Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ek keer dat my kêrel my mishandel?

Hoe kan ek keer dat my kêrel my mishandel?

Jongmense vra . . . 

Hoe kan ek keer dat my kêrel my mishandel?

“My kêrel het my vandag vir die eerste keer geslaan. Hy het om verskoning gevra, maar ek weet nie wat om nou te doen nie.”—Stella. a

“ONGEVEER 1 uit elke 5 vroulike studente”, sê ’n artikel in The Journal of the American Medical Association, “het gesê dat hulle fisies en/of seksueel mishandel is deur iemand met wie hulle uitgegaan het.” Volgens ’n opname wat in Duitsland onder jongmense tussen die ouderdomme van 17 en 20 gedoen is, het meer as ’n kwart van die meisies gesê dat hulle aan ongewenste seksuele kontak blootgestel is waarby fisiese geweld, mondelinge druk, dwelms of alkohol betrokke was. Volgens ’n opname in die VSA het 40 persent van die tieners wat ondervra is, gesien hoe klasmaats “iemand met wie hulle uitgaan, op ’n kwetsende manier beledig”. b

Is jy ’n jong volwassene wat daaraan dink om met iemand te trou wat jou beledig, op jou skreeu of jou verkleineer, stoot, stamp of klap? ’n Vorige artikel in hierdie reeks het getoon dat dit kommerwekkend is om te sien hoe algemeen sulke mishandeling is. c Dit het verder getoon dat Jehovah God nie smadende taal of mishandeling goedkeur nie en dat slagoffers nie moet aanvaar dat sulke wangedrag normaal of hulle skuld is nie (Efesiërs 4:31). Nogtans is dit nie maklik om te weet wat om in so ’n situasie te doen nie. Jy het dalk nog steeds sterk gevoelens vir jou kêrel—ten spyte van sy gedrag. Of nog erger, miskien vrees jy sy reaksie as jy hom kritiseer. Wat moet jy doen?

Verkry ’n objektiewe beskouing

Eerstens moet jy kalmeer en ’n objektiewe beskouing verkry van wat gebeur het (Prediker 2:14). Is jy regtig die slagoffer van mondelinge mishandeling? Het jou kêrel jou opsetlik beledig? Of het hy bloot ‘onnadenkend gepraat’? (Spreuke 12:18). Hoe dikwels het dit gebeur? Is dit ’n eenmalige fout wat jy eenvoudig kan oorsien? Of maak hy ’n gewoonte daarvan om jou te verkleineer of te beledig?

As jy onseker is hieroor, moet jy met iemand daaroor praat—nie met een van jou portuurs nie, maar met iemand wat ouer en verstandiger is as jy. Miskien kan jy jou ouers of ’n ryp mede-Christen in jou vertroue neem. Sulke besprekings kan jou help om vas te stel of jy oorreageer—en of ’n ernstige probleem wel bestaan.

As dit veilig lyk om dit te doen, moet jy reël om met jou kêrel te praat (Spreuke 25:9). Sê op ’n kalm manier vir hom hoe sy gedrag jou laat voel. Wees spesifiek wanneer jy vir hom sê waaroor jy seergemaak voel. Sê baie duidelik wat vir jou onaanvaarbaar is. Hoe reageer hy? Steur hy hom nie aan wat jy sê nie, of maak hy hom aan verdere skeltaal skuldig? Dit is ’n duidelike teken dat hy nie bereid is om te verander nie.

Maar sê nou hy toon godvrugtige nederigheid en ware berou? Dan kan die verhouding moontlik gered word. Maar wees versigtig! Mense wat hulle aan skeltaal skuldig maak, laat dit dikwels klink asof hulle baie jammer is nadat hulle iemand seergemaak het—maar wanneer hulle kwaad word, raak hulle net weer beledigend. Die tyd sal leer hoe opreg hy daaromtrent is om veranderinge aan te bring. ’n Goeie aanduiding van hoe ernstig hy is, is sy gewilligheid om Christen- ouer manne se hulp te vra.—Jakobus 5:14-16.

Onthou dat ‘almal gesondig het en te kort skiet aan die heerlikheid van God’ (Romeine 3:23). Jy sal nooit iemand kry wat volmaak is nie. Alle egpare sal ’n mate van “verdrukking in hulle vlees” ondervind as gevolg van onvolmaaktheid (1 Korintiërs 7:28). Uiteindelik sal jy moet besluit of jy tevrede sal wees om met sy tekortkominge saam te leef. Dit sal weer eens die veiligste wees as jy tyd laat verbygaan voordat jy hierdie besluit neem.

In die geval van geweld

Dit is egter ’n ander saak as die smadende taal met ’n gevloek of dreigemente van geweld gepaardgaan of as jy fisies mishandel word—miskien deur gestoot, gestamp of geklap te word. Dit is ’n aanduiding van ’n gevaarlike gebrek aan selfbeheersing; dit kan maklik tot selfs ernstiger gewelddade lei.

Dit is beter as ongetroude paartjies hulle in die eerste plek nie afsonder nie. Maar as jy wel om die een of ander rede alleen saam met ’n woedende man is, moet jy nie “kwaad vir kwaad vergeld” nie (Romeine 12:17). Onthou: “’n Sagte antwoord keer woede af, maar ’n woord wat pyn veroorsaak, laat toorn opkom” (Spreuke 15:1). Bly kalm. Vra hom om jou huis toe te neem. As dit nodig is, moet jy wegstap—of weghardloop!

