Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer niemand ooit weer eensaam sal voel nie

Wanneer niemand ooit weer eensaam sal voel nie

Wanneer niemand ooit weer eensaam sal voel nie

TOE die eerste mens geskep is, het Jehovah God volgens die verslag in Genesis 2:18 gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen bly nie. Ek gaan vir hom ’n helper maak, as ’n komplement van hom.” Mense is geskep om saam met ander te wees en op hulle staat te maak.

Die beste Vriend wat ons kan hê, is Jehovah God. Die apostel Paulus erken dat Jehovah ‘die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting is, wat ons in al ons verdrukking vertroos’ (2 Korintiërs 1:3, 4). Jehovah is bedroef as enige van sy knegte ly. Hy is ’n God van empatie. “Hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:14). Voel jy nie aangetrokke tot Jehovah God en dankbaar vir sy liefdevolle, goedhartige en simpatieke sorg nie?

Jehovah ondersteun die eensames

In die verlede was baie van God se knegte in omstandighede wat hulle eensaam laat voel het. Jehovah was ’n bron van ondersteuning en vertroosting vir hulle. Dink byvoorbeeld aan Jeremia, wat as ’n jong man geroep is om ’n profeet te wees. Van die 40 Bybelskrywers het Jeremia moontlik die meeste omtrent sy persoonlike gevoelens gesê. Hy was skugter en het onbekwaam gevoel toe hy sy eerste toewysing van God gekry het (Jeremia 1:6). Hy moes ten volle op Jehovah vertrou om dit uit te voer. Jehovah was waarlik saam met hom “soos ’n verskriklike magtige”.—Jeremia 1:18, 19; 20:11.

Ongeveer 300 jaar voor Jeremia, toe koningin Isebel van die dood van haar Baälprofete gehoor het, het sy gesweer dat sy Elia sou laat doodmaak. Elia het ongeveer 450 kilometer ver na Horeb in die Sinai-skiereiland gevlug. Hy het in ’n grot ingegaan om daar te oornag, en Jehovah God het hom gevra: “Wat maak jy hier, Elia?” Elia het verduidelik dat dit gevoel het asof hy die enigste aanbidder van Jehovah in die hele Israel is, die enigste profeet wat nog ywerig is vir God se diens. Jehovah het hom verseker dat hy nie alleen was nie. Jehovah was met hom, en 7 000 van Elia se mede-Israeliete was ook met hom, hoewel hy nie van hulle geweet het nie. Jehovah het Elia vertroos en gerusgestel en sy geloof versterk. Hy het Elia se hart geraak en die profeet aangemoedig om nie sy toewysing te verlaat nie (1 Konings 19:4, 9-12, 15-18). As ons, soos Elia, ooit eensaam of waardeloos voel, kan ons ook tot Jehovah bid vir krag. Christen- ouer manne kan ook, deur onderskeidingsvermoë te gebruik, vertroostend met getroues praat en hulle sodoende help om te besef watter rol hulle in die verwesenliking van God se voorneme speel.—1 Tessalonisense 5:14.

Uit hierdie en ander voorbeelde kan ons sien dat Jehovah bereid is om diegene wat eensaam voel, te ondersteun en liefdevol te vertroos. Ja, “Jehovah sal ’n veilige hoogte vir die verbryselde word, ’n veilige hoogte in tye van benoudheid”.—Psalm 9:9; 46:1; Nahum 1:7.

’n Man met diep gevoelens en simpatie

Jesus Christus is ’n voorbeeld van iemand wat bewonder kan word omdat sy emosies, in navolging van Jehovah, in volmaakte ewewig is. Lukas beskryf Jesus se reaksie toe hy op ’n lykstoet in die stad Nain afgekom het: “Daar [is] ’n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder. . . . Toe die Here haar sien, is hy ontroer deur innige jammerte vir haar, en hy het vir haar gesê: ‘Hou op huil.’ Daarop het hy nader gegaan en die baar aangeraak, en die draers het gaan staan, en hy het gesê: ‘Jong man, ek sê vir jou: Staan op!’ En die dooie man het regop gaan sit en begin praat, en hy het hom aan sy moeder gegee” (Lukas 7:12-15). Jesus was ontroer. Hy was ’n medelydende man. Dink net hoe gelukkig Jesus die eensame weduwee gemaak het toe hy haar seun aan haar teruggegee het! Sy was nie meer eensaam nie.

