Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hy het die aarde met ’n stok gemeet

Hy het die aarde met ’n stok gemeet

Hy het die aarde met ’n stok gemeet

HET jy al ooit van die Griekse wiskundige en sterrekundige Eratostenes gehoor? Sy naam is waarskynlik die bekendste onder sterrekundiges. Waarom het hulle soveel agting vir hom?

Eratostenes is omstreeks 276 v.G.J. gebore en het van sy opleiding in Atene, Griekeland, gekry. Maar hy het ’n groot deel van sy lewe in Aleksandrië, Egipte, deurgebring, wat destyds onder Griekse bewind was. In omstreeks 200 v.G.J. het Eratostenes onderneem om die omtrek van die aarde met behulp van ’n eenvoudige stok te bepaal. ‘Onmoontlik!’ sê jy dalk. Hoe het hy dit gedoen?

In die stad Siëne (wat nou Aswan genoem word) het Eratostenes waargeneem dat die son om twaalfuur op die eerste dag van die somer reg bo hom was. Hy het dit geweet omdat daar nie ’n skaduwee gegooi is wanneer sonlig die bodem van diep putte bereik het nie. Maar om twaalfuur op dieselfde dag in die stad Aleksandrië, wat 5 000 stadie a noord van Siëne geleë was, kon ’n skaduwee gesien word. Dit het Eratostenes ’n idee gegee.

Eratostenes het ’n gnomon, ’n eenvoudige regop stok, opgestel. Toe die son om twaalfuur reg bo hom was, het hy die hoek gemeet van die skaduwee wat die stok in Aleksandrië gegooi het. Hy het vasgestel dat dit ’n hoek van 7,2 grade met die vertikaal gevorm het.

Eratostenes het geglo dat die aarde bolvormig is, en hy het geweet dat daar 360 grade in ’n sirkel is. Hy het dus 360 gedeel deur 7,2, die hoek wat hy gemeet het. Wat was die resultaat? Sy hoek was een vyftigste van ’n volle sirkel. Hieruit het hy afgelei dat die afstand van Siëne na Aleksandrië, of 5 000 stadie, gelyk moet wees aan een vyftigste van die omtrek van die aarde. Eratostenes het die omtrek van die aarde bereken deur 50 met 5 000 te vermenigvuldig en het by 250- 000 stadie uitgekom.

Hoe vergelyk sy syfer met hedendaagse berekenings? In hedendaagse mate is 250 000 stadie gelyk aan tussen 40 000 en 46 000 kilometer. Sterrekundiges het die aarde se poolomtrek gemeet met behulp van ruimtetuie wat in ’n wentelbaan om die aarde beweeg en het by 40 008 kilometer uitgekom. Meer as 2 000 jaar gelede het Eratostenes se berekening dus verbasend na aan die hedendaagse berekening gekom. Sy akkuraatheid is nog merkwaardiger as ’n mens in ag neem dat hy net ’n stok en meetkunde gebruik het! Hedendaagse sterrekundiges gebruik hierdie meetkundige metode as ’n grondslag om afstande buite ons sonnestelsel te meet.

Die feit dat Eratostenes geweet het dat die aarde rond is, is moontlik vir party mense besonder merkwaardig, veral as ’n mens in ag neem dat party slim manne wat by die wetenskap betrokke was, net ’n paar honderd jaar gelede nog geglo het dat die aarde plat is. Die Grieke van die ou tyd het uit hulle wetenskaplike waarnemings afgelei wat die vorm van die aarde is. Maar ongeveer 500 jaar voor Eratostenes is ’n Hebreeuse profeet geïnspireer om te skryf: “Daar is Een [God] wat bo die kring van die aarde woon” (Jesaja 40:22). Jesaja was nie ’n wetenskaplike nie. Hoe het hy geweet dat die aarde rond is? Hierdie waarheid is deur goddelike inspirasie aan hom geopenbaar.

[Voetnoot]

a ’n Stadie was ’n Griekse lengtemaat. Hoewel die presiese waarde van plek tot plek verskil het, was een stadie vermoedelik sowat 160 tot 185 meter.

[Diagram op bladsy 13]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Sonstraal

Siëne

7,2°

Aleksandrië

7,2°