Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Preke te koop

“Oorwerkte predikante wat met hulle preke sukkel, se gebede is verhoor: ’n nuwe webwerf met preke vir elke geleentheid is deur ’n lekeprediker van die Anglikaanse Kerk geskep”, berig The Daily Telegraph van Londen. Die samesteller van die webwerf, Bob Austin, sê: “Predikante raak deesdae al hoe besiger en is geneig om al hoe minder aandag aan hulle preke te gee.” Hy voer aan dat hy “betroubare, kitsklaarpreke” wat “gedagteprikkelend, inspirerend en opvoedkundig is”, op sy webwerf voorsien. Die webwerf het tans “meer as 50 ‘kanselbeproefde’ preke wat ’n reeks Bybeltekste en -temas dek”, maar dit vermy beskouings wat ekstremisties of op leerstellige gebied omstrede is, verduidelik die koerant. Die preke is ’n “gemeentevriendelike 10 tot 12 minute” lank en kos R90 elk.

“Koning in die stad”

“Die voertuig kraai nou koning in die stad”, berig Mexikostad se koerant Reforma. In 1970 was daar een motor vir elke 12 423 mense in die stadsgebied. Teen 2003 het daardie syfer gestyg tot sowat 1 motor vir elke 6 mense. Daar is soveel nuwe motors in Mexikostad se strate dat daar in 2002 meer nuwe voertuie as geboortes onder Mexikostad se 18 miljoen inwoners geregistreer is. Die negatiewe sy van die saak is dat motors vir meer as 80 persent van Mexikostad se lugbesoedeling verantwoordelik is. Wat meer is, vir party pendelaars kan dit tot drie uur neem om werk toe te ry, hoofsaaklik as gevolg van die verkeersknope in die stad. Daar word geskat dat daar teen die jaar 2010 ’n bykomende eenmiljoen motors in Mexikostad sal wees.

Britte al hoe dieper in die skuld

“Die skuldlas in Brittanje dreig om die ekonomie te verswak en een uit vier mense in ’n ernstige finansiële verknorsing te dompel”, berig The Daily Telegraph van Londen. Dit voeg by: “Die land se mense het ’n reputasie as ‘kredietkopers’ en sit nou met £878 miljard [R11,2 biljoen] se verbruikerskuld.” Sonder inagneming van die betalings op verbande, skuld die gemiddelde Brit £3 383 (R43 302) op kredietkaarte, persoonlike lenings en oortrokke bankrekeninge. Daarom “worstel ’n verstommende aantal volwassenes met skuld waarvan hulle te eniger tyd nie die terugbetalingsterme sal kan nakom nie”, veral as rentekoerse styg en werkloosheid toeneem. Frances Walker van die Voorligtingsdiens vir Verbruikerskrediet se advies is: “As jy elke maand tot meer as 20 persent van jou maandelikse inkomste aan skuld afbetaal, jou verband uitgesluit, lewe jy bo jou inkomste.” Ten spyte van hierdie waarskuwings sou Britse vakansiegangers gedurende 2003 na verwagting £3 miljard (R38 miljard) by hulle skuld voeg.

Beeste meer werd as mense?

Die gaping tussen die wêreld se rykes en armes word al hoe groter. Gedurende die afgelope 20 jaar het die markaandeel van die mins ontwikkelde lande (700 miljoen inwoners) gedaal van 1 persent tot 0,6 persent van die totale wêreldhandel. “Die meerderheid van die bevolking in swart Afrika is vandag armer as die vorige geslag”, skryf die Franse ekonoom Philippe Jurgensen in die tydskrif Challenges. In Etiopië lewe 67 miljoen mense byvoorbeeld van een derde van die rykdom van Luxemburg se 400 000 inwoners. Jurgensen sê dat Europese boere geregtig is op ’n daaglikse subsidie van R22 per bees, terwyl sowat 2,5 miljard mense elke dag van minder as dit lewe. Daarom “is ’n arm mens [in baie wêrelddele] minder werd as ’n bees”, sê Jurgensen.