Ons kan seker wees dat Jesus “met ons swakhede kan simpatiseer”. Hy simpatiseer beslis met regskapenes wat eensaam is. Trouens, deur hom ‘kan ons barmhartigheid verkry en onverdiende goedhartigheid vind vir hulp op die regte tyd’ (Hebreërs 4:15, 16). Deur Jesus na te boots, kan ons simpatie aankweek vir diegene wat droefheid, beproewinge en eensaamheid ondervind. As ons ander help, is dit minder waarskynlik dat ons eensaam sal wees. Maar daar is nog ’n manier waarop ons hulp kan kry om die negatiewe gevoelens van eensaamheid te bowe te kom.

Jehovah se Woord kan ons help om eensaamheid te bowe te kom

Baie het gevind dat ons “deur die vertroosting van die Skrif hoop [het]”. In God se Woord is daar baie praktiese raad wat ons kan help om eensaamheid te bowe te kom (Romeine 15:4; Psalm 32:8). God se Woord spoor ons byvoorbeeld aan ‘om nie meer van onsself te dink as wat dit nodig is om te dink nie’ (Romeine 12:3). Om hierdie raad toe te pas, moet ons dalk ons denkwyse verander. Nederigheid en beskeidenheid—om ’n realistiese beskouing van ons beperkings te hê—sal ons beslis help om gebalanseerde en redelike verwagtinge te hê. God se Woord maan ons ook om opregte persoonlike belangstelling in ander aan te kweek (Filippense 2:4). Dit is ’n tweerigtingpad. Wanneer jy van jouself gee, sal jy van ander ontvang. Hierdie heilsame omgang help om gevoelens van leegheid te verlig en gee betekenis aan ons lewe.

Die Bybel moedig ons as Christene aan om ‘nie ons onderlinge vergadering na te laat nie’ (Hebreërs 10:24, 25). Neem dus deel aan positiewe bedrywighede, soos om vergaderinge van Jehovah se Getuies gereeld by te woon. Christelike vergaderinge kan ongetwyfeld tot ons geestelike, emosionele en fisiese welsyn bydra. Om met ander oor die goeie nuus van God se Koninkryk te praat, is ’n genotvolle manier om ons lewe met heilsame bedrywighede te vul. Dit hou ons gedagtes op die regte dinge gerig, versterk ons geloof en beskerm ons hoop.—Efesiërs 6:14-17.

Kom nader aan Jehovah deur gebed. Dawid het ons aangespoor: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag” (Psalm 55:22). As jy God se Woord bestudeer, sal jy gelukkig wees (Psalm 1:1-3). Peins oor Jehovah se liefdevolle sorg soos dit in sy Woord geopenbaar word wanneer gevoelens van eensaamheid jou oorweldig. Die psalmis het geskryf: “My siel het aan die stof gekleef. Hou my in die lewe volgens u woord.”—Psalm 119:25.

Wanneer niemand sal sê: “Ek is eensaam” nie

Jehovah God het ons ’n nuwe wêreld sonder bekommernisse, frustrasies en negatiewe gevoelens belowe. Die Bybel sê: “Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Ja, van die vorige dinge wat sal verbygaan, is die fisiese, verstandelike en emosionele pyn wat ons vandag ondervind.

Die aarde sal vol vriendelike mense wees wat ons lewe sal verryk. Jehovah sal ons vir ewig van ons eensaamheid verlos deur middel van sy hemelse Koninkryk in die hande van Jesus Christus. Hy sal ons nuwe en wonderlike dinge gee om in ’n aardse paradys te doen. Die dag sal binnekort aanbreek wanneer ons nooit weer sal sê: “Ek is eensaam” nie.

[Prent op bladsy 8, 9]

Met Jehovah se ondersteuning sal ons nie eensaam voel nie, al is ons alleen

[Prente op bladsy 10]

Wat leer ons uit die Bybelverslae oor Jeremia en Elia?