sy soort in Westerse geskrifte.

Marco se boek is eeue lank bewonder sowel as bespot. Geleerdes van vandag noem dit, met inagneming van al die onjuisthede daarin, “’n ongeëwenaarde beskrywing” van die bloeityd van Koeblai se heerskappy.

Terugkeer na Venesië

Die Polo’s het China in omstreeks 1292 verlaat. Marco sê dat die geselskap ’n reis van 21 maande onderneem het. Hulle het begin by wat nou Quanzhou genoem word, kortliks by Viëtnam, die Maleise Skiereiland, Sumatra en Sri Lanka aangedoen en daarna met die Indiese kus langs tot by Persië gereis. Die laaste deel van hulle reis het hulle na Konstantinopel en uiteindelik na Venesië geneem. Aangesien hulle 24 jaar lank weg was, is dit nie moeilik om te glo dat hulle familie hulle skaars herken het nie. Teen dié tyd was Marco 41 of 42.

Dit is moeilik om te skat hoe ver Marco gereis het. Een skrywer wat onlangs probeer het om Marco se voetspore te volg, het meer as 10 000 kilometer tussen Iran en China alleen afgelê. Selfs met moderne vervoermiddele was dit ’n prestasie wat met groot uitdagings gepaardgegaan het.

Marco se boek is glo in 1298 in ’n tronk in Genua aan ’n sekere Rustichello gedikteer. Volgens oorlewering was Marco die bevelvoerder van ’n Venesiaanse galei en is hy gevange geneem in ’n seegeveg teen die Genuese, wat teen Venesië oorlog gevoer het. Rustichello, ’n medegevangene, was ’n ervare skrywer van prosaverhale in Frans of Frans-Italiaans, en Marco se geselskap was klaarblyklik vir hom ’n aansporing om weer te skryf.

Marco is waarskynlik in 1299 vrygelaat toe Venesië en Genua vrede gemaak het. Hy het na Venesië teruggekeer, getrou en drie dogters gehad. Hy is in 1324 in sy tuisstad op 69-jarige leeftyd oorlede.

Party mense twyfel nog of Marco alles gedoen het wat hy gesê het en of hy bloot verhale oorvertel het wat hy van ander reisigers gehoor het. Maar wat ook al die bronne van Marco Polo se Description of the World was, geleerdes erken die waarde daarvan. “Nooit tevore of daarna”, sê ’n geskiedkundige, “het een man so ’n ontsaglike hoeveelheid nuwe geografiese kennis aan die Weste oorgedra nie.” Marco Polo se boek lewer steeds bewys van die bekoring wat dit vir die mens inhou om te reis, nuwe dinge te sien en verre lande te besoek.

[Kaart op bladsy 24, 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Marco se reis na China

Terwyl hy in China was

Die reis huis toe

ITALIË

Genua

Venesië

TURKYE

Istanboel (Konstantinopel)

Trabzon

Akko (Acre)

(Sarai)

GEORGIË

Die berg Ararat

IRAN (PERSIË)

Persiese Golf

AFGANISTAN

OESBEKISTAN

Boekhara

PAMIRS

Kasjgar

TARIM-BEKKEN

GOBIWOESTYN

MONGOLIË

(KOREA)

CHINA (CATHAY)

Beijing (Cambaluc)

Yangzhou

Jangste-rivier

Quanzhou

MIANMAR

VIËTNAM

MALEISE SKIEREILAND

SUMATRA

SRI LANKA

INDIË

[Erkenning]

Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 24]

Venesië

[Prent op bladsy 24, 25]

Die berg Ararat

[Erkenning]

Robert Azzi/Saudi Aramco World/PADIA

[Prent op bladsy 24]

Mongoolse vrou

[Erkenning]

C. Ursillo/Robertstock.com

[Prent op bladsy 24, 25]

Man in boot, Mianmar

[Prent op bladsy 25]

Die Groot Muur van China

[Prent op bladsy 25]

Beijing

[Prent op bladsy 25]

Viëtnam

[Prent op bladsy 25]

Indiese speserye

[Prente op bladsy 26]

Chinese ruiters, Koeblai Khan, die Jangste-rivier

[Erkennings]

Ruiters: Tor Eigeland/Saudi Aramco World/PADIA; Koeblai Khan: Collection of the National Palace Museum, Taiwan; Jangste-rivier: © Chris Stowers/Panos Pictures

[Foto-erkenning op bladsy 23]

© Michael S. Yamashita/CORBIS

[Foto-erkenning op bladsy 27]

© 1996 Visual Language