Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom is daar soveel eensame mense?

Waarom is daar soveel eensame mense?

Waarom is daar soveel eensame mense?

IN VANDAG se samelewing is baie mense eensaam. Mense van alle ouderdomme en van alle rasse, sosiale vlakke en gelowe word deur eensaamheid geraak. Was jy al ooit eensaam? Is jy nou eensaam? In werklikheid het ons almal al op die een of ander tydstip ’n behoefte aan geselskap gehad—aan iemand wat na ons luister en ons gerusstel of met wie ons moontlik ons diep gevoelens of gedagtes kan deel en wat ons as persoon verstaan. Ons het iemand nodig wat ons emosies in ag neem.

Maar om alleen te wees, beteken nie noodwendig dat ons eensaam is nie. ’n Mens kan lank alleen wees en die dinge geniet wat jy doen sonder dat jy enigsins eensaam voel. In teenstelling hiermee kan party dit nie verdra om alleen te wees nie. The American Heritage Dictionary sê: “Alleen beklemtoon dat ’n mens van ander afgesonder is, maar impliseer nie noodwendig ongelukkigheid nie. . . . Eensaam dui dikwels op ’n pynlike bewustheid dat ’n mens alleen is.”

Eensaamheid is ’n sterk gevoel en dit kan baie pyn veroorsaak. Dit is ’n gevoel van leegheid. ’n Mens voel afgesonder, asof jy van ander mense afgesny is. Ons kan kwesbaar en bang word. Het jy al ooit so gevoel? Wat gee aanleiding tot eensaamheid?

Mense het uiteenlopende reaksies op probleme, situasies en toestande. Jy voel moontlik dat jou portuurs jou weens jou fisiese voorkoms, ras of godsdiens verwerp. Veranderinge in jou omgewing—soos om na ’n nuwe skool toe te gaan, ’n nuwe werk te begin of na ’n nuwe buurt, stad of land te trek—kan ’n gevoel van eensaamheid meebring omdat jy ou vriende moet agterlaat. Die dood van ’n ouer of ’n huweliksmaat kan tot eensaamheid lei wat baie jare kan duur. En namate ons ouer word, verander, verklein of verdwyn ons kring van vriende en kennisse.

Die huwelik is nie altyd ’n waarborg dat ons nooit eensaam sal wees nie. Wedersydse misverstande of probleme met verenigbaarheid kan spanning veroorsaak wat ’n mens onseker kan laat voel en vir huweliksmaats en kinders selfs tot afsondering kan lei. Maar buiten eensaamheid weens die dood van ’n geliefde, egskeiding of fisiese of emosionele afsondering is daar ’n ander soort eensaamheid wat ons baie diep kan raak. Dit gebeur wanneer ons verhouding met God skade ly en ons van hom afgesonder voel.

Het jy al enige van die bogenoemde situasies ondervind? Is dit moontlik om eensaamheid die hoof te bied?

[Prente op bladsy 4]

Veranderinge in die lewe, van ’n nuwe skool tot die dood van ’n huweliksmaat, kan eensaamheid veroorsaak