Sê nou ’n man probeer ’n vrou dwing om aan seksuele dade deel te neem. Dit is natuurlik verstandig as ’n paartjie van die begin van hulle hofmakery af duidelike beperkings op hulle liefdesblyke stel (1 Tessalonisense 4:3-5). As ’n jong man druk op ’n meisie plaas om Bybelbeginsels te skend, moet sy hom baie duidelik laat verstaan dat sy nie haar beginsels sal prysgee nie (Genesis 39:7-13). “Moenie toegee nie”, pleit Anne, wat voor sulke seksuele druk geswig het. “Respekteer jouself. Moet asseblief nie hierdie fout maak nie, ongeag hoe lief jy hom het!” As hy nie na jou luister nie, moet jy vir hom sê dat jy enige verdere pogings as verkragting sal beskou. As hy nog steeds nie ophou nie, moet jy om hulp roep en weerstand bied soos jy met enige verkragter sal doen. d

In albei gevalle is die Bybel se raad in Spreuke 22:24 gepas: “Moenie omgaan met iemand wat gou toornig word nie; en by ’n man wat woedebuie het, moet jy nie ingaan nie.” Jy is onder geen verpligting om in ’n verhouding te bly waarin jy mishandel word nie. Dit sal natuurlik onverstandig wees om ’n man wat jou mishandel, alleen te ontmoet om vir hom te sê dat jy die verhouding wil beëindig. Dit sal waarskynlik die beste wees om jou ouers te vertel wat gebeur het. Hulle sal natuurlik kwaad en ontsteld wees omdat jy mishandel is. Maar hulle kan jou help om te besluit watter verdere stappe geneem moet word. e

Moet jy hom probeer verander?

Hoe dit ook al sy, dit is nie jou verantwoordelikheid om te sorg dat jou kêrel verander nie. Irena erken: “Jy dink dat jy hom liefhet, dat jy dit sal kan hanteer en dat jy hom kan help. Maar jy kan eenvoudig nie.” Nadine erken ook: “Ek bly dink dat ek hom kan verander.” Die feit is dat net hy sy ‘verstand kan hervorm’ en kan verander (Romeine 12:2). En dit sal ’n lang en moeilike proses wees.

Jy moet dus by jou besluit bly en jou ore sluit vir enige pogings wat hy dalk sal aanwend om op jou gevoel te speel. Probeer om jou emosioneel aan hom te onttrek en sover moontlik van hom af weg te bly. Moenie toelaat dat hy jou ompraat om weer ’n verhouding met hom aan te knoop nie, al smeek of dreig hy jou. Toe Irena haar verhouding met haar gewelddadige kêrel beëindig het, het hy gedreig om selfmoord te pleeg. So iemand het beslis hulp nodig, maar nie jou hulp nie. Die beste manier waarop jy hom kan help, is deur ’n standpunt teen onchristelike gedrag in te neem. As hy wil verander, staan dit hom vry om hulp te soek.

Maar party dink dat die huwelik die probleem sal oplos. Een navorser sê: “Mense wat trou met iemand wat hulle mishandel, is gewoonlik verbaas om uit te vind dat die geweld nie ophou nie. Baie mense glo die mite dat al hierdie probleme sal verdwyn sodra die huwelikslisensie geteken is. Moet dit nie glo nie.” Die feit is dat fisiese mishandeling wat tydens hofmakery begin, heel waarskynlik ná die huwelik sal voortgaan.

“Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het”, sê die Bybel (Spreuke 22:3). Dit is moeilik om ’n verhouding te beëindig met iemand vir wie jy omgee. Maar dit is baie erger om in ’n huwelik vasgevang te wees waarin jy mishandel word. Buitendien hoef jy nie bang te wees dat jy nooit ’n geskikte maat sal vind nie. Met die insig wat jy verkry het, sal jy meer geneig wees om na ’n saggeaarde, goedhartige persoon met selfbeheersing te soek.

Hoe om die emosionele letsels te genees

Dit kan ’n mens verpletter as jy ’n slagoffer van mondelinge of fisiese mishandeling is. ’n Slagoffer genaamd Maria stel voor: “Kry hulp—vertel iemand onmiddellik daarvan. Ek het gedink dat ek op my eie daardeur kan kom, maar om met mense daaroor te praat, het my gehelp.” Neem jou ouers, ’n vertroude volwasse vriend of ’n Christen- ouer man in jou vertroue. f

Party het dit ook nuttig gevind om besig te bly met bedrywighede soos om opbouende boeke te lees, aan sport deel te neem of ’n stokperdjie te beoefen. “Die belangrikste”, vertel Irena, “is om die Bybel te bestudeer en Christelike vergaderinge by te woon.”

Dit is duidelik dat Jehovah nie mondelinge of fisiese mishandeling goedkeur nie. Met sy hulp kan jy jou teen mishandeling beskerm.

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b Hoewel mans sowel as vroue slagoffers van mondelinge en fisiese mishandeling kan wees, sê die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming dat “vroue aansienlik meer beserings opdoen as mans”. Hoe dit ook al sy, ons sal ter wille van eenvoud in hierdie artikel na die een wat hom aan mishandeling skuldig maak, as manlik verwys.

c Sien die artikel “Jongmense vra . . . Waarom behandel hy my so sleg?” in die Ontwaak! van 22 Mei 2004.

d Sien die Ontwaak! van 8 Maart 1993 vir inligting oor hoe om verkragting te voorkom.

e In sommige gevalle, soos as hy jou probeer verkrag het, sal jou ouers dalk besluit om die saak by die polisie aan te meld. Dit kan verhoed dat ander meisies dieselfde pynlike ondervinding deurmaak.

f In gevalle van trauma besluit party dalk om deur ’n geneesheer of geregistreerde geestesgesondheidswerker behandel te word.

[Prent op bladsy 24]

Mishandeling tydens hofmakery sal heel waarskynlik ná die huwelik voortgaan

[Prent op bladsy 25]

Moenie ongepaste liefdesblyke toelaat nie