Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Concorde word deel van die lugvaartgeskiedenis

Die Concorde word deel van die lugvaartgeskiedenis

Die Concorde word deel van die lugvaartgeskiedenis

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK

Ná 27 jaar se diens het die Concorde—“die wêreld se enigste supersoniese passasiersvliegtuig”—uit diens getree. British Airways het in Oktober 2003 die laaste van sy vloot van sewe Concordes aan kommersiële diens onttrek en stygende bedryfskoste en ’n afname in die aantal passasiers as rede hiervoor aangevoer. Vyf maande vroeër het Air France, die enigste ander lugredery wat gebruik gemaak het van hierdie vliegtuig, met sy kenmerkende deltavlerk, vlugte met sy vyf vliegtuie gestaak.

Dit was die einde van ’n hoofstuk in die lugvaartgeskiedenis wat in 1962 begin het toe Britse en Franse ingenieurs saam ’n langafstand- supersoniese vliegtuig ontwikkel het. Die prototipes het in 1969 vir die eerste keer gevlieg, en kommersiële supersoniese vervoer het in Januarie 1976 ’n werklikheid geword, met vlugte na Bahrein en Rio de Janeiro.

Die Concorde was dalk ’n tegnologiese sukses, maar dit was ’n kommersiële mislukking. Die oliekrisisse van die 1970’s was ’n groot terugslag, aangesien die vliegtuig meer as 25- 600 liter brandstof per uur gebruik—drie keer soveel per passasier as ’n gewone vliegtuig. Die Concorde was ook beperk omdat dit ’n vliegafstand van net 6 900 kilometer gehad het en min passasiers kon dra—net 100. Dit was dus nie vir die lugrederye winsgewend nie. Nog ’n struikelblok vir die Concorde se gebruik was die teenkanting wat aanvanklik in die Verenigde State ontstaan het, glo weens bekommernisse oor geraas.

Die prys was ’n ander probleem. Kaartjies het derduisende rande gekos. Betreklik min passasiers kon dit dus bekostig om met die Concorde te vlieg. Met sy cordon bleu-spyskaart van sjampanje, ganslewer en kaviaar was die Concorde “die beste reiservaring wat enigiemand kon hê”, het een sakeman gesê. “Dit het jou die grootste luukse gegee, naamlik tyd. Dit was nie die gemaklikste vlug nie. Maar dit was die ongelooflikste gevoel.”

Vinniger as die son?

Gedurende sy loopbaan het die Concorde byna viermiljoen passasiers vervoer—nie juis baie mense nie as jy dink dat die wêreld se vloot Boeing 747’s binne net ’n paar weke soveel passasiers vervoer. Waarom was die Concorde dan so ’n merkwaardige vliegtuig?

Dink hieraan: Die Concorde het teen ’n snelheid van 2 150 kilometer per uur gevlieg—twee keer die snelheid van klank—en op ’n hoogte van 18 000 meter. Dit het so vinnig beweeg dat die 62 meter lange vliegtuig tot 24 sentimeter gerek het weens die hitte wat as gevolg van wrywing tydens die vlug ontstaan het. ’n Vlug van Parys na New York in die Concorde het gewoonlik net 3 uur en 55 minute geduur, wat amper die helfte van die gewone vlugtyd is. Die vlug was so vinnig dat passasiers wat wes gevlieg het, gevind het dat hulle weens die tydsverskil vroeër in New York aangekom het as wat dit was toe hulle uit Parys vertrek het!

Gedurende die Concorde se loopbaan was daar slegs een noodlottige ongeluk. Op 25 Julie 2000 het ’n vliegtuig van Air France by die Charles de Gaulle-lughawe in Parys neergestort terwyl dit opgestyg het, en 113 mense, insluitende 4 op die grond, is dood. Ná verskeie veiligheidsveranderinge is vlugte ’n jaar later hervat. Maar ekonomiese oorwegings het uiteindelik sy ondergang beteken.

Die Concorde, wat nie ’n mededinger of ’n opvolger gehad het nie, sal sy welverdiende aftrede in die wêreld se lugvaartmuseums deurbring. Jean-Cyril Spinetta, voorsitter van Air France, sê: “Die Concorde sal nooit regtig ophou vlieg nie, want dit sal in mense se verbeelding voortleef.”

[Prente op bladsy 26]

Bo: Sjampanje word bedien

Middel: Hoofvlieënier in die stuurkajuit

Onder: Concorde-prototipe, Frankryk, 1968

[Erkenning]

Alle foto’s behalwe prototipe: NewsCast; prototipe: AFP/Getty Images