Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Toon kwelgedagtes ’n gebrek aan geloof?

Toon kwelgedagtes ’n gebrek aan geloof?

Die Bybel se beskouing

Toon kwelgedagtes ’n gebrek aan geloof?

“KWELGEDAGTES VERBODE.” ’n Predikant het vroeg in die 20ste eeu onder hierdie opskrif geskryf dat kwelgedagtes oor materiële dinge nie net verkeerd is nie, maar “’n baie ernstige sonde” is. In onlangser tye het ’n waarnemer wat geskryf het oor hoe om bekommernis en kwelgedagtes te bowe te kom, gesê: “Bekommernis is ’n verklaring dat ons nie vertroue in God het nie.”

In albei gevalle het die skrywers hulle gevolgtrekkings gemaak op grond van Jesus se Bergpredikasie, waarin hy gesê het: “Hou op om julle te kwel” (Matteus 6:25). Aangesien so baie mense vandag kwelgedagtes het, kan ons vra: Moet ’n Christen skuldig voel omdat hy hom kwel? Dui kwelgedagtes op ’n gebrek aan geloof?

God verstaan ons onvolmaakthede

Die Bybel leer nie dat ’n gebrek aan geloof die oorsaak van alle kwelgedagtes is nie. Omdat ons gedurende “kritieke tye [lewe] . . . wat moeilik is om deur te kom”, is dit feitlik onmoontlik om hoegenaamd geen kwelgedagtes te hê nie (2 Timoteus 3:1). Getroue Christene ondervind daagliks kwellinge, wat deur slegte gesondheid, ouderdom, ekonomiese druk, gesinsprobleme, misdaad en ander probleme veroorsaak word. Selfs in die ou tyd het God se knegte voor vrese en bekommernisse te staan gekom.

Dink aan die Bybelverslag van Lot. God het hom beveel om na die berge te vlug sodat hy nie saam met Sodom en Gomorra vernietig sou word nie. Lot het egter angstig geraak. Hy het gesê: “Asseblief tog nie dit nie, Jehovah!” Hy het huiwerig voortgegaan: “Maar ek—ek is nie in staat om na die bergstreek te vlug nie, uit vrees dat rampspoed naby my sal bly en ek beslis sal sterf.” Waarom was Lot bang vir die bergstreek? Die Bybel sê nie. Wat die rede daarvoor ook al was, Lot het baie benoud gevoel. Hoe het God gereageer? Is Lot berispe omdat hy ’n gebrek aan geloof of vertroue in God gehad het? Nee. Inteendeel, Jehovah het Lot in aanmerking geneem en toegelaat dat hy na ’n nabygeleë stad vlug.—Genesis 19:18-22.

Daar is ander Bybelvoorbeelde van getroue aanbidders wat by tye baie angstig geraak het. Die profeet Elia het bang geword en weggehardloop nadat hy met die dood gedreig is (1 Konings 19:1-4). Moses, Hanna, Dawid, Habakuk, Paulus en ander manne en vroue van sterk geloof het ook kwelgedagtes uitgespreek (Eksodus 4:10; 1 Samuel 1:6; Psalm 55:5; Habakuk 1:2, 3; 2 Korintiërs 11:28). Nogtans het God medelye getoon en aangehou om hulle in sy diens te gebruik en sodoende getoon dat hy onvolmaakte mense werklik verstaan.

“Die sonde wat ons maklik verstrik”

Voortdurende kwelgedagtes kan ons egter uitput en ons vertroue in God ondermyn. Die apostel Paulus het na ’n gebrek aan geloof verwys as “die sonde wat ons maklik verstrik” (Hebreërs 12:1). Deur homself in te sluit, het Paulus waarskynlik erken dat hy self geneig was om “maklik verstrik” te raak deur swak geloof.

Dít was moontlik die geval met Sagaria toe hy nie die engel geglo het wat vir hom gesê het dat sy vrou swanger sou word nie. Weens hulle “kleingelowigheid” was dit by een geleentheid onmoontlik vir Jesus se apostels om iemand te genees. Nietemin het hierdie manne nog steeds God se goedkeuring geniet.—Matteus 17:18-20; Lukas 1:18, 20, 67; Johannes 17:26.

Aan die ander kant bevat die Bybel ook voorbeelde van mense wat hulle vertroue in God verloor het en die ernstige gevolge daarvan moes dra. Byvoorbeeld, baie van die Israeliete wat Egipte verlaat het, is weens hulle gebrek aan geloof verhinder om die Beloofde Land binne te gaan. Eenkeer het hulle selfs regstreeks teen God gepraat en gesê: “Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om in die wildernis te sterf? Want daar is geen brood en geen water nie.” As ’n teken van God se misnoeë is giftige slange gestuur om hulle te straf.—Numeri 21:5, 6.

Die inwoners van Jesus se tuisdorp Nasaret het weens hulle gebrek aan geloof die voorreg verbeur om te sien hoe verdere wonderwerke in hulle gebied gedoen word. Jesus het die goddelose geslag van daardie dag ook skerp veroordeel weens hulle gebrek aan geloof (Matteus 13:58; 17:17; Hebreërs 3:19). Die apostel Paulus het gepas gewaarsku: “Pas op, broers, dat daar nooit in enigeen van julle ’n goddelose hart met ’n gebrek aan geloof ontwikkel deurdat hy hom van die lewende God terugtrek nie.”—Hebreërs 3:12.

Ja, in uiterste gevalle kan ’n gebrek aan geloof uit ’n goddelose hart voortspruit. Maar dit was nie die geval met Sagaria en Jesus se apostels wat vroeër genoem is nie. Hulle gebrek aan geloof was as gevolg van tydelike swakheid. Hulle algemene lewenspatroon het getoon dat hulle “suiwer van hart” was.—Matteus 5:8.

God ken ons behoeftes

Die Skrif help ons om te onderskei tussen gewone kwelgedagtes en die gebrek aan geloof wat ’n sonde is. Daaglikse kwelgedagtes of selfs ’n tydelike gebrek aan geloof weens menslike swakheid moet nie verwar word met ’n totale gebrek aan vertroue in God wat uit ’n goddelose, onontvanklike hart voortspruit nie. Christene hoef dus nie deur skuldgevoelens geteister te word net omdat hulle van tyd tot tyd kwelgedagtes het nie.

Ons moet nogtans versigtig wees dat kwelgedagtes ons nie oorweldig en ons lewe oorheers nie. Ons kan derhalwe die wysheid van Jesus se woorde sien toe hy gesê het: “Moet julle dus nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie.” Daarna het hy die volgende vertroostende woorde gesê: “Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:25-33.

[Prent op bladsy 16]

Die apostel Paulus het kwelgedagtes gehad