Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die “juweel van die see”

Die “juweel van die see”

Die “juweel van die see”

Kristalwiere, mikroskopiese alge wat hulle in pragtige glasdoppe met ingewikkelde patrone omhul, word in groot getalle in elke oseaan op die aarde aangetref. Hulle fassineer wetenskaplikes al eeue lank—in werklikheid vandat die mikroskoop uitgevind is en mense die prag van hulle glasomhulsels kon skets. Die kristalwier word met reg die juweel van die see genoem.

Alfred Nobel, die uitvinder van dinamiet in die 1860’s, het silika wat van kristalwiere afkomstig is, gebruik om nitrogliserien te stabiliseer, wat hom in staat gestel het om vervoerbare dinamietkerse te maak. Versteende kristalwierdoppe word vandag in baie handelsprodukte gebruik—byvoorbeeld om glans aan padverf te gee, wyn te suiwer en swembadwater te filtreer.

Maar baie belangriker is die feit dat hierdie klein eensellige plante verantwoordelik is vir ’n kwart van die fotosintese wat op ons planeet plaasvind. Die navorsers Allen Milligan en Francois Morel, van die Universiteit van Princeton, VSA, het ontdek dat silika in die kristalwier se glasdop chemiese veranderinge in die water binne-in die dop veroorsaak, wat ’n ideale omgewing vir fotosintese skep. Wetenskaplikes meen dat die glasdoppe sulke ingewikkelde patrone het omdat ’n groter oppervlak aan die water in die sel blootgestel word, wat fotosintese doeltreffender maak. Presies hoe hierdie piepklein maar pragtige doppies gevorm word uit silikon wat in seewater opgelos is, is nog steeds ’n raaisel, maar wat navorsers wel weet, is dat kristalwiere, deurdat hulle koolsuurgas opneem en suurstof vrystel, ’n lewensbelangrike rol in die onderhouding van lewe op die aarde speel, dalk selfs belangriker as die meeste landplante.

Volgens Morel is kristalwiere “van die suksesvolste organismes op die aarde”. Milligan voeg by dat “die kweekhuiseffek baie erger sou gewees het” as kristalwiere nie koolsuurgas opgeneem het nie.

Wanneer kristalwiere doodgaan, sink hulle koolstofskelette na die seebodem waar dit uiteindelik versteen. Party wetenskaplikes meen dat kristalwiere in hierdie vorm, onder uiterste druk, tot die wêreld se oliereserwes bygedra het. Maar daar bestaan al hoe meer kommer dat die styging van seewatertemperatuur weens aardverwarming dit vir bakterieë moontlik maak om die kristalwierskelette te eet voordat dit kan sink, en sodoende word koolstof weer in die oppervlakwater vrygestel. Selfs hierdie piepklein “juweel van die see” maak dus deel uit van ’n wonderlik ontwerpte lewensonderhoudende stelsel wat nou moontlik in gevaar is.

[Foto-erkenning op bladsy 31]

© Dr. Stanley Flegler/Visuals Unlimited