Musiek en aggressie

Navorsers aan die Universiteit van Iowa en die Departement van Menslike Dienste in Texas (VSA) het vyf opeenvolgende eksperimente gedoen waarby meer as 500 kollegestudente betrokke was, in ’n poging om te bepaal watter uitwerking musiek met gewelddadige lirieke op mense het. Nadat hulle geluister het na ’n aantal nommers wat deur dieselfde sanger gesing word, waarvan party gewelddadige en ander geweldlose lirieke gehad het, is daar ’n reeks toetse op die studente gedoen om hulle vlak van aggressie te bepaal. In die studie, uitgegee deur die Journal of Personality and Social Psychology, is bevind dat gewelddadige lirieke vyandige gevoelens en aggressiewe denke, waarvoor daar geen oorsaak was nie, laat toeneem het. “Een belangrike gevolgtrekking van hierdie en ander navorsing oor gewelddadige vermaak, is dat die inhoud wel saak maak”, het die hoofnavorser Craig Anderson gesê. “Hierdie boodskap is belangrik vir alle verbruikers, maar in die besonder vir ouers van kinders en adolessente”, het Anderson gesê.

Dronk kinders

In Brittanje het ’n opname van ongeluk- en ongevalleafdelings in 50 hospitale aan die lig gebring dat “kinders van net ses jaar oud, ná strawwe drinkery in hospitale opgeneem word”, berig The Daily Telegraph van Londen. In een hospitaal het dokters en verpleegsters gesê dat hulle gedurende die somervakansie tot 100 dronk kinders ’n week behandel het. “Meer as 70 persent van die personeel was van mening dat kinders wat vir alkoholmisbruik in hospitale opgeneem word, al hoe jonger word”, sê die koerant. ’n Onlangse regeringsverslag toon ook dat alkoholverwante sterftes in Brittanje in 20 jaar verdriedubbel het.

Dwelmgebruik onder Italiaanse adolessente

Volgens ’n opname wat deur die San Raffaele-instituut van Milaan gedoen is, het 42 persent van Italiaanse leerlinge tussen die ouderdomme van 14 en 19 wat ondervra is, erken dat hulle dwelms gebruik. Maar Mariolina Moioli, ’n direkteur-generaal van die Italiaanse Departement van Onderwys, glo dat die eintlike syfer hoër is. Die gewildste dwelms onder diegene wat ondervra is, is dagga en hasjisj. Van die leerlinge wat dwelms gebruik, het 34 persent erken dat hulle dit by die skool doen, 27 persent in disko’s en 17 persent by die huis. Die opname het ook getoon dat 82 persent van die leerlinge sterk drank drink.

’n Enorme seemonster

“’n Seldsame en dodelike pylinkvis met oë so groot soos eetborde en etlike vlymskerp hake waarmee hy sy prooi vang, is deur vissermanne naby die kus van Antarktika gevang”, sê The Daily Telegraph van Australië. Steve O’Shea, ’n marinebioloog van Nieu-Seeland, het gesê: “Ek het al reusepylinkvisse gesien, maar hierdie een is uitsonderlik.” Hierdie pylinkvis, wat 150 kilogram weeg, word Mesonychoteuthis hamiltoni genoem, en is klaarblyklik nog jonk. “Dit is ’n baie aggressiewe dier”, het die Amerikaanse marinebioloog Kat Bolstad gesê. “As jy langs hom in die water val, sal jy in groot moeilikheid wees.” Volgens Reuters “vind hierdie enorme pylinkvis kos deur letterlik in die donker, diep water te gloei om sy prooi te verlig sodat hy dit met sy massiewe oë—die grootste van enige dier—kan sien. . . . Sy agt arms en twee tentakels het tot 25 tandagtige hake—wat diep in sy spiere gewortel is en tot 360 grade kan roteer—sowel as die gewone suiers om te verseker dat vis nie wegkom nie.”