Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Perfeksionisme Ek wil julle bedank vir die artikels “Jongmense vra . . . Waarom voel ek dat ek volmaak moet wees?” en “Hoe kan ek ophou om ’n perfeksionis te wees?” (22 Julie en 22 Augustus 2003). My obsessie om dinge volmaak te doen, het ’n las geword wat ek nie langer kon dra nie; dit het my van my vreugde ontneem. Ek het dit selfs vermy om by Christelike vergaderinge kommentaar te lewer omdat ek bang was dat ek ’n verkeerde antwoord sal gee. Ek is Jehovah innig dankbaar vir hierdie artikels. Dit help my om my negatiewe denke onder beheer te hou.

S. M., Italië

Die artikels is net wat ek nodig gehad het om my te help om ’n probleem wat ek al 50 jaar lank het, te oorkom. Ek het gedink dat daar niks mee verkeerd is om volmaak te probeer wees nie—dat ek Jehovah bloot my beste gee. Ek het gewonder waarom ek so dikwels probleme met my kinders, werksmaats en Christenbroers ondervind het. Ek besef nou dat van my beskouings ongebalanseerd is en nie met Jehovah se denke ooreenstem nie. Omdat ek “alte regverdig” was, het ek myself en ander benadeel (Prediker 7:16). Dit gaan nie maklik wees om hierdie probleem te oorkom nie, maar met Jehovah se hulp is ek bereid om te probeer.

C. H., Verenigde State

Die gedagte dat perfeksionisme daartoe kan lei dat ’n mens tot niks in staat is nie, is baie waar! Ek is al jare lank gefrustreerd en het nog altyd gewonder waarom ek nie die dinge kon regkry wat ek baie graag wou doen nie. En die gedagte in die artikel dat ’n mens nie vriende het nie—dit het dikwels gelyk asof niemand in my geselskap wou wees nie, maar ek kon dit nie verstaan nie. Nou weet ek dat ek ’n lang, moeilike stryd vorentoe het en dat Jehovah my sal help.

L. R., Verenigde State

Ek het jare lank met hierdie probleem geworstel en het altyd gevoel dat wat ek doen nie goed genoeg is nie. Ek voel so verlig dat ek nie die enigste een is wat met perfeksionisme worstel nie.

A. B., Kanada

My verstand sê vir my dat niemand volmaak kan wees nie, maar my gevoelens sê vir my iets anders. Dit het my werklik gehelp om te lees dat Jehovah nie volmaaktheid van ons verwag nie, maar dat dit wat in ons hart is, vir hom belangrik is. Baie dankie vir hierdie artikels.

S. K., Duitsland

’n Vrees vir mislukking het my al dikwels verhinder om op te tree. Ek het geleer dat perfeksionisme tot chroniese woede, pessimisme, depressie en ’n swak gevoel van eiewaarde lei. Ek het my probleem nog nie heeltemal opgelos nie, maar ek weet dat ek ’n sin vir humor wil ontwikkel sodat ek oor my foute kan lag.

A. I., Japan

Ek het verskriklike verstandelike spanning en angs ondervind. Ek het my verwyt en gesê: “Ek is niks werd nie.” Julle artikels het ’n positiewe beskouing van hierdie saak uiteengesit en was baie aanmoedigend. Die las wat swaar op my hart gedruk het—om volmaak te wil wees—het ligter geword. Die Skrif het my gehelp om my gesindheid te verander en ’n positiewer beskouing te ontwikkel.

M. N., Japan

St. Petersburg Ons sê dankie vir die artikel “St. Petersburg—Rusland se ‘venster op Europa’” (22 Augustus 2003). Gedurende ons wittebrood van twee weke kon ons self die geskiedkundige plekke in St. Petersburg besigtig. Ons besoek aan die takkantoor van Jehovah se Getuies, die Mariinski-teater, die Ermitage-staatsmuseum en Pieterhof het ’n onvergeetlike indruk op ons gemaak. Baie dankie vir hierdie artikel. Dit was ons gids tot hierdie indrukwekkende stad!

A. en O. S., Rusland